|
‘Moenie jou tale meng nie’
Taalvermenging en taalverskuiwing in Afrikaans
Marcel Bas
12/10/2022
Door Marcel Bas | |
Een van die gevolge van die huidige noue taalkontak met Engels in die Afrikaanse taalgemeenskappe is die verskynsel waarby sprekers dikwels hul eie taal met woorde uit Engels vermeng. Baie sprekers van Afrikaans keur hierdie vorm van taalvermenging af. Hulle beskou dit as ‘n onnodige verlies aan linguistiese individualiteit, terwyl daar weer akademici en progressiewes is wat dit as ‘n natuurlike verloop van taal beskou of selfs aanmoedig.
‘n Gevaarteken vir Afrikaans?
Hoe sterker die posisie van Engels in Suid-Afrika is, hoe meer verloor Afrikaans domeine in die samelewing. Parallel met hierdie verhoogde druk vermeng Afrikaanssprekendes hul taalgebruik meer met Engelse woorde. ‘Engfrikaans’ raak in verskeie domeine verwortel, waar vroeër ‘n minder formele, suiwerder Afrikaans verkieslik was.
Navorsers soos wyle prof. Jaap Steyn en prof. André Duvenhage (NWU) het reeds in 2011 gewaarsku oor die gevolge van toegenome ‘kodewisseling’ (taalvermenging). Volgens hulle toon navorsing aan ‘dat taalverskuiwing na Engels in ’n redelik groot mate by bruin Afrikaanssprekendes en in ’n geringer mate by wit Afrikaanssprekendes plaasvind. Ook is daar ’n groot toename in taalvermenging onder veral wit Afrikaanssprekendes, wat moontlik ’n gevaarteken vir Afrikaans is.’ (Steyn & Duvenhage 2011: 207.)
Hoekom is taalvermenging moontlik ‘n gevaarteken? Die vrees is dat die verlies aan taalaansien, gekombineer met toenemende taalvermenging, in Afrikaanstalige gemeenskappe tot ‘n taalverskuiwing van Afrikaans na Engels kan lei. Maar hoe kan taalvermenging presies taalverskuiwing veroorsaak? Is taalvermengingskritici dalk nie te alarmisties nie?
Taalvermenging onder verskillende omstandighede
Volgens die Nederlandse taalkundige Pieter Muysken (2000) is daar drie tipes van taalvermenging.
Tipe 1 – invoeging van woorde ‘Daai plane gaan nie nou vlieg nie’ (in plaas van vliegtuig); tipe 2 – afwisseling van sinne ‘As ek Mozart se 41ste simfonie hoor, I go into ecstacy’ (in plaas van dan raak ek in vervoering); tipe 3 – invoeging van grammatikaal onverwante enkele woorde en woordreekse ‘You can’t sommer go and gooi die vleis op die kole nie, because die fire is too hot’ (in plaas van jy kan nie, gaan en, want, vuur is te warm).
Tipe 1 kom voor in situasies waar taalkontak nie intens hoef te wees nie, tipe 2 kom voor in situasies waar taalkontak meer intens is, maar waar mense gewoond is om die tale te skei, en tipe 3 kom voor in baie intense taalkontak waar Afrikaans al meer soos Engels lyk, waar taalskeiding nie meer plaasvind nie, en/of waar Engels baie dominant geword het. (Muysken 2000: 1-10, 249.)
Verlies aan betekenis en keuse
Taalhandhawers, opvoeders, puriste en kritici het nog altyd teen taalvermenging gewaarsku omdat hulle voel dit ondermyn die integriteit van Afrikaans. Sommiges beweer dat taalvermenging selfs kan lei tot ‘n volledige oorskakeling na Engels (taalverskuiwing), en dus dat dit die lewensvatbaarheid van Afrikaans bedreig. Die meeste taalkundiges voer egter aan dat taalvermenging ‘n funksie het en dus vryelik en bewustelik gedoen word. Deur Engelse woorde te gebruik, wil sprekers bloot informeel klink en groepsolidariteit uitdruk. Iemand kies byvoorbeeld ‘Kom ons gooi ’n dop in die bar around the corner’ omdat dit blykbaar vryer en informeler klink as ‘Kom ons vat ’n dop in die kroeg om die hoek.’
