Naar hoofdbladzijde / Na hoofbladsy
  Thuis/Tuis   |   Marcel Bas   |   Nieuws/Nuus   |   Vragen/Vrae   |   Links/Skakels   |   Contact/Kontak


Artikelen en bijdragen
Artikels en bydraes

De Afrikaanse taal
Die Afrikaanse taal

De Nederlandse taal
Die Nederlandse taal

Zuid-Afrika
Suid-Afrika

De Afrikaanstaligen
Die Afrikaanstaliges

De Nederlandse cultuur
Die Nederlandse kultuur

Heel-Nederland
Groot-Nederland

Europa
Europa

De volksliederen (MP3)
Die volksliedere (MP3)

Texts in English
Tekste in Engels

Het Zwarte Piet-hoekje
Die Zwarte Piet-hoekie

Grote AF-NL woordenlijst
Groot AF-NL woordelys


U kunt hier het boek bestellen





Teken of kyk na ons besoekersboek



Volg ons ook
op Facebook

Volg ons ook op Facebook

De Roepstem
Die Roepstem




Afrikaans, die sondebok

Om 'n minderheid in 'n modernistiese staat te wees

Deur Marcel Bas


Drukkervriendelike weergawe



Die Taalmonument in die Paarl

Inhoudsopgave

  • Voorwoord
  • Die vertraagde denke
  • Modernisme versus Afrikaans
  • Mites, die sondebok en lompheid
  • Feite
  • Die nuwe diskriminasie
  • Ligpuntjies; 'n nuwe identiteitsbesef
  • Steun van Nederland en Vlaandere



  • Tweeten
    Twiet

      25/07/2003


    Voorwoord

    Dit gaan sleg met Afrikaans. In Suid-Afrika is ‘Die Taal’ die slagoffer van ’n nuwe heersende klasse; die onderdruktes van vroeër is nou besig om die veelrassige land om te vorm tot een Engelstalige nasie. Om dit te laat slaag word Afrikaans op allerlei terreine afgeskaal. Die onbetwiste mag van die African National Congress (ANC), wat die land se ou tradisie as eenpartystaat die komende dekades ongetwyfeld sal voortsit, sal hierdie proses bestendig. Om te verhoed dat die land verdeeld raak wil die ANC verskille ophef en een gemeenskaplike taal (Engels) en kultuur (nuwe kontinentaal-Afrikaanse beskawing) skep en daarstel. Vir die meeste Bantoes is die afskaffing van Afrikaans ‘n vergelding vir die taal- en kultuurpolitiek van die vorige, deur Afrikaners oorheerste, regering. Boonop: afskaffing van Afrikaans as afleidingsmaneuver van die eie regering se falende beleid sorteer nog altyd goeie effekte by die toenemend ontevrede elektoraat. Frustrasie uit die verlede en die hede gaan ’n besonderse taal soos Afrikaans keelaf sny. Dit sou jammer wees as die Nederlandse erflating in Suid-Afrika deur lompe politiek en eenheidsdrang sou verdwyn. Wat minstens so erg sou wees, is as Nederland en Vlaandere voortgaan om hulle kommernis oor hierdie ontwikkelings onbetuig te laat. Gelukkig is daar ‘n waarneembare, toenemende protes vanuit Nederland en Vlaandere.


    Die vertraagde denke

    ’n Mens kan dit die swart Afrikane, aan die anderkant, nie verkwalik dat hulle sulke onverfynde politiek bedryf nie. Hulle voorgangers was ook nie juis demokraties of ontvanklik vir nuwe nuanses nie. Die ANC-regering gee nie om vir 'n staat waar die demokrasie regtig die mag van die volke is nie. Hulle wil 'n demokrasie waar die mag by die bevolking lê. Die eerste definisie van die bostaande woordjie ‘demokrasie’ is ’n intrinsieke stelsel waar volke en kulturele minderhede voorsienings vind waarbinne hulle hul taal en kultuur kan behou (soos taalregte, afwenteling van mag op die etniese minderhede, eie onderwys, eie radio- en televisie-uitsaaistasies, ens.). Terwyl die tweede definisie uitgaan van die oormag van die demografiese meerderheid (vgl. Z.B. du Toit: 1999, asook A. Lijphart: 1977 ); ‘n log, in wese ondemokratiese stelsel wat in navolging van die klassieke Westminsterstelsel is ingerig en wat teenswoordig vernaamlik nog die meeste nie-Europese nasiestate kenmerk. In sulke nasiestate word volke en inheemse tale onderdruk deur die groot, of oorheersende, volk (sien Namibië, Burundi, Rwanda, Zimbabwe, Suid-Afrika).
    Afrika en de Vloek van de Natiestaat

