01/02/2014
Ten spyte van straat- en pleknaamsveranderings in Suid-Afrika, wat daarop gemik is om die Afrikaner se aandeel in die geskiedenis te misken en uit die openbare
lewe te verdring,
pryk die name van
die generaals
Joubert,
Reitz, Cronjé, De Wet en ander nog elke dag op gewels in die groot stede van Nederland. Ook straatname soos Paul Krugerstraat, Bloemfonteinstraat, Majubastraat
en
Paardekraalstraat herinner Nederlanders in die groot stede nog elke dag aan die Tweede
Vryheidsoorlog
van 1899-1902.
Nie net in Suid-Afrika nie, maar ook in Nederland het die neerlaag van 1902 tot groot ontsteltenis gelei. Bekende stede soos Leiden, Haarlem,
Den Haag, Amsterdam, Leeuwarden, Zaandam, Arnhem en Den Helder besluit toe om hul nuutbeplande woonbuurte na
sleutelfigure
en -plekke van die "Boerenoorlog" te vernoem. Selfs Vlaamse dorpe en stede soos Antwerpen, Lier en Anderlecht
ken sedertdien enkele Transvaal- en
Pretoriastrate. En die Belgiese hoofstad Brussel het 'n woonbuurt met die naam "Transvaal".
Die Nederlandse Afrikanerwoonbuurte word meestal
Transvaalbuurten, en in sommige gevalle, Afrikaanderwijken genoem.
Die Afrikanerwoonbuurte het era's van ingrypende gebeurtenisse oorleef: die Suid-Afrikaanse Uniewording in 1910,
die Eerste Wêreldoorlog,
die Rebellie van 1914 in Suid-Afrika,
die Tweede Wêreldoorlog,
die Republiekwording,
Apartheid, Nederlandse anti-apartheidsaksies, die ANC-magsoorname van 1994 en die ongrondwetlike, Afrikaansvyandige 'transformasie' van vandag, wat tot
gevolg het
dat heelwat Afrikaanse straat- en plekname verander is in Afrika-name.
'n Hele rukkie gelede het daar selfs in Nederland naamsveranderings plaasgevind: Amsterdam het byvoorbeeld sy
Pretoriusplein tot Steve Bikoplein omgedoop.
Dit was destyds nou maar polities korrek. En in 2006 het die Rotterdamse
landdros
Robbert Baruch geprobeer om die Rotterdamse Afrikaanderwijk se straatname om te doop in Afrikaname, ontleen aan Zoeloekonings se name. Hy het immers
kort
daarvoor
gemerk
hoe ontsteld sy gaste -
sokkerspelers uit Soweto - was nadat hy hulle argeloos deur dié woonbuurt rondgevat het. Baruch het
egter onvoldoende ondersteuning vir die deurvoering van hierdie
naamsveranderings gekry.
Onlangs (op 14 en 16 Januarie 2014) het ek in Leiden se Transvaalbuurt rondgery. Daar het ek 'n Joubertstraat, Reitzstraat,
De
Wetstraat,
Wolmaransstraat, Pretoriusstraat, Cronjéstraat en baie meer gevind. Ek het vervolgens foto's geneem van
die straatnaambordjies, en dié foto's
het ek vir
u hieronder geplaas.
Kom ons geniet hierdie eerbetoon van oorsee. En laat ons hoop dat hierdie
straatname ook die komende eeu sal kan oorleef.
Onderstaande agtergrondinligting oor persone en plekname het ek meestal ontleen aan twee boeke: Ensiklopedie van Suidelike Afrika
deur Eric Rosenthal (1967) en
Die Boere-Oorlog deur Thomas Pakenham (1979, 1999).
De la Reystraat
Die eerste straatnaambordjie is van De la Reystraat, vernoem na die beroemde generaal Koos de la Rey.
Honderd jaar later was De la Rey 'n groot inspirasie vir baie Afrikaners, want dit was in 2006 toe Bok van Blerk met sy liedjie De la Rey
jong Afrikaners weer trots
gemaak op hul identiteit en die - in die huidige skoolkurrikulum slegs in sewe sinne beskrewe - geskiedenis van die Anglo-Boere-oorlog.
Generaal Jacobus Hercules de la Rey was in 1847 naby Winburg, in die Oranje Vrystaat, gebore as seun
van 'n Voortrekker. Hy trek saam met sy ouers na Transvaal en vestig hom naby Lichtenburg. Hy dien as veldkornet in die Slag van Amajuba en word
bevorder tot kommandant. Van 1893 af was hy Volksraadslid vir Lichtenburg, maar tree die eerste keer op die voorgrond met sy aandeel aan die
gevangeneming van die Jameson-invallers. In die Tweede Vryheidsoorlog verwerf hy internasionale roem met 'n reeks briljante oorwinnings, veral by
Graspan en Tweeriviere. In Maart 1902 neem hy lord Methuen op Tweebosch gevange. Na die Vrede van Vereeniging was generaal Delarey, nou 'n nasionale figuur,
lid van die afvaardiging na Europa om geld in te samel vir die slagoffers van die oorlog. Hy neem in 1908-09 deel aan die Nasionale Konvensie en word aangestel
as Senator in die eerste Unie-parlement. Hy steun generaal Hertzog en was een van die aanvoerders van die Nasionaliste-beweging. Hy was glo ook begerig om die
twee Boere-republieke in ere te herstel. Hy het glo simpatiek gestaan teenoor die Rebellie van 1914, maar dit is nooit bewys nie.
De la Reystraat in Leiden. Generaal De la Rey word op die bordjie soos volg omskryf: "Jacobus H. de la Rey, 1847-1914, Boerenleider
in Zuid-Afrika". (Foto: Marcel Bas) | |
Hy is op 15 September 1914 per ongeluk doodgeskiet deur 'n polisieman wat in 'n kordon diens gedoen het om die Foster-bende te vang, toe sy motor, waarin
generaal C.F. Beyers ook was, nie stilgehou het toe dit in Johannesburg voorgekeer is nie (Rosenthal: 109).
