Van der Post Gastehuis, Philippolis, Suid-Afrika Werk- en studeergeriewe vir akademici en kunstenaars Sir Laurens Jan van der Post
In 2002 is die Van der Post Gastehuis, vernoem na wyle sir Jan Laurens van der Post, in gebruik geneem. Naspers-joernalis, inisiatiefnemer en mede-eienaar Jens Friis van Philippolis het aan Die Roepstem die onderstaande bydrae beskikbaar gestel om meer inligting te verskaf omtrent hierdie besonderse selfsorgeenheid wat met sy kostelose biblioteke, studieruimtes, kunste-ateljees, Van der Postmuseum en loseergeriewe die Afrikaanse kunstenaars, akademici en leergieriges se werk en studeer vergemaklik. Jens Friis skryf: Die Van der Post Gastehuis / Artist Retreat is 'n goed toegeruste selfsorgeenheid wat in 2002 in gebruik geneem is. Dit is beskikbaar as gastehuis vir die publiek as kunstenaars, akademici, sangers, skrywers ... nie hier arbei nie. Bekendes wat al al aangedoen / oorgebly het is Christina Landman, Coenie de Villiers, Gillian van Houten, Johan Rossouw, Mangosutho Buthelezi, Pieter Fourie, Ruda Landman … Langs die Artist Retreat is etes beskikbaar met afspraak in die Van der Post Restaurant en Teetuin. Maak ook 'n draai by die museum met sir Laurens se boekery, lessenaar en ander persoonlike besittings. In 'n gedenktuin is Van der Post se as begrawe.
Die meriete
van die aansoek word dan aan die hand van hoofsaaklik bogenoemde
faktore oorweeg. Die klem val daarop dat die Artist Retreat
gebruik moet word en dat dit ook 'n oord wil bied vir belowende
skrywers, kunstenaars, akademici ... - nie net vir bekende name
nie, alhoewel diegene net so welkom is. Om uitgawes
te help dek word die Artist Retreat as gastehuis gebruik as
kunstenaars nie daar tuisgaan nie. Kontak die Van der Postgastehuis gerus by: (Adv.) Jens Friis +27 (0)84 58 101 49 |
"Om sterre te pluk" in die suidwes-Vrystaat |
Daar word gehoop dat 'n kunstenaarshuis op Philippolis tuiste sal word vir 'n geïnspireerde stortvloed kreatiwiteit. Tot watter mate beïnvloed konteks sienswyses, vra JENS FRIIS. "ALLE beskawings het sy vlermuise nodig - nie net tortels en poue nie," merk Pieter Fourie op met die opening van die Laurens van der Post-kunstenaarshuis en -museum op Philippolis. Vir hom is Van der Post dié "oer-vlermuis van Afrika". "Die bate is die ware kunstenaar - die ruggraat van die gemeenskap," sê hy. "Dis nie mooi om na te kyk nie, maar wel essensieel in elke samelewing. Dit beweeg met 'n sensitiewe radarstelsel - 'n nie-lekker geluid om na te luister, maar gee nogtans die rigting aan wanneer om uit te swaai. Die vlermuis - nes die kokkerot - sal altyd wees." "Maar," vra Fourie pyp in die hand, "waarom lewer die platteland so 'n ryke, magdom vlermuise?" Hy wys op 'n "driehoek van skeppende gees" in die suidwes-Vrystaat, sy "wortelwêreld". Van hier is ook Laurens van der Post (Philippolis), Etienne le Roux (Koffiefontein), Karel Schoeman (Trompsburg), Dolf van Niekerk (Edenburg), Taubie Kushlick (Luckhoff), André Huguenet (Petrusburg) ... Wat vorm die magic binne hierdie Bermuda-driehoek? "Lewe op sulke klein dorpies is die mees geïntensifiseerde vorm van lewe," antwoord hy. "As iemand in Johannesburg doodgery word, voel jy sleg, maar vergeet dit. As dit hiér gebeur ken jy sy verlede én toekoms. Dit maak dinge los in 'n sensitiewe, maar ook gewone gees - ook in dié van die onderdorpers. Goddank dat dit só is en met jou gebeur. Jy word gevorm. Omvorm. Mettertyd ontvorm jy jouself deur jou los te maak van die kudde. Dis 'n alleenpad om só te delf - ook wég van wat baie na aan jou is totdat jy later onderstebo na die wêreld kyk nes die bat." Van der Post sou waarskynlik sy kop instemmend geknik het. In Flamingo Feather skryf hy dat eindpunte blote wegspringplekke word. Dit gaan nóg oor 'n reis per voet nóg per trein, opper hy in The Dark Eye in Africa, maar "from one state of being to another, a journey of becoming ..." Dit is oor die verre reis waarvan Yu Ching gesê het: "The land that is nowhere, that is the true home." Hierop brei hy uit in The Hunter and the Whale: "I had not yet learnt