    Afrika en de Vloek van de Natiestaat deur Basil Davidson. In dié boek wys Basil Davidson hoe kortsigtig die instel in Afrika van 'n op 'n erg Europese lees geskoeide nasiestaat is. Afrika is en was 'n baie tribalisties-denkende kontinent. Met despote en korrupte politici is die nasiestaat 'n instrument vir die botvier van magswellus en magsbehoud i.p.v. beskerming van die tot 'n vae 'burgerskap' veroordeelde tradisionele en kwesbaar geworde stamlede en ontheemdes. Op die end pleit Davidson vir herwaardering van stamverbande en -identiteite.

    ‘Die vloek van die nasiestaat’ (B. Davidson: 1994), die kultuurimperialisme en die stryd van die magtige elites, is besig om Afrikaans as ongewenste taal af te skaal.

    Vir Afrikaans is dit van lewensbelang dat die regeringsparty besef dat ‘n demokrasie verskillende gedaantes kan hê en dat dieselfde, eenderse model nou maar nie oral sy ding kan doen nie.

    Die vorige, blank, regerings het die mag angsvallig vir hulleself behou sodat hulle die land se rykdomme en kennis ontoeganklik vir die swart meerderheid kon hou. Op dieselfde oomblik was hulle afhanklik van die swartes vir goedkope arbeid. Hulle was egter enigsins op die regte pad omdat hulle besonder regte aan etniese groepe toegeken het. Hoe positief dit vir die land se verskeidenheid ook al was, dit was egter ‘n politiek wat hulle ingegee was deur selfsug, rassisme en angs. Hierdie politiek het op die ou end daarop neergekom dat die minderheid (die Afrikaners) minderheidsregte aan die meerderheid (die Xhosa's en Zoeloes) toeken, teneinde om hierdie tamaaie volke so ver as moontlik van die eie, wit gemeenskap verwyderd te hou (Du Toit: 1999). Aan die volke was selfs ’t tipe van op territoriale afskeiding gebaseerde selfstandigheid toegeken. Ons weet almal wat die rampsalige gevolge was van hierdie rasse- en tuislandepolitiek; Apartheid in hierdie outokratiese vorm moés eenvoudig ingestort het. ‘n Elite met oneweredig baie mag moés die beheer oor die land verloor het (vgl. A. Toynbee, 1949). Dit sou baie beter gewees het as die Afrikaanstaliges – soos byvoorbeeld by die Kemptonparkonderhandelings met die ANC en die kommuniste, wat die finale magsoorname deur die ANC ingelui het - minderheidsregte vir hulleself sou beding het, pleks van om die situasie om te draai sodat hulle nou deur die massa oorheers word. Tuislande was blykbaar slegs geskik vir swartmense, en nie vir die eie volk nie. Die teenswoordige situasie wys hoe onnosel en kortsigtig apartheid was.

    Suid-Afrika was altyd ‘n toevlugsoord gewees vir dié wat die gevolge van die Verligting wou ontvlug; in die 18de, 19de en 20ste eeu ontvlug die Nederlandse Calviniste die al hoe moderner gemeenskappe en in 1820 -- en ná dit -- trek Britse Setlaars weg van die industrialisering, tegnokratisering en godsdienstige verdraagsaamheid van die nuwe regering, om ‘n godsvrugtige nasie te skep. Europese sektariese verharding en afkeer van materialistiese en tegnokratiese rewolusies het gedurig gesorg vir Europese volkstamme wat Suid-Afrika toe trek. Anti-intellektualisme en ‘n toenemende afkeer van Europese stromings het orals posgevat en die kloof tussen die eie en die Verligte Europa het hom verdiep.


