Onderhoud wat Jakes Möller met Marcel Bas van Die Roepstem gevoer het vir die rubriek In Diepte in die Februarie-uitgawe in 2008 van
die Oraniabeweging se tydskrif Voorgrond. Dit volg op die konferensie in die Afrikanerdorp Orania
waar Bas op 11 Augustus 2007 'n referaat oor identiteitspolitiek in Nederland
gelewer het.
-----------------------
Die Nederlander, Marcel Bas, het ‘n jarelange
belangstelling en verbintenis met Afrikaans en
Afrikaners. Verder is hy ook ‘n Nederlandse
en Afrikaanse taal- en kultuuraktivis wat
vanuit hierdie gemeenskappe ‘n weerwoord
op die globalisme wil bied. Na ‘n ontmoeting
met verteenwoordigers van Orania is hy
uitgenooi om as spreker by die konferensie oor
identiteitspolitiek in Orania op te tree.
1. Vertel ons kortliks wat jy doen,
waar jy woon en waarvandaan
jou belangstelling in Suid-Afrika,
Afrikaners en Afrikaans kom.
Ek woon sedert my kinderjare in die mooi
Suid-Hollandse dorp Voorschoten. Sedert
1998 werk ek as ’n voorligter en daarna
as ’n fasilitêre koördineerder by ’n groot
onderwyssentrum in Leiden. Daarnaas
studeer ek Taalkunde by die Universiteit
van Leiden en verrig ek vertaal- en
redigeerwerksaamhede.
My belangstelling vir Afrikaans het begin
toe ek agtien jaar oud was. Ek het lankal
belanggestel in oorsese afstammelinge van
die Nederlandse volk en toe ek Afrikaans
op die radio gehoor het, was ek betowerd.
Al wat ek wou doen was om meer te
wete te kom oor hierdie taal, sy mense
en hulle kultuur. Nederland was egter baie
afkeurend ten opsigte van Suid-Afrika. In
die negentigerjare kom ek egter agter dat
Nederlanders baie eensydige inligting oor
die land gekry het en dat daar geen spesiale
belangstelling in Afrikaans en sy kultuur
was nie. Dit het ek baie vreemd gevind:
ons is julle broedervolk, maar al wat ek
gevind het was die negatiewe propaganda
en daardie ongeïnteresseerdheid in julle
taal en ’n ontkenning van ons besonderse
eenheidsband. En andersyds was daar
hierdie fanatisisme waarmee mense in
Nederland hulle liberale politieke ideale
op Suid-Afrika wou projekteer. Dit het my
nog meer vasberade gemaak om uit te vind
wie die Afrikaner en sy taal is, sonder om
deur die algemene mening vertel te word
wat ek oor die Afrikaner en sy land mag
dink en te wete mag kom.
2. Waarom het jy Die Roepstem tot stand gebring?
Ek het die webwerf in 1999 begin,
aanvanklik net om teenkanting te bied
teen die gebrekkige belangstelling in
Nederland t.o.v. die afskaling van Afrikaans
in Suid-Afrika. Nederlanders het mos
geglo dat Suid-Afrika ’n regverdige land
was en dat alles sou regkom as daar
vryheid van spraak en demokrasie is. Ek
wou wys dat daar egter ook ’n verbete
kulturele stryd vol van vergeldingsdrang en
diskriminasie besig was om in Suid-Afrika
te ontvou, en dit vereis spesiale kulturele
betrokkenheid en besorgdheid vanuit
Nederland en Vlaandere. Later het Die
Roepstem ook die Nederlands-Vlaamse-
Suid-Afrikaanse eenheid benadruk en
het ek artikels oor nasionale en plaaslike
identiteit en trots geskryf. Verder het
ek Afrikaans-Nederlandse woordelyste
saamgestel, artikels oor Nederland binne
Europa geskryf en artikels oor Europa as
beskawing. Verskeie outeurs het aangesluit
met hul eie sienings en kennis, soos oor
die Lae Lande, oor kultuurgeskiedenis
en oor die Boere in Argentinië.