Die navorser Thomas Pakenham (1999) omskryf hom nader: "Tussen al die Boereleiers van die tydperk, met uitsondering van President Steyn, staan De la Rey uit as moreel die kragtigste en ontoegeeflikste. Dit is hy wat
in sy suiwerste vorm die felle vlam van Afrikaner-nasionalisme aan die brand sou hou. Kleinseun van 'n Hollandse immigrant, het hy en sy familie hulle op
Lichtenburg in die droeë, leë vlaktes van Wes-Transvaal gevestig. Vir baie mense lyk dit asof De la Rey die beste kant van die Boere-aard verteenwoordig.
Oom Koos, soos die mense hom noem, is diep godsdienstig; 'n klein sakbybeltjie is selde uit sy hand. Sy voorkoms is indrukwekkend. Die lang, netjies geknipte
bruin baard, die hawiksneus en hoë voorkop, diep gloeiende oë, al hierdie dinge gee hom reeds op 52 'n patriargale voorkoms. En hy is 'n man van gedugte
stiltes. Wanneer hy wel in die Volksraad opgestaan het om te praat, het die mense onthou wat hy gesê het. En niks wat hy gesê het, sal beter onthou
word as die toespraak waarin hy Kruger se oorlogsbeleid veroordeel het nie." (Pakenham: 201-2)
De la Rey was mos een van die mense wat tot die laaste oomblik geglo
het dat 'n oorlog vermy kon word.
Toevalligerwys is ek (Marcel Bas) op 8 September 1970 gebore in De la Reyweg 297, wat in die Transvaalbuurt in Den Haag geleë is.
Den Haag se Afrikanerwoonbuurt
is baie groter as Leiden s'n, en ek beplan om ook daar eendag die straatnaambordjies en ander openbare naamsvermeldings vir u af te neem.
De Wetstraat
De Wetstraat is 'n klein straat met 'n ou kroegie - Het Brandewijntje - en 'n parkeerplek wat aan die treinspoor grens. Dit is vernoem na die beroemde generaal en Bittereinder
Christiaan de Wet.
Generaal Christian Rudolf de Wet was 'n krygsman en staatsman. Hy was op 7 Oktober 1854 as die seun van Voortrekkers naby Dewetsdorp in
die Vrystaat gebore.
As seun veg hy in die Basoeto-oorloë van die jare 1860 en was 'n tyd lank transportryer. Hy trek na Transvaal, sluit aan by die Republikeinse magte
in die Eerste Vryheidsoorlog van 1880-81 en veg in die beroemde Slag van Amajuba. Na die sluiting van vrede word hy lid van die Volksraad van sowel die
Oranje-Vrystaat as Transvaal. Met die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog was hy die hoof van 'n Vrystaatse kommando, en hy tree gou na vore as 'n gebore
leier. Die daaropvolgende veldslae voer hy met die grootste sukses aan sodat sy naam spreekwoordelik word, nie net in Suid-Afrika nie, maar ook oorsee.
De Wetstraat in Leiden: De Wet word op hierdie straatnaambordjie soos volg omskryf: "C.R. de Wet, 1854-1922. Zuid-Afrikaans generaal en politicus" (Foto: Marcel Bas) | |
By verskeie geleenthede ontsnap hy op wonderbaarlike wyse onder feitlik onmoontlike omstandighede en omsingel deur groot magte. Hy bly in die veld tot die einde
van die oorlog en was teenwoordig met die Vrede van Vereeniging. Hy was 'n dag lank waarnemende president van die Oranje-Vrystaat.
In dié hoedanigheid het hy die Verdrag onderteken. Hy het onmiddelik daarna vergesel van ander Boereleiers oorsee vertrek om geld in te samel vir die oorlogslagoffers.
Hy tree weer toe tot die politiek en word minister van Landbou vir die Oranjerivier-kolonie onder kroonkoloniebewind. As 'n lid van die Nasionale Konvensie help hy met
die opstel van die grondwet van die Unie. Hy kry stry met generaal Botha en word 'n stigter van die Nasionale Party. Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog
neem hy die bevel oor van 'n gedeelte van die rebelle in die Oranje-Vrystaat, maar na die geveg by Mushroom-vallei word hy gedwing om te vlug en en is uiteindelik
in Betsjoeanaland gevange geneem. Hy word verhoor op 'n aanklag van hoogverraad en gevonnis tot ses jaar gevangenisstraf en 'n boete van £2,000. Na ongeveer 'n jaar
word hy vrygelaat en gaan woon hy stil op sy plaas, waar hy op 3 Februarie 1922 oorlede is. Hy is begrawe aan die voet van die Konsentrasiekampmonument
in Bloemfontein (Rosenthal: 112-3).
Die ondertekening van die Vrede van Vereeniging was 'n baie emosionele gebeure vir De Wet en sy medestryders. In die groot tent in Vereeniging, waar De Wet en
ander Boere by mekaar gekom het,
het die morele ontberinge van daardie dae almal
diep geraak. 'Hoe groot was die emosie,' skryf ds. J.D. Kestell, die Afrikaanssprekende seun van 'n 1820-setlaar en die amptelike verslaggewer van
die verrigtinge. 'Die lippe van manne wat nooit voor 'n vyand gebewe het nie, het getril. Ek het trane gesien in die oë wat droog was toe hul
dierbaarstes in die graf neergelê is.' Die ontberinge gaan voort. Die lede van die twee regerings (dit is De Wet van die Oranje-Vrystaat en
Burgers van Transvaal - MB) word per trein na Pretoria gebring om die doodvonnis - tegnies die "voorwaardes van oorgawe" - van die republieke
te onderteken. Dit is nou elfuur op Saterdagaand. Hulle word na Kitchener se hoofkwartier gebring, waar hulle deur Kitchener en Milner ingewag word.
Milner lyk nog grys en siek. Burgers teken eerste vir Transvaal, De Wet vir die Vrystaat. Kitchener en Milner teken laaste. Binne vyf minute is
alles verby; die republieke is dood en begrawe. Daar is 'n verleë stilte wat deur Kitchener se welmenende 'ons is nou goeie vriende' onderbreek
word. Verdwaas gaan Kitchener se nuwe vriende na hul hotels (Pakenham: 592).
Meer inligting oor generaal De Wet kan u hier kry: Generaal De Wet-Herdenking in Nederland (2000).