    Modernisme versus Afrikaans

    Dit sal derhalwe niemand verbaas dat die politiek en die kulturele beleid in Suid-Afrika noú eers die paradigma van modernisme aanvaar het nie, terwyl Europa dit in die tussentyd begin vaarwel sê het. ’n Mens mag deesdae in Europa besef dat dit ’n utopie is om ’n nuwe menstipe te skep en om etniese verskille vir die nasiestaat se ontwil uit te wis. Teleologieë is miskien aantreklik binne die vier mure van kerke of in stoffige, weggesteekte kantoortjies in piesangrepublieke waar rewolusionêre groepies Mao se Rooi Boekie aanhaal, maar nie in hedendaagse regerings nie. Maar darem, in Suid-Afrika gaan die regering entoesiasties aan die gang om ’n nuwe Suid-Afrikaanse nasie -- op rewolusionêre lees geskoei -- te forseer. Moenie vergeet dat van die ANC se oortuigings aan een van die uitgroeisels van die Verligting -- die Marxisme-Leninisme -- ontleen is nie. In Europa en Kanada gee sentralistiese landbesture pad vir losser strukture waar minderhede soos die Katalane, Baske, Wale en Vlaminge, asmede die Franssprekendes in Québec, binne die staat meer outonomie gegun word. En wat te denke van die kulturele heroplewing van die Friese en Walliesers (Nederlands: Welshmen / mensen uit Wales - MBAS)? In Suid-Afrika, egter, vind die regering etniese verskille net lastig. Volgens president Thabo Mbeki en die ANC se siening is sulke verskille net hindernisse op die pad na ‘n eensgesinde, nuut-Afrikaanse nasie. Daar word nie een keer gedink aan die wenslikheid, of die internasionale regmatigheid, van die Suid-Afrikaanse eenheidsstaat nie. Huidige sinjale wat sou kon aantoon dat die staat log is en nie omgee vir kulture nie -- soos die verset van sterk opstandige kultuurorganisasies, etniese onluste en mense wat vir hul minderheidsregte stry -- bewys vir die regering net dat daar meer as ooit op nasiebou gehamer moet word. Alte groot verskeidenheid pas nou maar nie in die modernistiese prentjie van vooruitgang nie.


    Mites, die sondebok en die lompheid

    Die uitwerking van hierdie Engels-pan-Afrikaanse African Renaissance wat Mbeki propageer, is teen-Afrikaner; die Afrikaners is ‘n minderheid, hulle is te 'Europees', hulle is te wys en hulle was deurentyds die enigste en die grootste teenstander van Engels. Om die minderhede as onegte, afvallige groepe te bestempel verhef pres. Mbeki nou Ubuntu tot ‘n staatsfilosofie. Ubuntu is ‘n kamtig pan-Afrikaanse filosofie van humanisme, wat die skakel tussen die indiwidu en die kollektief benadruk en wat eintlik inhou dat ‘n mens as opregte Afrikaan die groot groep [ANC] moet ondersteun, en dat jy jou nie by die klein, verdelende opposisie aansluit nie. Die meerderheid bestaan uit die swart volke én die mense wat sy aan sy met die ANC en die PAC (Pan African Congress) deelgeneem het aan die struggle teen Apartheid.

    Ergo, Ubuntu is kwansuis 'n wysgerige instrument om die morele meerderheid gereedskappe te verskaf om met morele wapens die minderhede te ontmoedig en te ignoreer. Dit is 'n perfekte taktiek om 'n rewolusie te laat slaag wat voortkom uit 'n, tot die onlangse verlede, ongeletterde, boeklose beskawing. Die boeklose rewolusie het morele konstruksies nodig; die boeklose rewolusie stel dat kritiese geluide vanuit die Weste of die Europese volkstamme binne SA slegs voortkom uit boekewysheid en apartheidssentiment, en nie uit die moreler gevoelslewe van die ooit onderdrukte swart Afrikaan nie.

    Die geskiedenis herhaal homself; in die 19de eeu was die nasiestaat in opkoms en moes allerhande deels gekonstrueerde, deels waarheidsgetroue mites die geskiedkundige en kulturele regmatigheid van die nasiestate aantoon. Die burgers van ‘n nasiestaat het sulke mites nodig om enige saamhorigheid te gaan voel. Nou gebeur dit weer, terwyl sulke mitevorming in Europa absurd sou lyk (behalwe, byvoorbeeld, in Balkanstate wat mitologisering van hul oorsprong nodig het om ‘n volk te wees). Vergelyk die studies van die kontemporêre geskiedkundige Eric Hobsbawm, wat die ontluisterende wedersydse afhanklikheid van die mite en die nasiestaat in die 19de en 20ste eeue demonstreer het. So sien ‘n mens ooreenkomste met die Franse Derde Republiek, waar nuwe simbole en tradisies gekonstrueer word. Orals verrys toe nuwe standbeelde, nuwe slagkrete was aangehef, nuwe mites was gekonstrueer. In die 19de eeuse Frankryk moes alles nuut wees. Die Republiek was gesimbolieer deur Marianne, die vlag was die Tricolore (driekleur), en daar was glo liberté, égalité et fraternité. Maar hulle het weggebly van die geskiedenis omdat daar in die verlede net verdeeldheid en stryd was (Kerk, monargie, Robespierre, ens.). Tog, daar was ‘n gemeenskaplike, mitiese voorouer; nos ancêtres, les Gaulois, d.i. ‘ons voorouers, die Galliërs’ – wat ‘n Keltiese taal gepraat het. (vgl. E. Hobsbawm & T. Ranger: 1983). Die modernisme was oorheersend.

