Referaat gelewer tydens die konferensie 'Identiteitspolitiek: probleem of geleentheid?' in die Gemeenskapsaal in Orania op 11 Augustus 2007.
Polities inkorrek: prof. Couwenberg
In die tagtigerjare – 1980, om presies te wees – het die Nederlandse professor S.W. Couwenberg
in samewerking met ander skrywers 'n boek uitgegee, getiteld De Nederlandse natie. Wat hy met die
publikasie daarvan beoog het, was bloot die verskaffing van 'n definisie van wat dit beteken om 'n
Nederlander te wees, en wat die kenmerke van Nederland en sy inwoners is. Die belewing van die nasionale
identiteit was toentertyd minder vanselfsprekend as wat dit twee dekades daarvoor was. Op daardie stadium
het Nederland alreeds 'n dekade van massa-immigrasie beleef, wat die land ingrypend verander het.
Couwenberg het dit erken
en hy het gemeen dat dit belangrik was om 'n nuwe nasionale identiteit te skep om die gemeenskaplike gevoel
wat 'n stabiele nasie kenmerk, te waarborg.
Die reaksies van die gevestigde media en opiniemakers was eenparig: hierdie boek, en Couwenberg,
is rassisties want as jy van Nederland as ʼn nasie praat, sluit jy ander mense – wat nie deel van hierdie
nasie kan of wil wees nie – uit. Couwenberg se later pleidooi vir verpligte Nederlandse taalonderrig vir
anderstalige immigrante om volledig binne die Nederlandse samelewing te kan fungeer kon dieselfde reaksie
verwag: om jou taal aan ander mense op te dring is onverdraagsaam en rassisties. Baie politici het selfs
gesê dat ons nou in ʼn wêreld van wêreldburgers lewe en dat die Nederlanders net sowel Turks of Marokkaans
kan leer om die Turkse en Marokkaanse immigrante te verwelkom. Tot hierdie dag is daar geweldig baie
immigrante van die
eerste dekade wat nouliks Nederlands kan praat. Hul kinders fungeer nog steeds as 'n tolk en tussenganger.
In 2001 het Couwenberg 'n nuwe kans gekry: hy publiseer die boek Nationale Identiteit: Van
Nederlands probleem tot Nederlandse uitdaging. Hoe toepaslik is dit. Die reaksies was lowend.
Couwenberg en sy
skrywers het daarin geskryf dat die nuwe intellektueel nie langer progressief is nie, maar konserwatief. Die
intellektueel stel belang in wat weggesteek of onbespreekbaar is.
Een van die redakteurs van die boek is
die Vlaamse 'bijzonder
hoogleraar' Ludo Beheydt, wat oor die nasionale
"Die intellektueel stel belang in wat weggesteek of onbespreekbaar is."
| |
en kulturele identiteit in die Lae Lande skryf (die Lae Lande sluit Nederland en België in).
Hy plaas dié Laaglandse identiteit teenoor die huidige globalisering en
oënskynlike kulturele verlies, wat veroorsaak word deur die
Europese Unie wat na na meer sentralisering van bestuur en produksie strewe, terwyl dit
probeer om plaaslike markte, betaalmiddele en produkte af te skaal.
En Eimert van Middelkoop, wat tans (2007) minister van Defensie is, skryf in die boek oor die teloorgang van nie net die christelike geloof in Nederland nie, maar van alle geloof wat ʼn nasie – ʼn gemeenskap – lewendig hou.
Nuwe waardering vir identiteit
Die nuwe intellektuele in Nederland is dus konserwatief. Maar ʼn mens kan hulle orals aantref. Hulle besef dat de identiteitskrisis waarin ons ons nou bevind ernstige gevolge kan hê vir ʼn vreedsame samelewing.
Nederland is hierop geen uitsondering nie, al het Nederland wel ʼn tradisie van ʼn grote gematigdheid en bedaarde nasionale trots. Dit kan ʼn mens sien as jy Nederland met Vlaandere vergelyk.