Bloemfonteinstraat
Dit is interessant dat die munisipaliteit van Leiden op die nuwe straatnaambordjies Bloemfontein omskryf as: "Hoofdstad van Oranje-Vrijstaat". Ons
sal die ou naam van hierdie Boererepubliek in hierdie woonbuurt gereëld teëkom.
Ook ten tyde van Rosenthal
(1969) was Bloemfontein die hoofstad van die Oranje-Vrystaat, en dit was en setel van die Appèlhof van Suid-Afrika. Dit is nog steeds die
setel van die Appèlhof, maar die provinsie se naam is deesdae Vrystaat (2014), en die munisipaliteit waartoe Bloemfontein saam met
Botshabelo en Thaba'Nchu behoort, se naam is tans Mangaung.
Bloemfonteinstraat in Leiden, met uitsig op die treinstasie van Leiden. In die agtergrond sien ons die Leids Universitair
Medisch Centrum, en regs die Level Leiden-skool- en ontspanningsgebou. Onder staan 'n geel-blou trein gereed om na Utrecht te gaan.
(Foto: Marcel Bas) | |
Daar bestaan twyfel oor die oorsprong van die stad Bloemfontein
se naam. Sommige deskundiges meen dat dit afgelei is van die naam van ’n plaaslike opperhoof, Jan Bloem, en ander meen dat dit afkomstig is van die feit dat blomme
om ’n fontein gegroei het op die plaas van die boer Jan Britz wat hom in 1840 daar gevestig het.
Dit is in 1846 as dorp gestig toe majoor Henry Douglas Warden, Resident van die Oranjerivier-Soewereiniteit (voorloper van die Oranje-Vrystaat) die plek gekoop het
vir £37 10s. Na die onttrekking van die Britte van die Oranjerivier-Soewereiniteit in 1854 het Bloemfontein die hoofstad van die Oranje-Vrystaat geword. Hoewel
dit goed geadministreer is, bly dit ‘n klein dorpie en in 1895 was die hele bevolking net 2,500. Die land is so goed bestuur dat dit bekend gestaan het as die
‘Model-Republiek’. Die enigste natuurlike baken naby Bloemfontein is Naval Hill, wat bo die groot Vrystaatse vlakte uitstyg.
Die dorp het sy belangrykheid te danke aan sy sentrale posisie in Suid-Afrika, wat sy handel en nywerheid gestimuleer het. Die oudste gebou is die oorspronklike Fort,
wat reeds in 1848 deur Britse troepe opgerig is as beskerming teen die naturelle. Die Raadzaal, waar die ou Oranjerivier-Volksraad byeen gekom het, word nou gebruik
deur die Provinsiale Raad van die Vrystaat. Daar naby is die ou presidentswoning, die amptelike woning van die Eerste Burger van die ou Republiek. Belangrike bakens
sluit in die Nasionale Vrouemonument, wat opgerig is ter ere van die vroue en kinders wat in die Tweede Vryheidsoorlog gesterf het. Aan die voet daarvan is ‘n aantal
beroemdes uit die Suid-Afrikaanse geskiedenis begrawe, insluitende mej. Emily Hobhouse, generaal Christiaan de Wet, en ds. J.D. Kestell.
Bloemfonteinstraat in Leiden, met uitsig op Paul Krugerstraat se huise
(Foto: Marcel Bas) | |
Die Universiteit van die Oranje-Vrystaat het ontwikkel uit die oorspronklike Grey-Kollege, wat in 1855 gestig was deur sir George Grey. Die Staatspresident het ook
‘n woning in Bloemfontein gehad (Rosenthal: 35-6).
Paul Krugerstraat
Paul Krugerstraat in Leiden is 'n L-vormige straat met twee rye huise aan die een kant, en met 'n omheinde pleintjie en die voormalige Belastingkantoor aan die
ander kant. Paul Krugerstraat vorm met Jan C. Smutsstraat die verlengde van Bloemfonteinstraat, wat die Transvaalwoonbuurt met die ou binnestad en Stationsweg verbind. Dit is vernoem
na die Transvaalse president Paul Kruger, ook bekend as Oom Paul.
Aan die hand van Rosenthal se biografiese skets van Paul Kruger kan ons 'n basiese begrip van die Transvaalse negentiende-eeuse geskiedenis verwerf;
vanaf die Groot Trek tot die dae na die verlore Tweede Vryheidstryd.
Paul Krugerstraat in Leiden (Foto: Marcel Bas) | |
Stephanus Johannes Paulus Kruger was die laaste President van die Suid-Afrikaanse Republiek, en algemeen erken as die grootste persoonlikheid wat die Afrikanerdom
opgelewer het. Sy familie kom van die Uckermark, noord van Berlyn in Duitsland, waar die van nie onbekend is nie. Hy het self sy van met ‘n ‘Umlaut’ geskryf. Volgens
navorsing deur professor C.J. Uys van die Universiteit van die Oranje-Vrystaat is President Kruger nie op Steynburg gebore nie, maar op die plaas Zoutpansdrift naby
Venterstad. Dit is ook moontlik dat sy geboortedatum van 10 Oktober 1825 verkeerd is. Sy vader, Kasper Jan Hendrik Kruger, en sy moeder, Elsie Fransina Steyn, het by
die Groot Trek aangesluit, en die jong Paul het al die ontberings van die tyd deurgemaak. Op 15-jarige ouderdom is hy erken as ‘n burger en toe hy 17 was trou hy en
gaan vestig hom op sy plaas, Waterkloof, naby Rustenburg in Transvaal. Op een van sy jagtogte het hy sy eie duim afgesit. Hy word ‘n sterk voorstander van die
Gereformeerde Kerk en was ‘n lekeprediker van die kerk tot met sy dood.