    In Suid-Afrika is dit nou die dag net so: orals verrys standbeelde van Nelson Mandela en Steve Biko; strate en dorpe word hernoem; die nuwe slagkreet Simunye, We Are One klink op die televisie, in koerante en tydskrifte, op plakkate en waar ook al; die African Renaissance is gestoel op ‘n pan-Afrikaanse mite (Afrika is allesbehalwe ‘n eensgesinde kontinent, maar daar word herhaaldelik verwys na ‘n mitiese vredeliewendheid van die Bantoes van voor die wit oorheersing); Ubuntu; die nuwe vlag met ANC-kleure wapper orals; daar is ‘n, antropologies heeltemal onjuiste, voorstelling van ‘n gemeenskaplike, mitiese, voorouer van die nasie; die KhoiSan; ‘n ras wat alreeds in Suider Afrika geleef het voordat die Bantoes en die blankes arriveer het; die nuwe landswapen se slagkreet is ook in die bykans uitgestorwe KhoiSantaal opgestel. Die KhoiSan is mos onskadelik vir die Bantoeregering se nuwe nasie-idee; hulle wegkwynende nakomelinge lewe nog in klein gemeenskappe in die Wes-Kaap, Noord-Kaap en veral in Namibië en hulle is deur die Bantoes en die blankes se voorouers verdrewe, deur Europese siektes weggevaag of hulle het verdwyn in gemengde huwelike. Daar is gelukkig projekte wat die leefstyl van die KhoiSan probeer herstel en wat aan hulle die voorouerlike grond wil teruggee. Maar deur die onskuldige, atavistiese bekoring van die KhoiSan uit te buit is daar ‘n mitiese, ingebeelde en gedroomde, geheue geskape.

    "Nos ancêtres, les Gaulois… (…rendus muets - MRB)."


    Borsbeeld van Paul Kruger by die hoofhek van die Kruger Nasionale Park, Suider Afrika se bekendste Wildtuin.

    In 2003 verwyder die ANC Paul Kruger se bekende standbeeld van die Kruger Nasionale Park omdat "die afbeeldings van verdedigers van apartheid moet verdwyn." Maar Kruger het niks met Apartheid te doen gehad nie. Dit is alweer 'n voorbeeld van die ANC se lompe, kulturele onbenul. Hy wil met politieke foefies 'n geskiedenis wegvee en 'n beskawing onsigbaar maak. Klik hier om te sien waarom van Kruger 'n standbeeld opgerig was.

    Die kolonialistiese blanke staat word nou deur ‘n omgedraaide kolonialisme voortgesit. Tog word die regering in die hele wêreld gelouer omdat dit die aanmatigende voorneme het om nou alles anders te doen. Diskriminasie en rassisme is in Suid-Afrika steeds ‘n politieke hulpmiddel waarmee die publieke opinie manipuleer kan word. Die staat is gewerskaf in ‘n desperate stryd teen verval en ekonomiese ongelykheid, terwyl die korrupsie van die nuwe leiers die bes bewaarde publieke geheim is. Hulle slaag nie daarin om die bevolking tevrede te stel nie.

    ‘n Holruggeryde deuntjie wat die publiek moet aanhoor is die regering se bewering dat deesdae se probleme te wyte is aan die in die negentigerjare afgeskafte apartheidspolitiek, en aan die praktyke van die toenmalige heersende klasse, die Afrikaners.
    "Blameer dit op apartheid!", roep die Afrikaanse protessanger Koos Kombuis.



    Thabo Mbeki beskou Suid-Afrika as die voorbeeldige land vir ‘n pan-Afrikaanse uitkyk waar die meerderheid heers en waar mense veral op eie krag, sonder Europese invloede, ’n nuwe beskawing daarstel. Dit is ‘n begryplike standpunt vir ‘n land wat eers in die negentiger jare van die vorige eeu gedekoloniseer is.