Dit is waar dat sprekers pragmatiese redes het vir taalvermenging. Sprekers verkies soms om ‘n Engelse woord in te gooi, of om oor te swaai na Engels, terwyl hulle – indien hulle wil – in ander situasies ewe maklik ‘n suiwer Afrikaanse sin kan produseer. Gevalle uit die literatuur het egter getoon dat taalvermenging, in baie sterk tweetalige omgewings, uiteindelik sy funksie as ‘n vryelik gekose en betekenisvolle variant kan verloor. Die taalvermenging wat in hierdie taalkontakstadium voorkom, gebeur dikwels volgens tipe 3.
In hierdie geval het vermenging van die tale binne een gesprek sy pragmatiese funksie verloor en geld dit nie meer as ‘n betekenisvolle variant nie. Die variant druk nie langer ’n informele of andersins besondere betekenis uit nie. Indien hierdie gemengde taalgebruik voortgeset word, en byvoorbeeld aan ‘n volgende generasie oorgedra word, het ons met ‘n taal op sigself te doen. Taalvermenging sal dan nie meer ‘n vrye keuse wees nie: Engelse woorde het hulle permanent in Afrikaans gevestig ten koste van Afrikaanse woorde en dit sal onmoontlik wees om die voltooide proses om te keer.
Onvrye taalvermenging
In Suid-Afrika word gevalle van ‘onvrye’ taalvermenging gevind onder verstedelikte sprekers van swart tale en onder nie-blanke en laaggeskoolde Afrikaanssprekendes. Hulle is eerder geneig om hulle tale te meng soos in tipe 3, wat gekenmerk word deur ‘n kongruente vermenging sonder duidelike taalgrense. Vir hulle is hulle taal hoofsaaklik ‘n kommunikasiemiddel en maak dit nie juis saak of jy jou taal wil skei van Engels nie. Hierdie taalvermenging kry ‘n ekstra dimensie as die spreker sy eie taal slegs in informele situasies gebruik; Engels het die meer formele taaldomeine oorgeneem, terwyl hierdie blywend gemengde Afrikaans nog net onder vriende en familie gebruik word.
Taalgemeenskappe wat voel dat Afrikaans ‘n belangrike deel van hulle etniese identiteit vorm, soos baie Afrikanergemeenskappe, probeer om Afrikaans se status so hoog moontlik te hou deur dit so intak moontlik te hou. Hulle pas taalhandhawing toe. In Afrikaans kenmerk taalhandhawing hom deur ‘n hoë mate van taalskeiding. Engels word van Afrikaans geskei binne een gesprek, wat weerspieël word in die feit dat sprekers geen Engelse woorde toelaat nie, of liewer hul tale meng volgens tipe 1 en – indien daar ‘n hoër druk vanaf Engels bestaan – tipe 2. Tipes 1 en 2 wys dat woorde minder maklik deur die sinne geryg word, en elke woord of woordereeks vorm ‘n eie sinsdeel wat deur ander sinsdele afgebaken word.
Fossilisering
Maar in taalgemeenskappe wat nie bewustelik taalhandhawing en dus taalskeiding toepas nie, raak met verloop van tyd vele leenwoorde al meer gevestig in ‘onvrye’, intense taalvermenging. Hierdie blywende vestiging van ‘leenwoorde’ (hulle is nie eintlik leenwoorde nie, omdat hulle nie weer aan Engels teruggegee word nie!) dwing sprekers om nuwe taalreëls en -wette te ontwikkel. Die resultaat is dat die gemengde variant gefossiliseer raak tot ‘n eie, gemengde taal wat sy eie sprekers het. Uiteindelik het die mengeltaal op hierdie wyse die eerste taal van ‘n gemeenskap geword.
Taalwetenskaplikes het betreklik onlangs nuwe mengeltale beskryf, soos in Kanada (Michif), Afrika (Ma’á), en baie onlangs in Australië (Gurindji Kriol). Hierdie tale is gevorm uit gefossileerde vermenging van verskillende tale se sêgoed, wat aanvanklik voortgekom het uit vryelike invoeging van vreemde woorde in ‘n moedertaal. In die Australiese geval is hierdie proses, van kodewisseling (taalvermenging) tot fossilisering, eintlik noukeurig gemonitor.