Hy neem deel aan verskeie Kafferoorloë en in 1854 toon hy buitengewone heldemoed deur die lyk van kommandant Potgieter uit die beleërde bergvesting van
hoofman Makapan te gaan haal. Sy volgehoue pogings om die Oranje-Vrystaat en Transvaal te verenig, het misluk. Tydens die daaropvolgende burgeroorlog het hy Van
Rensburg gesteun en Potchefstroom verower. Na die muslukking van President Burgers se uiters ambisieuse program, word hy een van die steunpilare in die naionale
weerstand teen die Britse anneksasiebeleid. Nadat Shepstone in 1877 die Britse vlag gehys het, sluit Kruger aan by die protesafvaardiging na Londen en beïndruk
almal met sy aangebore bekwaamheid as bemiddelaar. Toe dit misluk, konsentreer hy op anti-Britse propaganda onder sy eie mense in Transvaal en as Onder-president
van die Suid-Afrikaanse Republiek onderneem hy nog ‘n vrugtelose deputasie na Londen en Europa in 1878.
Van nou af aan bou hy weerstand op teen die Britse administrasie en toe die ware opstand in 1880 begin, word hy ‘n lid van die Driemanskap (groep van drie
leiers
wat in 1880 op inisiatief van Paul Kruger deur die Transvaalse Volksraad aangestel is om die land tydens die Britse bewind te bestuur totdat die
Republiek herstel is - MRB).
Hy woon die vredesonderhandelings by
en as Onder-president belê hy ‘n buitengewone sitting van die Volksraad wat
Paul Krugerstraat in Leiden met die voormalige Belastingkantoor in die agtergrond (Foto: Marcel Bas) | |
die Konvensie van Pretoria bevestig.
In 1883 word hy die verkose President van die Suid-Afrikaanse Republiek en word hy die oorheersende persoonlikheid. Met die ontdekking van goud op Barberton en
aan die Witwatersrand en die geweldige toestroming van immigrante kom hy voor die grootste probleem van sy lewe te staan; die regverdige versoening van die oorheersing
van die Boere met die immigrante. Hy kon nie daarin slaag om ‘n Hawe naby St. Luciabaai te kry nie, en skermutselings vind gedurig op die grens van Swaziland en in
die gebied aangrensende Betsjoeanaland plaas waar die Britse soewereiniteit met die Transvaalse mag gebots het. Hy moes ook sy burgers teëhou om nie die Limpopo
oor te steek nie ten einde wrywing met Rhodes te voorkom. Toe hy in 1888 die tweede keer tot President verkies word, is sy botsings met Rhodes feller.
Sekere Uitlanders was vriendelik, maar ander was uiters vyandiggesind. Om die Britse invloed te balanseer, het hy baie Hollandse amptenare ingebring
onder leiding van die Staatsekretaris, dr. W.J. Leyds. Hy was ook ten gunste van die bou van ‘n spoorlyn na Lourenço Marques voordat enige spoorlyn
deur Britse gebied voltooi sou word, maar slaag nie daarin nie. In Europa het hy egter simpatie en bewondering gewek met sy diplomatieke vaardigheid en het
Prins Bismarck besonder beïndruk. In Transvaal word hy te midde van oorweldigende probleme daarvan beskuldig dat hy doelbewus die ontwikkeling van die
Rand strem, van nepotisme, van korrupsie en baie ander dinge. Aan die ander kant word hy al hoe meer deur sy eie mense vereer. Pogings om die toestand tussen
die Uitlanders en die regering die hoof te bied, word tot niet gemaak deur die Jameson-inval (deur Boeremagte onderdrukte gewapende inval in
Transvaal van die
Britse dr. L.S. Jameson, met die openlike
doel om die griewe van die Uitlanders uit die weg te ruim)
teen die einde van 1895. Die leiers van die
Britse saak, veral Cecil John Rhodes, Joseph Chamberlain en Lord Milner, het daarop aangedring dat die Uitlanders stemreg moet kry maar Kruger het geweier
omdat hulle die burgers in getalle oortref het.
Bakkery in Paul Krugerstraat in Leiden (Foto: Marcel Bas) | |
Teen die tyd dat hy gereed was om ‘n kompromis te maak, was die Tweede Vryheidsoorlog onvermydelik. Hoewel hy baie matig was in sy behandeling van die
Jameson-invallers, wat hy vir verhoor aan Brittanje oorhandig het, en die ‘Reformers’, waarvan hy die vonnisse opgehef het tot boetes en verbanning, kon hy nie
langer die posisie die hoof bied nie. In 1898 is hy met ‘n groot meerderheid herkies en die oorlog breek uit in Oktober 1899. Omdat hy reeds ouer was as 74, sy
gesondheid swak was, en hy nie meer self in die veld kon gaan nie, het hy verskeie besoeke aan die kommando’s gebring en in Pretoria gebly tot 29 Mei 1900, ‘n paar
dae voordat dit deur die Britte beset is. Op 21 Oktober 1900 vertrek hy met die oorlogskip, die Gelderland wat deur Koningin Wilhelmina na Lourenço
Marques gestuur is, na Europa. Hy gaan eers na Frankryk, en daarvandaan na Holland, waar hy tot die einde van die oorlog bly en sy uiterste bes doen om hulp vir
die Boererepublieke te kry. Daar begin hy ook sy herinneringe dikteer. Hy verhuis na Switserland waar hy op 10 Julie 1904 oorlede is. Hy is op 16 Desember 1904
begrawe in die Ou Begraafplaas in Pretoria (Rosenthal: 271-273).
Besoek gerus ons lewensbeskrywing van Paul Kruger, "Paul Kruger en de geschiedenis van een volk" (2000), vir meer inligting.
Cronjéstraat
Hierdie straat is vernoem na generaal Piet Cronjé.
Generaal Pieter Arnoldus Cronjé was om en by 1835 in die Kaapkolonie gebore.
Cronjéstraat in Leiden (Foto: Marcel Bas) | |
Hy vergesel sy ouers in die Groot Trek, vestig hom in die Suid-Afrikaanse
Republiek waar hy homself onderskei in verskeie veldtogte teen die naturelle. Woon naby Potchefstroom en was kommandant van daardie distrik tydens die Britse
besetting van 1877.
Tydens die Boereweerstand teen die nuwe bewind, wat ‘n hoogtepunt in die Amajuba-veldtog bereik het, lei hy die Republikeinse magte in die
suksesvolle beleg van Potchefstroom. Met die sluiting van vrede was hy ‘n hegte aanhanger van President Kruger en word tot die Volksraad verkies waar hy
Superintendent van Naturellesake was. Hy dien ook in die uitvoerende raad.