    Maar dat daardeur Afrikaans die onderspit delf teen Engels, dít is nie vanselfsprekend nie; Afrikaans is ‘n Afrika-gebonde taal – dit is gebore in Afrika en word net daar gepraat -- en hy is, wat dit aangaan, baie meer kontinentaal-Afrikaans as Engels. Hier lê ‘n taak wat vir ons, Nederlandssprekendes: die Nederlande en die Afrikaanssprekendes moet hul uiterste bes doen om dit duidelik te maak dat die moedswillige verengelsing niet juis is nie en dat maatskaplike tevredenheid beter tot stand kan kom wanneer die staat mag afwentel op etniese minderhede en aan hulle besondere regte toeken, pleks van om kulture en identiteite af te breek.

    Ons sien twee, onjuiste, motiewe vir die afskaling van Afrikaans;

    1. aldus word vergeldingspolitiek toegepas, om die publieke aandag weg te lei van die eie onvermoë om self veroorsaakte probleme op te los (daarvoor benodig ’n mens blykbaar ’n sondebok)

    2. aldus word gestrewe na ‘n mitiese eenheid om ‘n intussen lankal verouderde stelsel van die sterk nasiestaat te verwesenlik, gekombineer met Afrikaanse filosofieë (African Renaissance, Ubuntu en die materialistiese vooruitgangsdenke van die marxisme).


    Feite

    Dat die taal nie slagoffer van die post-apartheidsvergelding hoef te wees nie, blyk uit die groot aantal nie-Afrikaners wat Afrikaans praat. Daar is omtrent 2,9 miljoen blankes wie se huistaal Afrikaans is, maar volgens ‘n ondersoek na moedertaalsprekers uit 1991 praat 2,7 miljoen kleurlinge en 80.000 swartes hierdie besondere taal, laat staan nog die Afrikaanssprekendes binne die neolitiese, heeltemal unieke KhoiSan-nasie (‘Boesmans’ en ‘Hottentotte’) en die derduisende Griekwas, wat ook ‘n etniese groep van hul eie is. Dit kom dus rofweg neer op ’n vyftig-vyftig situasie! ’n Ander 10.000 Asiërs praat Afrikaans by die huis (dit is meestal Indiërs in die omgewing van Afrikaanse dorpe in KwaZulu-Natal, soos Vryheid). So altesame praat omtrent 5.740000 mense Afrikaans van wie die helfte uit nie-blankes bestaan.

    By die verheerliking van Engels word dikwels aangevoer dat Afrikaans nie deur die meerderheid gepraat word nie. Wanneer ons ons egter hierin verder verdiep, doen ons ’n merkwaardige ontdekking. Uit dieselfde navorsing, publiseer in die voortreflike boek Afrikaans in Afrika deur mense soos Christo van Rensburg (red.) uit 1997, blyk dat op die vlak van aantalle huistaalsprekers, Afrikaans die tweede plek kry, terwyl Engels die vierde plek behaal. Op die eerste plek vind ons Zoeloe met 8,3 miljoen sprekers, tweede plek Afrikaans met 5,7 miljoen sprekers, op die derde plek Noord-Sotho (‘n Bantoetaal) met 3,4 miljoen sprekers en op die vierde plek Engels met 3,4 miljoen. Die sogenaamde pragmatiese argument voor Engels, wat op ‘gebruikersvriendelikheid’ fokus, is dus ongeldig. Boonop is die Afrikaanse grammatika eenvoudiger, dus is dit makliker om te leer. Wat meer is, onder swartes word Afrikaans beter verstaan as Engels, omrede dit die kontaktaal is tussen wittes en swartes, selfs indien hierdie wittes Engelstalig is (die taalkundiges onder u sal moontlik belangstel in hierdie brokkie inligting: daar bestaan ’n kreooltaal wat op Afrikaans gegrond is. Dit is Oorlams, en dit word gepraat deur swartes. Oorlams kan dalk as ’n kreooltaal van ’n gekreoliseerde taal [Afrikaans] beskou word).

    Dit is selfs ‘n mite dat die aandrang op Afrikaans as publieke taal, wat die beskerming van Afrikaans as onderrigmedium insluit, `n minderheidskwessie is. Volgens `n opname gedoen in 2000 vir die Suid-Afrikaanse taalkommissie Pansat wil 70% van die totale bevolking in hul eie taal deur die owerheid en die private sektor bedien word. Meer as 60% verlang die ontwikkeling van nie-dominante tale. Net 12% dink dat leerders op skool eerder in Engels as in ander tale onderrig word. Net 13% van alle jongmense verkies Engels as enigste onderrigtaal.