Identiteits- en geloofskrisis
Europa in sy geheel bevind hom in ʼn identiteits- en geloofskrisis. Ons kan dit maar vergelyk met die Afrikaner van vandag. "Wat is ʼn Afrikaner?" "Wat beteken dit om Afrikaans te wees?" Dit is van die vrae wat van die Afrikaners blykbaar hoofbrekings kan kos. Vir die meeste mense is so 'n vraag nogal sinloos omdat jy Afrikaans voel, of jy weet nou maar dat jy 'n Nederlander - 'n Europeër is, en dit is voldoende. Dit is ʼn identiteit wat jy nie gekies het nie; dit is ʼn lotsbestemming, en dit lê diep. Dit sal u nouliks verbaas as ek u vertel dat veral akademici met hierdie vraag sukkel. Die kwessie omtrent identiteit is dan ook ʼn hoofsaaklik filosofiese een. Vra u vir enige lid van die Xhosavolk of van die Zoeloevolk "Wat is ʼn Afrikaner?", dan sal hy jou een kan wys. Blykbaar is daar kenmerke waarvan ander groepe hulle beter bewus is.
Antropologiese perspektief
Dit lyk asof sowel die Afrikaners as die Nederlanders binne hul geledere ernstige twyfel belewe. Die Nederlandse filosoof Ton Lemaire het aangetoon dat Europa se toenemende antropologiese wyse van benadering een van die filosofiese vernuwinge van die afgelope eeue is. Ons lewe in ʼn toenemend kleiner wordende wêreld en ons sien dat daar ander kulture bestaan met eweneens goed fungerende sisteme, maar met radikaal afwykende wêreldbeskouings. Dit laat ʼn mens dink… Is ons beskawing dalk nie net een van die wêreld se beskawings nie?
Ons Europeërs het die wêreld gekoloniseer en ons het geleer om nie enige man in die middel van ʼn groep toehoorders as ʼn opperhoof, kaptein of oudste te kenmerk nie. Dit kon ook ʼn siener gewees het, of ʼn geneser. Of ʼn besoeker van ʼn ander dorp. Ons het geleer dat die meeste kleiner en groter kulture gelei of begelei word deur ʼn bestuurlike aristokrasie wat tewens ʼn geestelike aristokrasie is. Behalwe in Europa. In Europa ken ons die skeiding tussen kerk en staat. As ons probeer om ons eie Europese beskawing op ʼn antropologiese manier te beskou – dus sonder voorafbepaalde oordele of aangeleerde verwysingsraamwerke – dan sien ons… ʼn minder hegte beskawing met ʼn klomp verdwynende godsdienste, met baksteen huise, verharde paaie, ʼn grootliks gekultiveerde natuur en nie meer ons warm nes, ons bakermat, ons absolute waarheid nie. Dit is hierdie afstandelike manier van beskou wat ons aan onsself laat twyfel het, en waarom politici in Europa dit moeilik gevind het om oor sake soos tradisies, identiteit en waarhede te praat. Kultuur het iets subjektiefs geword, en dus iets wat minder waaragtig en minder waardevol is as 'objektiewe' bevindings.
Die ontstaan van liberalisme en die getalsbeheptheid
Die oorsaak van hierdie relativisme vind ons terug in die ontstaan van die liberalisme vanaf die laat Middeleeue: Liberalisme het ʼn beheptheid met aantalle. Dit het voortgevloei uit die behoefte om alles te beredeneer, apart van die onstoflike en
"Met die toenemende mobiliteit van burgers en die ontstaan van die nuwe – lae – koopmanklasse het die invloed van die plaaslike
aristokrasie afgeneem."
| |
onberekenbare wêreld van tradisies en die hierbo genoemde besef van lot en verbondenheid met die hier, die nou, en die grond (soos wat die Middeleeuers gekenmerk het - hul wêrelduitkyk was baie holistieser). Die Europese geskiedenis word sedert die laat Middeleeue gekenmerk deur ʼn behoefte aan syfermatige, rasionele en universele waarhede.
Met die toenemende mobiliteit van burgers en die ontstaan van die nuwe – lae – koopmanklasse het die invloed van die plaaslike aristokrasie afgeneem en het die mense gesoek vir alternatiewe op tradisie en kleinskaligheid: vooruitgang, wins, wetmatigheid, 'n meganiese lewensuitkyk, wêreldburgerskap, indiwiduele mag, beweeglikheid..