Cronjéstraat in Leiden (Foto: Marcel Bas) | |
Hy neem deel in verskeie naturelleveldtogte en word in 1896 wêreldberoemd toe sy
kommando die oorgawe van die Jameson-invallers afgedwing het. Met die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog in 1899 is hy in bevel van die Suid-Afrikaanse
Republikeinse magte op die westelike front geplaas en begin met die beleg van Mafeking. Hy behaal minder sukses as in die verlede en lei die finale aanval op Kimberley. Behaal oorwinnings by Modderrivier en Magersfontein. Hy word in ‘n lokval
gelei by Paardeberg en op 22 Februarie gee hy met 4,000 manne oor aan lord Roberts. As gevangene word hy na St. Helena gestuur. Oorlede in 1911 (Rosenthal: 101).
'n Informele straatnaambordjie in Leiden: "Cronjéboulevard" in Cronjéstraat. (Foto: Marcel Bas) |
|
Jan C. Smutsstraat
Die Jan C. Smutsstraat is vernoem na Jan Christian Smuts: generaal, politikus en intellektueel.
Op die hoogtepunt van sy politieke loopbaan was hy Eerste Minister van die Unie van Suid-Afrika. Hy was op 24 Mei 1870 op die plaas Bovenplaas, naby Riebeeck-Wes, Kaapland, gebore as die seun van Jacobus Abraham Smuts, ’n boer en lid van die Koloniale Parlement.
Net soos honderde ander Boerekinders van destyds is hy eers op 12-jarige ouderdom skool toe, hoewel sy moeder hom tuis geleer het. Hy was van plan om predikant te word en besoek die skool van T.C. Stofberg (later Senator Stofberg), waar dr. D.F. Malan
(sy politieke opponent, dominee, redakteur van Die Burger, en in 1948 Eerste Minister van die Gesuiwerde Nasionale Party) een van sy medeleerlinge was.
Daarna gaan hy in 1886 na die Victoria-Kollege, latere Universiteit van Stellenbosch. Daar ontmoet hy sy toekomstige vrou, die begaafde student Sibella Margaretha
(Isie) Krige. Hy maak daar ook persoonlike kontak met Cecil John Rhodes toe laasgenoemde die kollege besoek het. Na ’n briljante loopbaan op Stellenbosch gaan Smuts
na Cambridge in 1891 waar hy in die regte studeer en ’n boek skryf oor die werk en digkuns van Walt Whitman. Die boek is nooit gepubliseer nie.
Jan C. Smutsstraat in Leiden (Foto: Marcel Bas) | |
In 1895 keer hy terug na Suid-Afrika en in 1896 met sy praktyk in Johannesburg. Sy bekwaamheid het hom onder die aandag van Paul Kruger gebring wat hom in 1898 as
Staatsprokureur aangestel het. Met die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog help hy met die opstel van ’n Eeu van Onreg waarin die republieke se saak teen
Engeland gestel is. Kort daarna sluit hy aan by die Boeremagte en sy begaafdheid as guerillaleider bring hom op die voorgrond. Sy historiese inval in die Kaapkolonie
het hom tot by Malmesbury en binne sig van Tafelberg gevoer. Teen die einde van die oorlog was hy nog in die veld. Hy het 'n leidende rol gespeel in die vredesonderhandelings
by Vereeniging waarna hy besluit het dat die enigste redding vir sy volk daarin geleë is dat hulle die nuwe Britse kroonkoloniebewind moet aanvaar. Hy word een van die
leiers van die 'Het Volk'-beweging ('n politieke party in Transvaal).
Sy hantering van die lydelike versetbeweging van die Indiërs onder leiding van M.K. Gandhi, het bewys dat hy ook meedoënloos kon optree.
Met Uniewording (1910; toe Transvaal en Oranje-Vrystaat verenig was met die Britse kolonies Kaap die Goeie Hoop en Natal) het Smuts Minister van Verdediging,
Mynwese en Binnelandse
Sake geword. Hy is ook die stigter van die Unieverdedigingsmag. As Minister van Mynwese het hy in 1914 en 1921 met geweldige arbeidsgeskille te doen gekry, wat net onderdruk
is nadat die gewapende magte en die Imperiale Garnisoen opgeroep is. Hy het hom hiermee baie vyandskap op die hals gehaal want baie mense het gemeen dat hy te hardhandig
opgetree het. Teen dié tyd het generaal Hertzog ('n nasionalistiese politikus) uit Botha (sien hieronder by Bothastraat) se Kabinet bedank en die party gestig
wat later die Nasionale Party geword het. Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog was Smuts self in bevel van die Oos-Afrikaanse veldtog. Die Britse
regering was so beïndruk met sy intellektuele gawes dat hy in 1917 uitgenooi is om deel te neem aan die Imperiale Oorlogskonferensiein Londen.
Hy word lid van die Oorlogskabinet, 'n lid van die Geheime Raad en was grootliks verantwoordelik vir die stigting van die Britse Lugmag. Afgesien daarvan dat hy dikwels
aan die Westelike Front was, het hy in 1917 deelgeneem met die vroeë onderhandelings om vrede met Oostenryk te maak. Sy advies oor die veldtog teen die Turke in
Palestina het tot 'n oorwinning in daardie dele gelei. Hy het reeds die idee gehad om die Volkerebond te stig en het namens die Geallieerdes 'n besoek aan Hongarye gebring tydens die
opstand van 1918. Nadat hy in 1919 die Vredeskonferensie in Versailles bygewoon het, het Smuts na Suid-Afrika teruggekeer om Eerste Minister te word ná die dood van generaal
Louis Botha. Hy bevind hom te midde van groot na-oorlogse probleme, en hoewel hy die verkiesing van 1920 gewen het, het sy genadelose optrede tydens die Randse Opstand
van 1922 uiteindelik daartoe gelei dat hy die onderspit gedelf het teen generaal Hertzog.
Buite die politiek het hy 'n belangrike filosofiese werk, Holism and Evolution, in 1929 geskryf. In 1930 word hy 'n 'fellow' van die Royal Society en die volgende
jaar rektor van St. Andrew's University. Hy was nege jaar lank leier van die Opposisie totdat die Goudstandaardkrisis in 1933 die samesmelting van die partye tot gevolg gehad het.