    Die nuwe diskriminasie

    Met die verdringing van Afrikaans word ’n tamaaie groep mense onregverdig behandel. Die in aantal toenemende, honderdduisende lesers van Afrikaanse koerante en tydskrifte dui aan dat Afrikaans nog landwyd verkies word deur Afrikaanspraters. Afrikaans is ‘n lewendige, moderne en volwaardige taal. Ondanks die feit dat staatsdokumente, politieke verslae van die parlement, openbare instellings en staat-gedryfde maatskappye Afrikaans die laaste jare ignoreer.

    Afrikaans het in die jongste tyd terugslae beleef op die terreine van:

    • Die regering en administrasie;

    • Regstelsel;

    • Wetenskap en tegnologie;

    • Media en kommunikasie;

    • Onderwys;

    • Kulturele lewe;

    • Sport en ontspanning; en

    • Die handelswêreld.

    Maar wat die Afrikaner werklik in sy siel tref is die oënskynlik liberale maar onverbiddelike beleid van blootstelling van die Afrikaanse universiteite aan die klipharde wette van die mark, transformasie van die land en bemagtiging. ’n Baie aktuele skandaal: Afrikaans verdwyn van die Afrikaanse Stellenbossche Universiteit omdat hy oorspoel word deur studente wat sê hulle verstaan nie Afrikaans nie! Die regering doen hoegenaamd niks hierteen, "almal is mos gelyk, maar die meerderheid regeer." Nee, die regering moedig die verengelsing selfs aan. Die jong Afrikaners moet bloei vir wat hul vadere in die verlede gedoen het.

    Die grondwet skryf voor dat Afrikaans, eweas die orige 11 amptelike tale, ‘n volwaardige taal is wat kanse moet kry om hom te ontplooi en gehandhaaf te word. Tog word Afrikaans stadigaan van die Afrikaanstalige gemeenskap se voorste kampus, Stellenbosch, verdring. Die regering eis nou dat daar in Engels onderwys word. Hy bied sy eise aan as die bevordering van ‘access’ en ‘equity’, maar dit is te betwyfel of dit die eintlike rede is. Die vraag van swart studente na universiteitsopleiding het sedert 1998 skerp gedaal en daar is spaarkapasiteit aan sowel die histories swart, as histories liberale universiteite. Wat waarskynlik agter die eis lê dat Stellenbosch Engels moet aanbied is `n poging om heerskappy ook op kulturele gebied tasbaar af te dwing. Ook in ander lande is die dominante groep of staatsvolk geneig om daarop aan te dring dat mense uit sy geledere die reg het tot toegang tot enige publieke instelling op sy eie terme. Die ANC-regering definieer die swart gemeenskap as die staatsvolk; ek noem dit ’n slu foefie om die ander kultuur te vernietig.

    Om die taal van ander vlakke as die ‘huisie en kombuisie’ te verdring is die doodsvonnis vir ’n voorheen virulente taal. Die aandrang op Afrikaans as enkelmedium aan een of twee instellings is nie eienaardig nie en dit is gewoon oningeligtheid om dit te wil sien as `n vaskleef aan apartheidsvoorregte. Ons maak weer eens die vergelyking met die moderne Kanada: een van die wêreld se mees gesiene filosowe, Charles Taylor van McGill Universiteit in Montréal, verstaan die aandrang op Frans in Québec as `n begryplike aandrang op taaloorlewing.


    Ligpuntjies; ’n nuwe, postmoderne identiteitsbesef

    Meer as vyftien miljoen mense in Suid-Afrika kan Afrikaans praat en verstaan. Dit is omtrent 48% van die totale bevolking. Van die mense gebruik sowat 9 miljoen Afrikaans as ‘n tweede of derde taal. Op grond van haar aantalle vorm hierdie groep een van die belangrikste sprekersgroepe, meer as die groep moedertaalsprekers. Om hierdie rede word vandag baie aandag gegee aan die geletterdheidsbehoeftes van die groep Afrikaanssprekenden. In die verlede is daar nie veel gedoen vir die taalbehoeftes van niemoedertaalsprekers van Afrikaans nie. Deesdae is dit anders. Op talle plekke bestaan daar tans moontlikhede vir mense om Afrikaans te leer skryf. Hier speel die Stigting vir Afrikaans ’n belangrike rol. "Afrikaans gee ons ons menswees terug," het Frank Julie, ’n kleurling, by geleentheid gesê.