3. Wat is die huidige stand van identiteitspolitiek
in die Lae Lande en ook groter Europa?
Behaal partye wat hulle besig hou met
identiteitspolitiek (ek dink bv. aan Leefbaar
Rotterdam, Partij voor de vrijheid en
(voorheen) Lijst Pim Fortuyn) sukses?
Nee, dié partye se huidige stand is sleg, en self bereik
hulle maar min (behalwe vir Leefbaar Rotterdam in
die stadsraad van Rotterdam). Maar laat my eerstens
sê: ek glo nie dat partypolitiek of demokrasie die
regte metodes en meganismes is om ‘n krisis te
keer wat deur die einste metodes en meganismes
ontstaan het nie. Nee, identitêre partye stort na
‘n paar jare gewoonlik in duie. Identitêre politieke
partye kry die wind van voor in Nederland, omdat
hulle ‘n gevaar vorm vir die bestaande, gevestigde
politieke partye se gedagtegang. Hulle bevind hulself
gewoonlik onder hoë druk, soos die Centrumpartij,
Centrumdemocraten, Lijst Pim Fortuyn en Nieuw
Rechts. Dié partye maak daarnaas gebruik van ‘n
onaantreklike en simplistiese populisme waardeur
hulle aan hulself die rol van die enkeling teen die
res toeken. Hierdie taktiek slaag aanvanklik daarin
om ‘n groeiende aantal kiesers te werf. Dit jaag dan
die gevestigde partye groot skrik op die lyf. Maar
populisme is nie bevorderlik vir ‘n indringende
benadering tot probleme en beleid nie en dit fnuik
hierdie partye se geloofwaardigheid (soos by die Partij
voor de Vrijheid van Geert Wilders). ‘Underdog’-
partye trek baie kiesers, maar hulle versamel ook
politieke opportuniste en onbetroubare enkelinge
sonder visie (Lijst Pim Fortuyn, Nieuw Rechts), wat
moeilik kan saamwerk binne ‘n partyraamwerk. Hulle
raak verblind deur hul eie gewildheid, neig om hulself
te oorskat en word gekenmerk deur oorhaastigheid
en drang tot aksie binne hul eie geledere. Daarom
dink ek nie dat partikrasie
"Identiteitsbewussyn by inheemse Nederlanders word as verdag beskou"
| |
die
regte manier is om iets in Europa
te verander nie. Die gevestigde
partye neem egter heelwat van
hierdie standpunte oor, waardeur
identiteitspolitiek darem wel binne
liberale raamwerke uitgevoer
kan word. Vandag se liberale en
christelike partye lyk heelwat
trotser op die Nederlandse
identiteit as gedurende die
negentigerjare. Dieselfde het
gebeur in die res van Wes-Europa.
In Frankryk het die Gaulliste
van Sarkozy baie patriotiese,
anti-islamitiese en anti-Amerikaanse standpunte
oorgeneem van enkelinge of nasionalistiese partye
soos die Front National, Philippe Séguin en Philippe
de Villiers. ‘n Mens kan sê dat identiteitspolitiek ‘n
goeie hupstoot gekry het, danksy die alledaagse
werklikheid (immigrasie, identiteitskrisis) wat op
die ou end nie meer ontken of geïgnoreer kon word
nie. Die identiteitspartye het dit nie reggekry nie,
maar wel die liberale partye wat hulle standpunte
oorgeneem het. Dit is op sigself nie negatief nie,
maar wel heeltemal roemloos vir dié mense wat
binne die identiteitspartye alreeds in die tagtigs en
die negentigs gepoog het om die krisis te beredder.