Descartes
Descartes was die eerste filosoof wat hierdie rasionalisme sy uitvoerige beskrywing verleen het: hy sê die wêreld is ʼn dualiteit wat slegs bestaan uit stof en bewuste substansies. Dus stof brei uit, dit is deelbaar en dit is ruimtelik. Daarteenoor stel Descartes die bewuste substansie, wat beperk is, ondeelbaar en nie-ruimtelik. Die menslike lewe word daarby in verband gebring met die indiwidu se rasionele vermoëns en die objektiewe (of eksterne) wêreld met 'n groot aantal onverwante stoflike voorwerpe. In plaas daarvan dat die werklikheid as ʼn holisme met mekaar aanvullende en in mekaar vloeiende stoflike en geestelike dimensies gesien word, het Descartes die filosofie van die 'organiese wese van die hele menslike wese' weggelei en na die 'epistemologiese verhoudings van subjek – objek' (dus gees – stof) gebring.
Hieruit sou later die subjektivistiese versus die objektivistiese - idealistiese – en materialistiese wêreldbeskouing voortkom. Dit het bygedra aan die ontstaan van liberalisme. Maar veral Descartes se fokus op stoflikheid as ʼn homogene, telbare substansie het die rasionalistiese grondslae van liberalisme gevorm. Dit het die Europese lewe toenemend in kwantitatiewe terme probeer verklaar en alles wat te make gehad het met tradisie en erfenis na ʼn tweede plek geskuif. Geen wonder dat die vervreemdende massa-demokrasie en massa-vermaaklikheid, verbruikerskultuur, die gelykheidsideaal en die globalisering – soos wat ons nou in Suid-Afrika en in Europa sien – deel is van die liberalistiese projek nie. Om soos vandag in terme van klein gemeenskappe, identiteit, lot en herkenbaarheid te praat is om te torring aan die belangrikste erfenis van liberalisme.
Dit is ook interessant om op te merk dat die Reformasie ook bygedra het aan die prometeïese neiging tot indiwiduele bemagtiging en die afskaffing van tradisie: voorheen het die Katolieke Kerk die tradisie verskaf, het die pastoor voorgelees wat waar is, sy interpretasie daarvan gegee, en was die mense katoliek omdat hulle deel was van ʼn gemeenskap. Soos die Pole van vandag: jy is Katoliek omdat jy Pools is. Die Reformasie en die uitvinding van die boekdrukkuns het mense handvatsels gegee waarmee hulle hul eie waarheid kon ontdek. Dit hierdie is die ander hupstoot vir ʼn toenemend rasionele lewensuitkyk. Dit het alles groot gevolge gehad vir ons later belewing van identiteit, want identiteit is nie altyd beredeneerbaar nie.
Identiteitspolitiek in Nederland: geskiedenis
Dit ly geen twyfel dat Nederland ʼn groot probleem met identiteit het nie. Nederland was altyd ʼn volk van pragmatici. Ons land word al 'n anderhalwe eeu gekenmerk deur rus en 'n gebrek aan stryd. In die 16de eeu het ons land tesame met die huidige België en Luxemburg onder die aanmoediging van Willem van Oranje losgeraak van die Katolieke en toenemend vervreemdende Habsburgse Ryk. Daarna het dit rustig geword in Noord-Nederland – d.i. die huidige Nederland, en na die Franse Revolusie het Napoleon se broer enkele jare oor Nederland, wat al 'n republiek was, geregeer.
Een van die bekendste Nederlandse wêrelderfenisse is die VOC: ʼn groep besigheidsmense wat nie juis belanggestel het in die plaaslike kulture nie, en wat ewemin belang gestel het in hul eie kultuur as uitvoerproduk. Dit was iets anders as die Britse Empire, wat gepoog het om – byvoorbeeld – (by monde van Alfred Milner) die Boere uit te roei, of om ander boorlinge soos Singalese, Australiese boorlinge, Maori en Indiërs grondig te verengels. Tot vandag speel almal vrolik rugby, krieket en kan hulle Engels praat. Die enigste kolonie wat – ʼn tipe van – Nederlands praat is Suid-Afrika, teen wil en dank (Afrikaans het immers in weerwil van die Hollandse onderwysers onder die eie mense en hul nasate ontstaan, terwyl die doel van die Kaapkolonie bloot ʼn verversingspos vir die VOC-skepe was). Die VOC het die 17de- en 18de-eeuse Nederlandse mentaliteit goed weergegee: grondig, berekenend en soms gewelddadig as geldelike belange geskaad word.