Geen prestige nie
Maar daar is uiteraard ook ouer hibriede tale bekend. Hulle bestaan is maar van korte duur. Gemeenskappe wat so’n taal praat, ondervind druk van ‘n dominante (ongemengde) skenkertaal. Sprekers kies na ‘n rukkie om ook die bastervorm nie meer in die informele domeine te gebruik nie, en verkies op ‘n stadium om die dominante taal te praat. Hulle voel dat die aansien van hul moedertaal nog altyd laag was, en hulle beskou tweetaligheid dikwels as ‘n hindernis vir opvoedkundige en loopbaangeleenthede. Ons sien dit dikwels gebeur in Afrikaanse taalgemeenskappe wat oorswaai na Engels: Engels bied meer geleenthede, tweetaligheid verg moeite en mense beskou die moedertaal as ‘n struikelblok op die pad na volmaakte taalvaardigheid in Engels. Boonop was hul Afrikaans reeds sterk verengels.
Sprekers van ‘n mengeltaal heg weinig waarde aan hul taal en begin meestal die oorheersende taal praat. Dit gebeur op hierdie oomblik met inheemse gemeenskappe in Mexiko wat Nahuatl praat (of wat daarvan oor is). Prof. Fritz Ponelis merk op dat hierdie Nahuatl-taal so vermeng geraak het met Spaans, dat respondente aandui dat ‘n poging om Nahuatl weer suiwer te probeer praat, weer ten koste sou gaan van hul behoefte om hulself vryelik te uiter. En aan die ander kant voel hulle dat hul Nahuatl, nou ‘n aangetaste mengsel, nie meer die moeite werd is om te bewaar nie. Dus kies hulle vir Spaans. (Ponelis 1999: 168.)
Hier het taalvermenging (kodewisseling) die moedertaal sodanig onherstelbaar in die gedrang gebring dat sprekers verkies om dit die laaste stootjie na die vergetelheid te gee. Ook in Suid-Afrika raak Afrikaans al hoe meer gemeng en verloor dit allerhande domeine – selfs die kerk en die onderwys – terwyl dit in baie gemeenskappe besig is om te verander in ’n huistaal vir privaatdoeleindes (met lae aansien), omdat Engels oral wen.
Taalverskuiwing
Indien die proses van verlies aan domeine en prestige vir Afrikaans voortduur, kan taalvermenging ook in Afrikaans verder lei tot ‘n taalverskuiwing na Engels, net soos die taalvermengingskritici beweer. Onder hoë druk van Engels en lae aansien van ‘n gekompromitteerde Afrikaans kan onherstelbare taalvermenging met verloop van tyd die oomblik inlui waarop ‘n taalgemeenskap besluit om na Engels oor te skakel.
Solank as wat ‘n taalgemeenskap sy taal waardeer en die taal se aansien hoog wil hou, sal hy hom moontlik weerhou van taalvermenging. So sal hy verhoed dat die taal te veel gekompromitteer raak op die leksikale vlak, en dat die taal nie meer die moeite werd is om te behou nie. Alhoewel taaloorlewing bykomend bedreig kan word deur taalvermenging, hang dit dus uiteindelik af van die bereidheid om die taal se prestige te behou, en dus van ‘n bewustelike gebruik van die taal. Puriste en kritici wat ineenkrimp by die aanhoor van ‘Engfrikaans’ het nou maar regtig ‘n punt.
Geraadpleegde literatuur
Muysken, Pieter, Bilingual speech: a typology of code-mixing. Cambridge: Cambridge University Press, 2000.
Ponelis, Fritz, “Afrikaans-English Codeswitching and Convergence.” Language Matters 30.1 (1999) 157-170. Taylor & Francis Online. Web. 8 Aug. 2018.
Steyn, Jaap en André Duvenhage, “Taalverskuiwing en taalhandhawing in die Afrikaanse gemeenskap: tendense en toekomsperspektiewe.” LitNet Akademies Jaargang 8 (3) 2011: 195-241. Web. 19 Mei 2013.
Marcel Bas, Voorschoten, 12 Oktober 2022.
E-mail: Marcel Bas
Hierdie artikel het verskyn in die tydskrif Perspektief (die Kunstenaarsuitgawe, oktober 2022), van die Vryheidstigting.
|
|
|