4. Watter probleme ervaar Nederlanders wat ‘n eie identiteit bevorder in hul eie ('autochtone') geledere?
Dit hang af. Daar is teenkanting en uitsluiting, tensy
jy dit binne die raamwerk van ‘n liberale party
probeer bevorder. Nederlanders is geen kulturele of
moedige volk nie; ons is handelaars. Ons sal self sien
hoe lank ons dit kan volhou. Identiteitsbewussyn
by inheemse Nederlanders word as verdag beskou
en daarnaas glo Nederlanders dat dit gevaarlik is
omdat die Tweede Wêreldoorlog en die
Holocaust ons gewys het wat identiteitstrots
by die meerderheid van ‘n volk kan doen. Sulke
wanpersepsies bestaan nog steeds. Identitêre groepe
is baie klein en het min invloed. Mense is meestal
bang vir hulle eie toekomstige werksgeleenthede
en geloofwaardigheid. Buiteparlementêre
identiteitsgroepe word nie ernstig opgeneem nie,
of gestigmatiseer as rassisties en fascisties, sodat
sulke partye onder baie druk verkeer. Grondwetlik
gesien is daar volkome vryheid vir sulke groepe om
te sê en te skryf wat hulle wil, maar die praktyk is
anders. Eerstens is daar die gevaar dat aktiewe lede
tot ver in die toekoms gestigmatiseer word deur
die gevestigde orde, tweedens is daar die gevaar
dat anarchistiese en selfverklaarde antifascistiese
groepe op ‘n gewelddadige wyse, wat hulle beskou
as verregse byeenkomste, versteur en lasterlike
dinge oor dié organisasies en individue skryf, en
derdens is daar die binnelandse intelligensiediens
wat dergelike groepe infiltreer en lede manipuleer.
Ek ken twee mense wat sedert die Negentigerjare
nog steeds ly onder ‘n beroepsverbod omdat hulle
party – die Centrumpartij wat in die tagtiger- en
negentigerjare in die parlement verteenwoordig was
– suksesvol was. Daar was in die tagtigerjare selfs
op hulle toerbus geskiet toe hulle op ‘n verkiesingstoer
gegaan het. Hulle het die kastaiings uit die vuur
gekrap, maar hulle was te vroeg gebore. Mense
wat egter ná Pim Fortuyn na vore getree het, het
opmerklik minder teenstand ondervind as die mense
wat vooraf aktief was. Pim Fortuyn was immers ‘n
Marxistiese student en ‘n lid van die aanneemlike,
oorspronklik links-liberale netwerk, “De Linkse
Kerk”, soos hyself later na hierdie netwerk verwys
het. Vandag sê Geert Wilders van die Partij voor de
Vrijheid, gewese minister Rita Verdonk (vandag van
die beweging Trots op Nederland) en die mense van
Leefbaar Rotterdam, dieselfde “verregse” dinge as die
Centrumpartij, maar hulle word nie vervolg nie. Die
tye het gelukkig verander, maar net vir liberale mense.
5. Waarom het Nederlanders teen die aanvaarding van die Europese grondwet gestem? Wat is jou mening oor die toetrede van Turkye tot die Europese Unie?
Ek dink die Nederlanders was keelvol dat hulle
vir meer as veertig jaar geïgnoreer was in die
besprekings oor die toekoms van die Europese
Unie. Die uitbreiding en verdere verstaatliking van
Europa was nooit ’n tema tydens verkiesings nie, en
intussen het die neoliberale elite voortgegaan met hul
ingrypende besluite. Ek onthou hoe geïrriteerd en
verbaas ek hieroor in die tagtiger- en negentigerjare
was. Die referendum oor die Europese grondwet
was die heel eerste geleentheid wat die burgers
"Ek dink die Nederlanders was keelvol dat hulle vir meer as veertig jaar geïgnoreer was"
| |
gehad het om hulle stem te
laat hoor en iets te verander
aan die voortsnellende,
oënskynlik onstuitbare EU-trein.
Daarnaas is die meeste
Nederlanders teen die
Turkse toetrede, en die EU
(en Amerika) is ten gunste
daarvan. Nederlanders
voel aan dat Turkye geen
Europese land is nie; dit was
’n ander belangrike rede vir
ons “Nee”. Ek is sterk gekant
teen die Turkse toetrede.