Hy was Adjunkminister onder generaal Hertzog in 1939. Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog word hy weer Eerste Minister. Hy het nou saamgewerk met Winston
Churchill en ander en het selfs 'n groter rol in die stryd gespeel as in die Eerste Wêreldoorlog. Terselfdertyd het hy te doen gekry met baie binnelandse
probleme.
Een van sy groot prestasies was die opstel van die Handves van die Verenigde Volke. Hy is in sowel Europa as die Verenigde State vereer. In 1948 is hy in die algemene
verkiesing verslaan. Hy het sy politieke bedrywighede voortgesit tot sy dood in 1950 (Rosenthal: 466-7).
Joubertstraat
Joubertstraat is 'n kort straat wat Lopsenstraat (hierdie straat is nie 'n eerbewys aan die Tweede Vryheidsoorlog nie) met Paul Krugerstraat verbind, en wat ingekapsel is
in vier ander Afrikanerstrate. Joubertstraat is vernoem
na generaal Piet Joubert.
Generaal Petrus Jacobus Joubert was in 1831 in die Kaapkolonie gebore. Hy word lid van die Volksraad en tree op die voorgrond as waarnemende President in 1875 tydens president
Burgers se ampstermyn. Met die eerste Britse besetting van Transvaal het hy 'n leidende rol gespeel in die verset teen die nuwe bewind. Hy besoek die Kaap saam met
president Kruger en word ook 'n lid van die Onafhanklikheidsafvaardiging na Europa.
Joubertstraat in Leiden (Foto: Marcel Bas) | |
Hy was lid van die Driemanskap tydens die Eerste Vryheidsoorlog en is aangestel
as opperbevelhebber van die Republikeinse magte. Hy was 'n ondertekenaar van die vredesverdrag van Pretoria. As lid van die Uitvoerende Raad het Joubert meer en meer
met president Kruger gebots vanweë die feit dat hy die minder konserwatiewe element in die bevolking verteenwoordig het.
Hy is aangestel as Superintendent van Naturellesake vir die Suid-Afrikaanse Republiek en in 1896 as Onderpresident. Joubert het telkenmale teen president Kruger in verkiesings
gestaan, maar is verslaan.
In die Tweede Vryheidsoorlog is hy aangestel as opperbevelhebber van die Boeremagte in Natal en was 'n held in die vroeëre krygsverrigtinge, totdat hy
siek geword het en in Maart 1900 oorlede is (Rosenthal: 231).
Pretoriusstraat
Hierdie straat is baie smal en lê weer anderkant die treinspoor van Leiden na Utrecht. Hy is vernoem na die eerste president van die Z.A.R.
én van die O.V.S.: Marthinus Wessel Pretorius.
Pretorius was in 1819
naby Graaff-Reinet gebore en maak die Groot Trek mee saam met sy vader, A.W.J. Pretorius. Hy vergesel hom na Natal waar hy teen die Zoeloes veg en toe
na Transvaal waar hy
Kommandant-generaal word.
Pretoriusstraat in Leiden (Foto: Marcel Bas) | |
Hy stel die eerste grondwet - die '33 Artikels' - in Rustenburg op. In Januarie 1857 is hy gekies as Staatspresident van die Suid-Afrikaanse
Republiek (Z.A.R.).
Hy het dit hom die taak gestel om die kleiner republieke, insluitende Lydenburg en die O.V.S., te verenig.
Hy slaag in die geval van Lydenburg, en
hoewel hy in 1860 die unieke eer het om ook as President van die O.V.S. verkies te word, misluk sy plan. In dieselfde jaar het Pretorius sy amp as President
van die Suid-Afrikaanse
Republiek neergelê om met Mosjesj te onderhandel en Cetshwayo, asook die Kaapse owerheid, te besoek ten einde rus en vrede in die land te
bewerkstellig. Burgeroorlog
dreig ondertussen in Transvaal en hy doen sy bes om as bemiddelaar op te tree en bedank as President van die O.V.S., in 1863.In 1864 word hy 'n tweede
keer as President van die Suid-Afrikaanse Republiek gekies. Hy lei 'n strafekspedisie teen die Basoeto's in 1865 en gaan in dieselfde jaar
na Soutpansberg om die vrede in die noorde te herstel. Drie jaar later het hy die gesag van die Suid-Afrikaanse Republiek formeel uitgebrei tot noord
van die Limpopo in die
gebied wat later bekend sou staan as Rhodesië, en tans as Zimbabwe.
Pretoriusstraat in Leiden. Onder die straatnaam staan geskrywe: "Martinus (sic) W. Pretorius.
1818 (sic) - 1901, Boerenleider, President van de Zuid-Afrikaanse Republiek". (Foto: Marcel Bas) |
|
Hierdie aanspraak is later deur die Britte betwis. Hy het ook aanspraak gemaak op die Diamantveld
aan die Vaalrivier, maar is gedwing om dit te laat vaar. In 1868 is hy verkies as President, maar in 1871 bedank hy en werk vuriglik teen die Britse
owerheid ná
die anneksasie. Word in die tronk gestop as 'n rusiesoeker. Pretorius is gekies as 'n lid van die Driemanskap en het die Konvensie van Pretoria onderteken waarvolgens
Transvaal weer volkome selfbestuur verkry. Tydens die Tweede Vryheidsoorlog, op 19 Mei 1901, op Potchefstroom oorlede (Rosenthal: 393).
Party mense dink die hoofstad Pretoria is vernoem na hierdie persoon. Pretoria is egter vernoem na sy vader; die eerdergenoemde A.W.J. Pretorius.
Reitzstraat
Hierdie straat loop parallel met De Wetstraat en Pretoriusstraat wat aan weerskante daarvan lê. 'n Mens sou verwag dat Reitzstraat vernoem is na die bekende kolonel
Deneys Reitz; politikus vanaf 1920 en die skrywer van die beroemde boek Commando. Hierdie boek is egter eers in 1929 gepubliseer en ten tyde van die ontwikkeling
van hierdie woonbuurt, net na die
Tweede Vryheidsoorlog, was sy pa,
President Francis William Reitz, se naam as kandidaat vir hierdie straatnaam meer voor die hand liggend.