Die 19de eeu het die opkoms van ʼn mondige, liberale burgery gewys. Die Nederlandse stedelike bevolking het ʼn radikale vorm van die Verligting omarm en dit het gelei tot ʼn vrysinnige land, wat nie alte veel van gesag gehou het nie en wat in die agtiende eeu die eerste bogenoemde (Bataafse) Republiek in Europa geskep het. Die bloedige geloofstryd tussen Katolieke en Protestante in die Sestiende eeu het die Nederlanders geleer dat godsdiens gevaarlik kan wees. Uit hierdie bewussyn het die 19de-eeuse Nederland ʼn – sowaar – nasionalistiese era geskep. Ons identiteit is nuut: ons het België in 1830 verloor en ons wou nooit weer Frans wees soos tydens die oorheersing van Napoleon nie.
Die nuwe liberale Grondwet van 1848 het voorsienings getref vir Protestante en Katolieke om langs mekaar te lewe, waarby die Katolieke minder regte gehad het as die Protestante. Maar nou was daar die nuwe identiteit: die nasionale identiteit. De nuwe Koningshuis van Oranje was deur die anti-Franse Engelse ingestel, en Nederland het homself verryk met tamaaie nasionale museums, nasionale simbole, nasionale paleise, nasionale kunsuitings, ʼn nuwe geskiedskrywing, ens. Die erg nasionalistiese burger het homself as kern en beliggaming van die nasionale selfbewussyn beskou. Daar was een onderwysstelsel (want die volk was godsdienstig verdeeld), met christelike en burgerlike deugde.
Die Eerste en Tweede Vryheidstryd in Suid-Afrika het hierdie trots nog ʼn ekstra dimensie gegee: skielik dink ons dat die onverskrokkenheid van die Boere dieselfde onverskrokkenheid is waarmee ons voorouers die Spanjaarde van die Habsburgse Ryk verdryf het. Die Geuse van die 19de eeu is gebore! Nederland kon nie veel doen om die Britse Empire te stuit nie, bang as ons was vir die lot van ons eie kolonies en vir die magtiger Britse vloot.
In 1914 was ons neutraal; die Eerste Wêreldoorlog het ons laat besef dat ons ʼn aparte land is met ʼn gematigde aard. Die jare 1940-1945 het ons egter pynlik daarvan bewus gemaak dat nasionale neutraliteit slegs gewaarborg kan word as die ander groot moondhede toestem tot jou geopolitieke posisie. En ons het besef dat ons dapper mentaliteit ook in tye van nood nie geweldig groot was nie.
Immers, die betreklike klein aantal Nederlanders wat hulle teen die Duitse oormag verset het en die feit dat polisie, munisipaliteite en spoorweë meestal sonder protes bygedra het aan die wegvoering van Jode, Sigeuners en onwillige intellektuele na konsentrasiekampe, het ons tot in die 21ste eeu ʼn nasionale, sielkundige kompleks gegee. Dit was ʼn verlammende skuldgevoel wat bygedra het tot die bogenoemde angs om jou uit te spreek voor assimilasie of integrasie van vreemde immigrantekulture binne jou staatsgrense (deur byv. Taalonderrig) of om sommer te pleit vir jou eie nasionale identiteit.
Suid-Afrika na 1948 en Nederland
Ons regering het sedert 1948 Suid-Afrika met belangstelling dopgehou. Dit is interessant om op te merk dat die grondige denazifikasie in Nederland na 1945 juis nie in Suid-Afrika plaasgevind het nie. Die hele Nazistiese idee van ʼn biologiese identiteit – ras en rassuiwerheid – was in Nederland eenparig as onrealisties en gevaarlik beskou. In Suid-Afrika was dit met die bevindings van die Tomlinsonverslag en wette soos die Immorality Act, of Ontugwet, juis een van die belangrike beleidspunte. Hierdie sielkundige kloof met Suid-Afrika het ongelukkig daartoe gelei dat Nederland een van die felste teenstanders van hierdie land geword het. Ons eie regerings in die Sewentiger-, Tagtiger- en Negentigerjare kon nie meer aanvaar dat daar ʼn beskermenswaardige Nederlandse identiteit was nie, en die Suid-Afrikaanse voorbeeld het net gewys wat kon gebeur as verwante van Nederlanders hul identiteit te ernstig neem, net soos wat die Duitsers in die Veertigerjare gewys het.