    Daar is tewens ‘n tipe onderstroming binne die intellektuele jongmense aan die gang; ‘n tipe alternatiewe stroming, waar Afrikaans ‘n uitmuntende plek verwerf het; skilders, skrywers, musiekkunsternaars, digters en wat dies meer sy. Hierdie stroming blink uit in sy uitermate nonkonformistiese, bykans a-politiese standpunte. ’n Mens sal hier geen –ismes aantref nie; net krag, geesdrif vir jou eie kultuur en ’n behoefte om vorentoe te kyk sonder om gehinder te voel deur wat die nasionalistiese voorouers aangerig het, en wat die nuwe swart nasionaliste nog sal veroorsaak. Die logge idealistiese beleid van die regering met al sy verborge agendas van vergelding en vals liberalisme roep ’n reaksie by die intellektuele kringe op. Tydskrifte soos Insig en feeste soos die springlewendige Klein Karoo Nasionale Kunstefees (onlangs weer in Maart gehou) maak almal deel uit van hierdie nuwe, postmoderne besef van die eiendomlike.

    Maar ook meer volksgerigte organisasies soos Die Groep van 63 en die strydvaardige PRAAG, polities aktiewe jongmense en intellektuele, belangstellendes, mense wat omgee vir hul taal, Afrikaners wat entoesiasties is of wat hulle vererg, wel of nie ooit betrokke by die anti-apartheidsstryd; hulle word nou ál meer bewus van hul Afrikaanse identiteit.

    In hierdie kultuurstryd ontmoet Afrikaners, wat mekaar in die verlede vanweë politieke onenigheid bestry het, mekaar weer op vriendskaplike grond. Verligte denkers soos die filosoof, skrywer en sakeman Dan Roodt en skrywer-digter Breyten Breytenbach, wat albei die land moes ontvlug het (vanweë hul kritiek op die bewind van die Nasionale Party) bied nou met alle woede en ironie weerstand teen die huidige ‘demokratiese’ bewind. Die liberale enfant terrible van die wit parlement van weleer, Frederik van Zyl Slabbert, keer hom nou ook teen die regering wat ‘n nuwe vorm van rassisme gevind het, waar wit Afrikaanstaliges die ongewenste kindjies is. Met sy bewondering vir Karl Popper se filosofie van Open Societies en sy goeie bande met die filantropiese ultra-liberale globalis George Soros, neem hy waar dat die regering besig is met eng-staatsminnende en regeerderagtige gedrag wat enige verfyndheid ontbeer, terwyl die regering doof is vir kritiek van die buiteland uit. Ook Van Zyl Slabbert is ‘n Afrikaner en die pogings van die regering om sy taal af te skaal sien hy as ‘n aanslag op sy identiteit; identiteit oorstyg politiek en is so diep ingebed dat dit geld en mag na ‘n tweede plek skuif. Hy skryf in sy meeslepende en diep-oordinkende outobiografiese boek Afrikaner Afrikaan (2000) dat hy ná al sy stryd teen apartheid en voor demokratisering en sy kontakte met internasionale denkers steeds "so Afrikaans is soos boerewors en pap."

    Om ’n deel te wees van ‘n open society – ‘n ope samelewing - is vir minderhede in ‘n nasiestaat ‘n noodsaak, want alleenlik dan kan lande die regering in kwessie kontroleer en positief beïnvloed. Zimbabwe is ‘n geval van so’n geslote samelewing wat niet langer wil staatmaak op vrye ondersoek na verskillende moontlikhede om probleme te hanteer nie. Mugabe en sy despotiese regering gee voor dat hulle alreeds oor alle nodige kennis van hulle eie beskik, met as gevolg dat hulle die heeltyd ‘n verdedigingshouding aanneem en veranderinge en vreemde invloede afweer. Hulle kan alles kan doen met etniese minderhede wat vir hulle reg lyk. Vervolgens verbied hulle onafhanklike media en vrye vergaring van inligting, en vrye ondersoek. So’n staat was Suid-Afrika tydens die wit bewind ook. Die arrogansie (beter nog; die angs om abuis te wees), die korrupsie en die oppermagtigheid van die huidige Suid-Afrikaanse regering kan ‘n verdergaande vervreemding van die westerse gedagtewêreld tot gevolg hê. Dit kan ‘n eenkennige, onsekere regering genereer wat voorgee om alles te weet, wat aan sy swaar verlede alle morele regte verleen het en met die Afrikaner kultuur kan doen wat hy wil. Vandag is daar alreeds gevalle waar die pers op las van die regering nie mag berig oor bepaalde sake wat die regering aangaan nie.