Francis William Reitz was President van die Oranje-Vrystaat. In 1844 op Swellendam gebore, lid van 'n familie wat in dié distrik baie bekend was. Hy ontvang sy opleiding
aan die South African College en word in 1867 by die Inner Temple toegelaat tot die balie.
Reitzstraat in Leiden (Foto: Marcel Bas) | |
Met sy terugkeer na die Kaap, begin hy praktiseer tot 1874 toe hy op versoek
van president sir Johannes Brand die pos as Hoofregter van die Oranje-Vrystaat aanvaar het.
Afgesien van sy regswerk het hy ook in die Afrikaanse taal belang gestel
en het gedigte geskryf wat baie gewild was. Dit sluit in die gevierde Klaas Geswint en Syn Perd ('n weergawe van Burns se Tam O'Shanter), ook Die Boer
se Saterdagaand. Hy bly Hoofregter tot 1888 en ondersteun die Afrikanerbond toe dit gestig is.
Met die dood van president Brand in 1888 word hy as sy opvolger gekies en beklee die pos as Staatspresident tot 1895 toe hy as gevolg van swak gesondheid bedank.
Dit was nie
die einde van sy openbare loopbaan nie. In 1897 verhuis hy na Pretoria waar hy toegelaat is as advokaat en kort daarna is hy aangestel as regter van die Hooggeregshof.
Met die vertrek van (die Nederlander - MRB.) dr. W.J. Leyds in 1898 na Europa, word hy sy opvolger as Staatsekretaris en in dié hoedanigheid stel hy die beroemde
ultimatum aan Brittanje op wat gelei het tot die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog.
Reitzstraat in Leiden. Die bordjies beskryf Reitz soos volg: "Francis W. Reitz. 1844-1934. Boerenleider, President van
Oranje-Vrijstaat. (Foto: Marcel Bas) | |
Gedurende die vyandelikhede het hy in die veld gebly en die vredesverdrag onder protes geteken. Hy het etlike jare lank in Texas en Mexiko gewoon en stuur sy drie seuns,
Joubert, Deneys (die bogenoemde skrywer van Commando - MRB.) en Arnt na Madagaskar om 'n nuwe tuiste vir hulleself te vind. Hulle het uiteindelik almal
teruggekeer en in 1910 word hy President van die nuwe Senaat van die Unie van Suid-Afrika - 'n amp wat hy beklee het tot 1929 toe hy in die Kaap afgetree het.
In 1934 oorlede (Rosenthal: 406-7).
"President Steinstraat"
In Leiden word President Steynstraat verkeerdelik met 'n 'i' geskryf, maar dit het geen gevolge vir die uitspraak van die straatnaam nie. Party mense skryf
"President Steijnstraat", maar die amptelike skryfwyse is President Steinstraat.
Die straat is vernoem na President Marthinus Theunis Steyn, wat in 1857 op die plaas Rietfontein naby Winburg, O.V.S., gebore is. Hy ontvang opleiding aan Grey-Kollege,
Bloemfontein, en gaan na
Leyden (dit is nou Leiden - MRB) en die Inner Temple, Londen, om in die regte te studeer. Word toegelaat as advokaat en begin 1882 in Bloemfontein praktiseer.
In 1889 word hy Staatsprokureur en in dieselfde jaar regter. In 1896 word hy verkies tot Staatspresident.
'n Taalgogga'tjie: President Steynstraat is President Steinstraat,
in Leiden (Foto: Marcel Bas) | |
Ten spyte van sy swak gesondheid het hy 'n gematigde invloed uitgeoefen op die Suid-Afrikaanse Republiek en Brittanje in hulle geskille.
Hy het die samesprekings tussen lord Milner (die vurige, oorspronklik Duitse, Britse imperialis - MRB.) en pres Kruger in Bloemfontein gereël
wat die laaste poging was om vyandelikhede te probeer voorkom. Toe die oorlog uitbreek, het hy by sy burgers in die veld aangesluit. Hy het hom onvermoeid
beywer vir die heropbou van sy volk wat hom en sy vrou (gebore Tibbie Fraser) aanbid het. As 'n wyse, gematigde en taktvolle persoon het hy 'n onskatbare bydrae
gelewer in die stigting van die Unie. Tydens die 1914-Rebellie (dit was gekant teen deelname aan die Britse oorlog teen Duitsland en sy kolonie
Suid-Wes-Afrika - MRB.) het hy weer bloedvergieting probeer voorkom. In 1916 het hy ineengestort en gesterf onderwyl hy 'n vergadering in Bloemfontein toegespreek het
(Rosenthal: 485-6).
Transvaalhof en Transvaalkade
Transvaalhof is 'n moderne variant van 'n tipies Leidse hofje; 'n rustige, Middeleeuse binnepleintjie in 'n stad. Die meeste Leidse hofjes was gebou vir die onderbring
van armes of begyne, maar hierdie binnepleintjie was sommer bestem vir selfstandig wonende en selfredsame arbeiders in die twintigste eeu, sonder
armesorgoogmerk.
Transvaalkade verbind Transvaalhof met Lopsenstraat, Paul Krugerstraat en Bloemfonteinstraat, en is nie juis 'n kade (kaai) nie. Dit is 'n straat
wat
aan
die treinspoor tussen Den haag, Leiden en Amsterdam grens.
Transvaalhof in Leiden (Foto: Marcel Bas) | |
Die binneplaas en die straat is, uiteraard, vernoem na Transvaal; die Afrikaanse benaming vir die noord-oostelike gedeelte van Suid-Afrika. Transvaal bestaan uit
die huidige vier provinsies Noordwes, Mpumalanga, Limpopo en Gauteng, en dit is die informele benaming vir die ou, in 1902 verlore gegane onafhanklike
Suid-Afrikaanse
Republiek
(Z.A.R.).
Tussen 1902 en 1994 was Transvaal tewens die tweede grootste provinsie van die Republiek van Suid-Afrika. Die gebied beslaan 110,450 vk. myl, wat 23 persent van die
totale
gebied verteenwoordig. Die naam is afgelei van die feit dat die landstreek oor die Vaalrivier lê (Rosenthal: 522).