Die Nederlandse politiek het Suid-Afrika uitgesluit, verban en bestry. Ek dink dat die Afrikanerkultuur die woeste jongmense van die Sewentigerjare aan hul eie verlede herinner het: ʼn vreeslike groot aantal van hierdie nuwe leiers het self voortgekom uit ʼn tradisionele, ortodoks-gereformeerde milieu. Dit was ʼn verlede waarvan hulle ontslae wou raak.
Amerikanisering en die bestuurderstaat (managerial state)
Hierdie nuwe generasie van politici en intellektuele het grootgeword onder die nuwe Amerikaanse bedeling. Vir sommige mense is die Amerikaanse bevryding van Europa egter ʼn besetting.
"In meer 'inhoudelike' debatte was alles wat vanuit die ouer Europese tradisie gekant was teen die Amerikaanse gelykheidsdenke, gemakshalwe "fascisties" verklaar."
| |
Ons het in ruil vir Marshallhulp belowe dat ons Coca-Cola en ander Amerikaanse produkte - en lewensfilosofieë - sou koop. Die liberale managerial state met sy massademokrasie was gebore. Ons was mal oor Amerika, en in Duitsland was filosowe van die Konservative Revolution selfs gedwing om hul biblioteke te laat konfiskeer of hulle was tronk toe gestuur omdat hul idees te konserwatief-Europees was. ʼn Nuwe woord kon nou aangewend word om te bepaal of iemand sedelik korrekte (op gelykheidsdenke en Pax Americana gestoelde) idees of verkeerde idees het: jy was "Fout", of jy was "Goed". Net soos tydens die Tweede Wêreldoorlog, toe kollaborateurs met hierdie kwalifikasies uitgeken kon word. In meer 'inhoudelike' debatte was alles wat vanuit die ouer Europese tradisie gekant was teen die Amerikaanse gelykheidsdenke, gemakshalwe "fascisties" verklaar.
Selfsensuur
Daar was dus sprake van ʼn sterk self-sensurerende meganisme met sterk links-liberale voorkeure, met ʼn groot angs vir identiteite wat niks te make had met een of ander sosiale stryd soos feminisme of klassestryd nie. Maar daar was in die Sewentiger-, Tagtiger- en Negentigerjare sekere organisasies wat wel identiteit in die kollig wou plaas: van die organisasies was die Nederlands-Zuid-Afrikaanse organisasies, en ʼn politieke party; die Sentrumparty. Hulle het swaargekry. Byvoorbeeld: van die Nederlands-Zuid-Afrikaanse Vereniging NZAV (wat sedert die Tweede Vryheidstryd in Suid-Afrika bestaan) was die helfte van die biblioteek se ou boeke deur 'antifascistiese' teenstanders geplunder en in die kanaal gegooi.
Die Sentrumparty het hom in die vroeë tagtigs beywer vir die beskerming van Nederlandse Staatsburgerskap – in feite ʼn Gaullistiese standpunt. Maar die politici van hierdie party was geweer uit alle debatte, omdat van die mense die rassistiese dwaling ʼn te menslike gesig kon verleen het. Dit sou ook rassistiese propaganda wees om opgeleide rassiste met vriendelike gesigte ’n kans te gun om die verhoog te betree. Verbanning was die antwoord.
Nederland was ʼn ontsettend tolerante land; maar slegs vir sy eie toleransie. Soos wat die Franse sê: "La tolérance qui ne tolère qu' elle même." 'n Absolutistiese relativisme, sou die Britse filosoof Roger Scruton sê.
Nuwe tye
Die volgende agt sinne het ek al pratende bygevoeg terwyl ek afgewyk het van die geskrewe teks van die referaat - MB)
Vir die Nederlanders van die Sestiger-, Sewentiger-, Tagtiger- en Negentigerjare was nasionale trots 'n verskynsel wat afgekeur moes word. Ons Calvinistiese neiging om onselfsugtig, moreel verhewe en beskeie te wees, het tot 'n snaakse, dubbelsinnige houding ten opsigte van nasionalisme gelei. Ons buurvolke was vir ons slegte voorbeelde: die Franse was vreeslik nasionalisties, die Duitsers was
nasionaal-sosialiste en die Britte was 'n veels te trotse, eng eilandvolk met gekke tradisies. Die trotse nasies rondom ons was die ontkenning van ons, wat nasionale trots wantrou. Nederlanders was en is mense wat graag wys dat hulle polities korrek is, regverdig dink en dat hulle weet wat reg is. Soos u kan sien, het die Nederlanders 'n gevoel van nasionale trots ontleen aan die idee dat hulle, in teenstelling tot hul nasionalistiese buurvolke, nie nasionalisties is nie. Dit is natuurlik 'n absurde situasie, maar die Nederlanders as nasie is nog steeds trots daarop. Ons dink, daarenteen, dat ons tolerant is. Ons nasionalisme is dus die ontkenning van nasionalisme.