the futility of trying to get rid of my problems by changing the location in which they were inflicted on me." Sy dogter, Lucia Crichton-Miller, stel dit só: "Ons is almal op pad. Die hele lewe is maar 'n reis om die perfekte vraag te beantwoord." "En selfs kleivoete tráp 'n spoor," sê Fourie. Crichton-Miller meen dit maak nie saak dat al die feite wat haar pa opgeteken het blykbaar nie klop nie. "Hy sal voortleef in sy werke solank as wat die mens kan lees, want dit gaan oor blywende waarhede ..." Net so ken ek menige een wat hul bedenkinge het oor Bybelverhale, maar dié Boek steeds as lewensriglyn inspan. Nietemin is dit nie 'n regverdiging dat 'n antropoloog tot reisskrywer feitefoute rond en bont mag maak nie. Dit was Pablo Picasso wat eens gesê het: "Ons weet dat kuns nie die waarheid is nie. Kuns is 'n leuen wat ons help om die waarheid bloot te lê - of ten minste "die waarheid wat vir ons gegee word om te verstaan." Crichton-Miller ontvang nog daagliks briewe van oor die wêreld heen waarin dankbares getuig hoe haar pa die groot waardes van menswees vir hul as moderne wesens ontsluit het. Wáár het wat gebeur dat Van der Post die bekendste boorling sou word van my geboortedorp, Philippolis? Dié katalisator-vraag stel Fanie Olivier in sy gedig, "oor drome" so: "het hy op die kop met die kanonne as kind / daarvan kon droom? of in die kerk se skaduwee? / en oor die baie jare, hoeveel naelstringe / moes hy knip om los te kom tot hiertoe, hiervandaan?"
Na sy geboorteplek het Laurens nostalgies verwys as "the Interior of Africa, a thousand miles from anywhere." "Ek het vir die eerste keer met Philippolis kennis gemaak in sy boeke," sê Crichton-Miller. "Venture to the Interior was 'n gunsteling. As stadskind het ek gesmag om ook te woon in 'n groot, koel huis met hoë plafonne, ou Hollandse olieskilderye en 'n skaduryke tuin met vrugtebome en 'n dam om in te swem." Vader Van der Post was die plaaslike prokureur in die dae nadat Philippolis sy sendelingstatus afgeskud het en die Griekwas pad gegee het na Kokstad. Op die Van der Posts se erf was die dorp se eerste tennisbaan; in hul huis die eerste biljartkamer. As daar saans nie om die klavier bymekaar gekom is nie, is hier 'n bal gehou of 'n debataand. Die West End-stukke, afgerig deur Laurens se moeder, is selfs in buurdorpe opgevoer. Die dokter langsaan het Charles Dickens-manuskripte versamel. Nee, Laurens het nie grootgeword as 'n kaalvoet skaapboerkind nie, maar so ook nie sy vyftien broers en susters. Hul was uit dieselfde huis en het nogtans nie dieselfde aansien verwerf nie. Het die mantel bloot net eenvoudig gunstig vir Laurens, die uitverkorene, geval? Of dalk gaan dit daaroor dat jy nie met modder of roet moet speel nie . Jy word aan jou vriende (Margaret Thatcher, prins Charles ...) geken. Iets van dié gedagtegang is ook te vind in feng shui - die studie van die effek van ons omgewing op die onderbewussyn. Pieter Fourie vertel dat daar destyds Italianers trappe vir die skoolsaal gebou het. "Met 'n troffel in die hand het hul opera-arias gesing. "Nes 'n spul hotnots op 'n Vrydagaand!" was sy Afrikaans-onderwyser se geïrriteerde reaksie. Maar in die Skeinat-klas het oom Jan Luther gesê: "Sit jul pipette neer. Luister! Dis kultuur." En hy het vir ons vertel van Milaan en La Scala ... "Dis dan wanneer dit begin spoel en beweeg in jou ..." Soos hul sê: groot geeste bespreek idees, normale mense dinge en ordinêre wesens ander siele. Net so waar: 'n Enkele vlammetjie kan baie lig gee as dit kerse aansteek. Tog kan samehang ook lewensuitkyke negatief beïnvloed. Dekonstruktief is dit as 'n tiener moet swig onder groepsdruk. Tot watter mate beïnvloed konteks ons soeke na God? Is omgewingsfaktore 'n vername rede vir hoë misdaadsyfers? Die vrae is meer as die antwoorde. Waaroor nie 'n vraagteken hang nie is dat die verband tussen ons denke en omgewing nié 'n statiese verhouding is nie. Dit is 'n dinamiese proses waardeur ons voortdurend deur die omgewing beïnvloed word en vice versa. Wat van belang is, is of ons 'n positiewe uitwerking op die omgewing uitoefen en ook só reageer op invloede daarvan? In Buddisme word hierna verwys as die "eenheid van lewe en die omgewing". Dis soos Jan Rabie in sy Paryse Dagboek geskryf het: "Vir alles is nodig, siel en liggaam. (Inhoud en Vorm) ... Vorm is diep roerend omdat dit die begin van die onkenbare, ewige moet wees, maar byna altyd haatlik omdat dit staties is, 'n einde, 'n dood. ... Vorm as geboorte of as verdowingsmiddel ..." Dit bly 'n