    Steun van Vlaandere en Nederland uit

    Ook in Nederland en Vlaandere klink al hoe meer weerstand en die mense ondersteun die Afrikaners in hulle pogings om hul taal te handhaaf. Veral Vlaamse organisasies help Afrikaanse skole en organisasies. Kunstenaars soos Herman van Veen en Stef Bos span hulle in om in gemeenskaplike kunsprojekte die Afrikaners aan te spreek op hul besonderse posisie in Suid-Afrika: hulle kom gereeld in Suid-Afrika kuier en sien hoe Afrikaanssprekendes sukkel en teen Engels moet veg. Daar is Nederlandse steun vir die Klein Karoo Nasionale Kunstefees en daar is uitwisseling van akademici en studente tussen Nederland, Vlaanderen en Zuid-Afrika (danksy die Nederlands-Zuid-Afrikaanse Vereniging NZAV). Sulke feitlike en morele steun wys vir die Afrikaners, en die Nederlandstaliges, dat hulle nie alleen in die wêreld staan met met hulle taal en dat hulle vir hulle ontwikkeling nie alleenlik na die Angelsaksiese letterkunde en ander bronne hoef te gryp nie. Afrikaans is deesdae nog steeds die sondebok, maar wanneer die oer-liberale Nederland in die toekoms gaan hamer op die onreg wat ‘n taal aangedoen word, kan die menings in Suid-Afrika oor die taal verander.

    Nederlandse en Vlaamse organisasies soos Taalverdediging, die Genootschap Onze Taal, die Algemeen Nederlands Verbond ANV, die Nederlands-Zuid-Afrikaanse Werkgemeenschap NZAW, die bogenoemde NZAV, op internet Orandië en Die Roepstem, en talle Suid-Afrikaanse organisasies soos PRAAG, die Stigting vir Afrikaans, die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging ATKV, die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings FAK, die dinkskrum Groep van 63, die Vriende van Afrikaans en baie, baie ander is onmisbare skakels in die ketting van inisiatiewe wat die Afrikaans-Nederlandse verbondenheid benadruk en wat die Afrikaner ’n riem onder die hart gee in sy stryd teen kulturele annihilasie. Daar is genoeg werk om te doen; kom laat ons werk vir die herstel en handhawing van Afrikaans!

    Marcel Bas

    Geraadpleegde literatuur:

    • Crystal, David, The Cambridge Encyclopedia of Language, Cambridge 1997
    • Davidson, Basil, Afrika en de Vloek van de Natiestaat, Amsterdam: Jan Mets; Den Haag: Novib, 1994
    • Du Toit, Z.B., Die nuwe toekoms — ’n perspektief op die Afrikaner by die eeuwisseling, JP van der Walt en Seun, Pretoria 1999
    • Hobsbawm, E. & Terence Ranger, The Invention of Tradition, Cambridge University Press, Cambridge 1983
    • Lijphart, A., Verzuiling, pacificatie en kentering in de Nederlandse politiek, De Bussy, Amsterdam 1968
    • Popper, Karl, The Open Society and Its Enemies Volume 1: the spell of Plato, 5th edition. Routledge & Kegan Paul, 1984
    • Thompson, Leonard, A History of South Africa, Third Edition, Yale University Press, Yale 2001
    • Toynbee, A.J., A Study of History, Oxford University Press, Oxford 1949
    • Van Rensburg, Christo (red.), Afrikaans in Afrika, J.L. van Schaik Akademies, Pretoria 1997
    • Van Zyl Slabbert, Frederik., Afrikaner Afrikaan, Tafelberg, Kaapstad 1999

    Hierdie artikel was geskryf vir Taalnieuwsbrief, die tydskrif van die pro-Nederlandse en pro-Afrikaanse Aksiegroep Taalverdediging www.taalverdediging.nl.


    Hierdie bladsy is gepubliseer op 25 Julie 2003.



    Tweeten
    Twiet




      Naar boven  |  Marcel Bas, Voorschoten, Nederland   |  © Kopierecht M.R. Bas   |   Volg ons ook op Facebook   Stuur ons een bericht / Stuur ons