(Daar is 'n sagte gelag in die saal - MB)
Maar sedert die opkoms van die populis Pim Fortuyn, die aanval op die Twin Towers in New York en sedert ʼn toenemend konserwatiewe intellektuele konstellasie sien ons dat identiteitspolitiek ʼn groot hupstoot gekry het. Ons vind onsself gekonfronteerd met ʼn reuse immigrasie van mense wat wonder wat ʼn Nederlander is. Ons eis deesdae van immigrante dat hulle hulself aanpas aan ons kultuur en dat hulle dele van ons identiteit aanneem. Maar hoe kan ons van ander mense so iets eis as ons nie eers weet wat nou hierdie Nederlandse identiteit is nie?
Wat in die 19de eeu gebeur het, gebeur nou dalk weer. Die meeste politici het besluit tot 'n nasionale museum, tot ʼn nuwe nasionale vaderlandse geskiedskrywing om ons jongmense trots en bewus te maak van hul nasionale identiteit. Selfs die sosialiste van die Socialistische Partij ondersteun die idee van ʼn National Museum – nee wat meer is: die leier van hierdie party het hierdie plan selfs geïnisieer! Die voorheen links-liberale skrywer Jan Blokker het selfs met sy boek Het Vooroudergevoel 'n pragtige bydrae gelewer aan die nuwe Historische Canon.
Vir dekades was Vaderlandse Geschiedenis op skole hanteer as iets outyds en iets engs. Nou het die pendulum heeltemal na die ander uiterste oorgeswaai. Dit is baie interessante tye. Nou is daar polities korrekte politici wat durf sê dat immigrante wat in ons land nie tuisvoel nie, beter na hul eie land terug kan gaan. Dit sal immers nie die nasionale samehang bevorder nie.
Maar daar is nog altyd die mense wat ril vir nasionale identiteit: die bekende skrywer en opiniemaker Elsbeth Etty ('n gewese Marxis) het nog gesê: "Dit is een niet ongevaarlik cultuurnationalisme". Of, in die raamwerk van die Michiel de Ruyterviering vanjaar het sy gesê: "De Nazi's gebruikten Michiel de Ruyter ook om een nationaal besef in Nederland te kweken." Dat die Duitsers dit gedoen het om die aandag van die Koningshuis - wat in ballingskap in Kanada gebly het - af te lei, moet egter ook genoem word.
En die bekende skrywer Marcel Moering het geskryf: "Nationale identiteit is een fictie." En: "Klassebindingen zijn belangrijker dan
nationale bindingen." Of hierdie een: "Ik heb geen binding met wat Nederlands is."
Hy het dit dalk nie, en dit "wat Nederlands is" is miskien ʼn fiksie, maar nie alles
is rasioneel verklaarbaar
nie. Die onvermoë om iets rasioneel te verklaar maak die bestaan 'n konsep egter nie minder moontlik en
noodsaaklik nie. Daar is meer as bewussyn en rede.
Daar is ook eenheid, gemeenskap, gevoel en samehang.
Volgens professor Couwenberg praat hierdie twee mense egter wel van tipies Nederlandse eienskappe as dit vir hulle vanpas is. Soos wanneer hulle wil aantoon dat Nederlanders nogal eng is, of dat hulle ander slegte eienskappe het. Dan is dit "typisch Nederlands"!
Ons weet nou in elk geval vanuit watter gesigspunt hierdie menings kom. Dit lyk egter dat ons ons identiteit herontdek, en dat ons dit geniet. Ek dink dan ook dat dit nou die tyd is vir Afrikaners om hulle identiteitskwessie aan Nederland voor te lê. Ons moet die yster smee as dit warm is.
Marcel Bas
Orania, Suid-Afrika, 11 Augustus 2007
Hierdie artikel is op Die Roepstem gepubliseer op
Vrydag 11 Januarie 2008.