Turkye is ’n moslemland en
dit was altyd deel van Klein-Asië. Die Turkse volkere
strek vanaf Turkye oor Azerbaidjan na Oesbekistan,
Kazakhstan en na Sjina. Dit is beter as hulle daarop
fokus. Indien Turkye toetree, sal daar ’n derde golf
van massa-immigrasie na die ryker Weste van Europa
volg, met alle ontwrigtende sosiale en kulturele
gevolge. Tewens dink ek dat Europa in ’n nog dieper
identiteitskrisis sal verval omdat die begrip ‘Europa’
dan sterk afgewater sal wees: Hoe kan ons nog ander
nie-Europese lande – soos Marokko, Algerië en
Kazakhstan – uitsluit as ons besluit dat Turkye ewe
skielik Europees is? Wat is Europa nog? Dit lyk vir my
dat die Europese burgers dit nog wel kan aanvoel. Die
EU dink eerder in terme van nuwe markte en groei.
Ek voorspel tewens ’n ineenstorting van Turkye as dit
die vereiste EU-wette implementeer. Hierdie wette
vereis dat die sterk sekulêre Turkse weermag sy
stabiliserende greep op die land se bestuur los en dat
daar meer demokrasie ingevoer word. Die Moslem
Broederskap sal d.m.v. demokratiese reëls nog meer
mag verkry en die Koerde in die Ooste sal probeer
om onafhanklikheid te kry. ’n Toetrede is sleg vir
Turkye, maar ook vir Europa en vir die hele Midde-
Ooste. Ek dink Europa moet sy grense leer herken
en waardeer, ongeag wat die pro-Turkse Amerika of
die groot olie- en gasbaronne in die Midde-Ooste sê.
6. Ek merk die terme “cultureel defaitisme” en “weg met ons” mentaliteit in jou geskrifte. Kan jy verduidelik wat jy daarmee bedoel?
Ek bedoel met “cultureel defaitisme” die gemaksugtige
gedagtes wat die meeste Nederlanders
het as hulle op die internasionale vlak moet opereer,
hetsy binne of buite Nederland. Hulle dink dat die
Nederlandse taal te onbeduidend is om te bemark.
Ons universiteite wil Engels as voertaal instel tydens
die meestersgraadfase net sodat hulle buitelandse
studente kan aantrek. Nou gebeur dit dat ’n
Nederlandstalige dosent veertien Nederlandstalige
studente in Engels onderrig. Dieselfde gebeur by
groter maatskappye in Nederland. Omdat daar een of
twee Amerikaners op die werkvloer is, is die voertaal
Engels. Ek ken talle buitelandse jongmense wat sê dit
is jammer dat hulle nie eers meer die noodsaak voel
om Nederlands te leer nie; almal neem outomaties
aan dat buitelanders in hul eie internasionale kokon
wil leef en dat ons hulle nie moet belas met ons
eie kultuur nie. Ek dink juis dat internasionalisering
beteken dat jy uitwissel; dat jy vir ander nasies wys
hoe mooi jou taal en kultuur is. Die Nederlandse
mentaliteit verklaar ook die beleid dat buitelanders in
die sewentiger- en tagtigerjare nie eens Nederlands
hoef te geleer het nie. Dit het rampspoedige gevolge
vir hulle en hul kinders gehad, want hulle het hier
gevestig en wou nie meer weggaan nie. Sommige
inheemse Nederlanders het selfs voorgestel dat ons
maar liewer Turks of Marokkaans moet leer. Hierdie
houding ten opsigte van jou eie taal skaar ek onder
die “weg-met-ons-mentaliteit”: die wêreld verander
en word internasionaler, daarom is dit beter as ons
liewer ontslae raak van ons hinderlike taal en kultuur.
Sedert Pim Fortuyn se opkoms is hierdie mentaliteit
egter besig om invloed te verloor.
7. In sy onlangse boek, Terwijl Europa Sliep, voer Bruce Bawer aan dat Europa besig is om kulturele selfmoord te pleeg deur immigrasie en demografiese patrone. Wat is jou mening?