ewige dualisme. |
Só het Philippolis-argitektuur ontwerp van kunstenaarshuis geraak |
"EK het 'n wrewel in namaaksels," sê Alida Stewart ontwerper van die Van der Post-gedenksentrum en dosent in argitektuur aan die Universiteit van Port Elizabeth. "Soos in Prediker staan: Alles het sy tyd en plek. Vir argitektuur is dit ewe waar. In die kunstenaarshuis wou ek die essensie van Philippolis-argitektuur probeer vasvang, sonder om die prentjie te kopieër." Iets nuuts wou sy skep. Nietemin moes almal wat hierheen kom intuïtief weet dat die kunstenaarshuis op Philippolis hoort. Voordat Stewart aan die werk gespring het, het sy gedelf in 'n M.Arch-verhandeling oor Philippolis deur Jan Daniël Smit aan die Vrystaatse Universiteit. "Opvallend is die verhouding van die hemelruim tot die grond. Alhoewel nie so direk soos in die woestyn nie, is die dominante van die twee, die hemelruim," het hy geskryf in die vaktydskrif Architecture. Sy kom hierheen om "die sterre te pluk", het Anna Pohl nie verniet gesê na haar intrek op Philippolis. "Bedags skýn die son pal in die Karoo. Nes in Van der Post se geliefde Kalahari is dit raar as die lug met helder wolke vul. Jy is voortdurend bewus van die eindelose spel van lug," sê Stewart. "Des te meer omdat die aarde so bar is." Om die gang
van die son aan te dui het sy skadulyne teen die kunstenaarshuismure
ontwerp. Ingebed in die pleister lê die streng lyne. Strak
nes die piramides. As die son wegraak verdonker die holtes. Die kerktoring (oase) dien as saambindende faktor in die landskap (woestyn). Selfs vanuit die systrate is dit die sterkste oriënteringselement en skrywers kyk daarop uit as hul arbei in die kunstenaarshuis. "Selfs as 'n ontwerp simplisties is, bly daar reëls. Daar is ritme in argitektuur nes in poësie en musiek." Aan die kenmerke van die vroegste argitektuur op Philippolis, wat vandag nog bestaan, is die kunstenaarshuis getrou. Dis geskoei op 'n reghoekvormige plan. Daar's min vertrekke - twee of drie, afhangend hoe jy tel. Dis nie breed nie, want hout was vanmeleë skaars in dié droë area. En dan is die kunstenaarshuisie ook klein - nie om outentiek te wees nie, maar omdat geld min was. Kloustrofobies voel jy egter allermins. Die dubbelvolume doen wondere. Om ruimte te spaar is die huis ontwerp dat deure oorbodig is. Die kookgeriewe is só geplaas dat 'n gang as kombuis dien. "Dit was eers later jare wat 'n behoefte ontstaan het om 'n kosmaakplek binne die huise te hê. Vroeër was kombuise apart van die huis." Dit was 'n uitdaging vir Stewart om die publieke domein met die kunstenaarshuis te skakel. Volgens navorsing van Smit skei 'n wyerige stoep, tuin of sypaadjie die groter huise in Philippolis met die straat. By die nederiger huisies is die straat egter 'n verlenging van die woonkamer. 'n Tussenruim ontbreek. Oorgangsfilters was noodsaaklik vir privaatheid by die kunstenaarshuis. Stilte moes Stewart skep. Dié "gelaagdheid" is verkry deur 'n boord wildeolywe, verskillende plaveisels en 'n muur wat die teetuin, museum en inligtingsburo afskei. In plaas van hortjies het die keuse geval op oprol-blinders uit vleitjiesriet. 'n Vaardige swartvrou maak dit plaaslik. 'n Rietdakplafon en sementvloer met houtinsetsels weerspieël en komplimenteer die aardsheid van Philippolis en sy omgewing. Die finale fase van die gedenksentrum behels 'n waterlabirint. Werk hieraan begin eersdaags. |
Hul het oor die kunstenaarshuis gesê ... |
Mangosuthu
Buthelezi Gillian
van Houten Lucia Crichton-Miller Coenie de
Villiers Cecil le
Fleur Jung and the Story of Our Time, Point of Total Return - Laurens van der Post (1906 - 1996) -
|