Transvaalkade in Leiden (Foto: Marcel Bas) | |
Wolmaransstraat
Wolmaransstraat is ’n gesellige, baie smal straatjie sonder motorverkeer. Die bewoners beskou dit as privaatgrond. Wolmaransstraat is vernoem na 'n
Boerestaatsman; Senator Andries Daniel Wynand Wolmarans.
Wolmaransstraat in Leiden (Foto: Marcel Bas) | |
Wolmarans was die seun van F.G.A Wolmarans en was gebore op 19 September 1857
in Potchefstroom gebore. Tydens die Tweede Vryheidsoorlog het hy by die Eerste Republikeinse Magte aangesluit.
Hy sluit ook aan by 'n afvaardiging wat deur die Republiek na Europa gestuur is om die inmenging van vreemde moondhede in die stryd te verkry. Met die toekenning van die verantwoordelike
regering aan Transvaal, word hy 'n senator. In 1928 oorlede (Rosenthal: 598).
Bothastraat
Bothastraat is 'n heeltemal ander tipe straat. Eerstens omdat Bothastraat nie eintlik deel uitmaak van die Transvaalbuurt nie, en tweedens omdat die huise
in Bothastraat groter
is en gebou is vir welvarender mense. Die Transvaalbuurt lê verder noord as Bothastraat en was ontwikkel as arbeidersbuurt.
Bothastraat kom uit by die Ryn se oewer, terwyl die Transvaalbuurt omring is deur strate en spoorweë.
Met die naam Bothastraat wou die munisipaliteit ongetwyfeld eer betoon aan generaal Louis Botha, wat tewens 'n staatsman was. Hy was op 27 September 1862 naby
Greytown in Natal gebore. Sy familie (en derduisende ander Botha's s'n - MRB) was oorspronklik uit Duitsland, waar dit as Boot bekend gestaan het. Hy was die seun van 'n
Voortrekker en het 'n Duitse sendingskool besoek. Hy gaan as kind saam met sy ouers na die Vrystaat.
Die end van Bothastraat in Leiden, met die Ryn, treurwilgers en Noordman se houtsaagmeul in die agtergrond.
Klik op die prentjie vir 'n groter weergawe! (Foto: Marcel Bas) | |
As 'n skaapboer trek hy met sy vee na Zoeloeland en raak betrokke
in politieke aangeleenthede. Nadat hy homself onderskei het in die Boeremagte wat die Zoeloes in stamoorloë gesteun het, was Botha een van die stigters van die
'Nuwe Republiek' ('n gebied in die noorde van Natal wat in 1884 as blyk van dank vir oorlogshulp aan die Boere oorgedra is deur Zoeloe-opperhoof Dinizulu - MRB) wat sy
hoofkwartier op Vryheid gehad het. Na die ontbinding van die republiek het hy na Transvaal getrek. In 1895 is hy namens die Suid-Afrikaanse Republiek in Swaziland
gestasioneer om na die belange van sy land om te sien, en in 1897 word hy lid van die Volksraad. Teen dié tyd is hy reeds beskou as 'n man met buitengewone
talente. Toe die Tweede Vryheidsoorlog uitbreek, sluit hy aan by die Boeremagte as Assistent-Generaal onder generaal Lukas Meyer. Hy het 'n leidende aandeel in
die gevegte by Ladysmith, Colenso en Spioenkop. Met die dood van generaal P.J. Joubert (sien by Joubertstraat - MRB) op 27 Maart 1900, is Botha aangestel as
Kommandant-generaal van die Transvaalse magte. In die hoedanigheid het hy sy uitstaande gawes getoon ten spyte van die ongunstige verloop van die oorlog. Ten spyte van
sy persoonlike sjarme het hy 'n sterk wil gehad en verskeie onbevoegde onderhoriges afgedank. Met verloop van tyd het hy besef dat die stryd hopeloos was. Op 7 Maart
1901 begin hy met Lord Kitchener onderhandel, maar hulle kon nie 'n ooreenkoms bereik nie. In April 1902 het hy 'n leeue aandeel gehad in die reëlings wat gelei
het tot die Vredeskonferensie op Vereeniging (sien by De Wetstraat vir meer besonderhede - MRB). Hy was een van die ondertekenaars van die finale
verdrag.
Bothastraat in Leiden (Foto: Marcel Bas) | |
Nadat dit afgehandel is, het hy besluit om die verlede te vergeet en hom aan te pas by die nuwe omstandighede. Dit het uiteindelik daartoe gelei dat hy vervreemd geraak
het van 'n groot deel van sy volk, maar hy was nog sterk en neem die leiding in die samestelling van 'n nuwe party, bekend as Het Volk. As die erkende leier van die
Boerevolk was hy feitlik die onbetwisbare keuse as die Eerste Minister van Transvaal toe dit verantwoordelike bestuur gekry het in 1907.
Na die Nasionale Konvensie, waarheen hy 'n afgevaardigde was, is hy gekies as die eerste Premier van die Unie van Suid-Afrika. Kort daarna volg die breuk met generaal
J.B.M. Hertzog (sien ook by Jan C. Smutsstraat - MRB), maar hy bly aan as Premier en beskik nog oor groot prestige. Die uitbreek van die 1914-Rebellie was vir hom 'n bron
van groot verdriet en kommer. Hy het die opstand onderdruk en het die aanval op Duits Suidwes-Afrika gelei wat in 1915 suksesvol beëindig is. Daarna is hy oorsee
en is met groot respek behandel. Generaal Botha was teenwoordig op die Vredeskonferensie van Versailles in 1919, en het die ondertekening namens die Unie van Suid-Afrika
waargeneem. Teen dié tyd het sy gesondheid reeds agteruitgegaan en op 27 Augustus van dieselfde jaar is hy op 57-jarige ouderdom in Pretoria oorlede (Rosenthal: 66-7).
Geraadpleegde boeke:
Pakenham, Thomas (1979, 1999). Die Boere-Oorlog. Johannesburg: Jonathan Ball Uitgewers
Rosenthal, Eric (1967). Ensiklopedie van Suidelike Afrika. Kaapstad: Central News Agency, beperk
Voorschoten, 1 Februarie 2014.
|