“Ons sal Frankryk inneem deur die baarmoeders van
ons vrouens”, het die gewese Algerynse president
Houari Boumédiene verklaar. Dit is waar dat Islam
‘n baie ekspansiewe religie is. Moslem-emigrante na
die Weste (“bannelinge”, so sê Mohammed) bevind
hulle nou in die sogenaamde Lande van Oorlog (Daral-
Harb). Volgens hierdie beskouing is almal – dus
ook die non-moslem Europeërs of die “inheemses
in die Dar-al-Harb” - eintlik moslems, selfs al besef
hulle (die gashere) dit nog nie. Moslems glo dat
hulle ‘n duidelike opdrag het om non-moslems tot
Islam te bekeer en die Westerse kultuur-politieke
omstandighede te verander om hulle geloof te
pas. Die meeste moslems geniet die voordele van
Europa, hulle geniet die welvaart, die goeie sosiale
voorsiening en infrastruktuur, die geleenthede wat
hulle kry. Die meeste moslems wil ook ‘n gelukkige
lewe met ‘n groot gesin hê. Dit dui daarop dat Islam
in Europa hier is om te bly. Moslems in die vreemde
vertoon sterk konserwatiewe neigings en moslems
kry baie meer kinders as inheemse Nederlanders.
Dit is ‘n massiewe probleem: Ons weet almal
hoeveel eeue dit geneem het voordat die Joodse
gemeenskap in Nederland aanvaar was deur die nie-
Jode, en andersom. Ten spyte van die naïewe geloof
in menslike verdraagsaamheid en smeltkroesideale
word daar nou al hoe meer besef dat mense nou
maar eenmaal groepdiere
"Daar is meer
in die lewe as
materialisme en
blink karre en
sport."
| |
met identiteite en
kollektiewe gevoelens is. Ek
dink daar gaan baie sosiale
en kulturele teëspoed in
die toekoms plaasvind.
Die massa-immigrasie wat
tans nog voortduur, is ‘n
historiese vergissing wat die
toekomstige generasies ons
baie sal verkwalik.
8. Uiteraard wil nóg ware Afrikaners nóg ware Nederlanders/Vlaminge sien dat ons kultuur verdwyn. Watter strategie stel jy voor vir die behoud en bevordering van ons kultuur en identiteit?
Lééf jou identiteit. Raak aktief in kultuurorganisasies
en/of gee hulle geld. Jy hoef nie ’n politikus of ’n
beroemde te wees om jou eie kultuur te behou
nie. Hou byvoorbeeld gereeld ’n aandete vir jou
vriende waarby jy tradisionele kos maak, met
tradisionele musiek op die CD-speler. Ondersteun
plaaslike musiekverenigings, reël konserte ten
bate van verdienstelike organisasies, kom saam en
reël geleenthede, maak ’n bohaai by jou werk of
organiseer gesamentlike verset as jy sien jou taal
word afgeskaal, skryf briewe na koerante, skep
webwerwe, hou lesings, trek besigheidsmense aan
na jou kultuurverenigings, ens. Daar is meer in die
lewe as materialisme en blink karre en sport. Ek glo
dus meer in die kleinskalige benadering en in die
navolging van jou eie idees; dus om met jouself te
begin. Politieke partye is te vlugtig en te koorsagtig.
Hulle skiet tekort aan introspeksie en bedaardheid,
net soos die elektoraat ook daaraan tekort skiet. Die
elektoraat raak gou moeg van jou gesig en dit verwag
wonder-oplosings van jou. Massas is prikkelbaar en
onstabiel. Gaan asseblief net aan met wat jy dink is
goed: Moenie laat enigiemand jou agenda bepaal
nie. Dit klink nou alles baie ontmoedigend, maar so
voel ek daaroor. Gaan net voort en lééf jou kultuur,
en wys dit vir jou kinders, bure en vriende. Ek dink
dit is waarom Orania so suksesvol is en gedurig ’n
boodskap in die wêreld instuur, net omdat Orania
is wat hy is.
Klik hier vir die volledige Februarie-uitgawe van die tydskrif Voorgrond, waarin hierdie onderhoud geplaas is.
Hierdie onderhoud is geplaas in die rubriek In Diepte in die Januarie 2008-uitgawe van die tydskrif Voorgrond.
|