|
Die oorlog in die Oekraïne en die Ortodokse Kerk
Religieuse en etniese aspekte aan 'n Oos-Europese tragedie
Marcel Bas
Die Katedraal van die Ontslaping van die Moeder Gods, van die Grotteklooster in Kiëf.
Die klooster en sy katedraal val onder die Moskouse Patriargaat.
30/03/2022
Deur: Marcel Bas | |
Waarom het die Russiese president Wladimir Poetin 'n oorlog in die Oekraïne begin? En hoekom ondersteun die Russies-Ortodokse Kerk hom? Die antwoorde op hierdie vrae kan in ‘n groot mate gevind word in die gedeelde godsdienstig-etniese geskiedenis van Rusland en die Oekraïne.
'n Konserwatiewe kerk
Volgens oorlewering bestaan die Ortodokse Kerk sedert die dag dat Jesus Christus saam met die dissipels in Caesarea Filippi gegaan het, waar Petrus, in antwoord op Christus se vraag, namens al die apostels bely het dat Hy die Seun van God is. Dié belydenis van geloof in Christus as die Seun van God, uitgespreek deur die apostel Petrus, was die fondamentsteen van die Kerk (Matt. 16:17-18).
Later het die Kerk – die Liggaam van Christus – biskoppe, aartsbiskoppe (metropoliete) en patriarge oor die gemeentes aangestel. Hulle gaan voort met die onderrig en pastorale funksies van die twaalf apostels wat deur Christus gekies is. Hierdie voortgang word die apostoliese opvolging genoem. Die enigste hoof van die Kerk is Christus self, nie die Pous in Rome nie. In 1054 het onder meer teologiese meningsverskille tussen Oos en Wes en die Westerse leerstellings wat sê dat die Biskop van Rome die “plaasbekleër” van Christus is, daartoe gelei dat die Oosters-Ortodokse Kerk nie meer gemeenskap met die Westerse Katolieke Kerk kon hê nie.
Die plaaslike, niesentrale organisasie van die Oosters-Ortodokse Kerk, met sy plaaslike patriarge, het verhoed dat – soos in die Weste – baie leerstellige of kerklike innovasies geïmplementeer kon word. Gevolglik het die Oosters-Ortodokse Kerk merkwaardig onveranderd gebly. Daar is geen ruimte in die ortodoksie vir groot innovasies of baanbrekende insigte nie. Vir Bybeleksegese, teorie en (lewens)praktyk maak Ortodokse Christene dan ook hoofsaaklik staat op die geskrewe tradisie van die Kerkvaders en asketiese heiliges.
Plaaslike, etniese basis
Veral in tye van oorheersing en bedreiging – soos in die Balkan tydens die Islamitiese Ottomaanse Ryk, die Westelike Kruistogte, die Rooms-Katolieke Habsburgse Ryk en in Rusland die Poolse (Rooms-Katolieke) oorheersing – het die plaaslike kerke en kloosters hul standvastigheid en verbintenis met die plaaslike mense bewys. Omdat die Ottomaanse Ryk die kerke volgens etnisiteit georganiseer het, het kerke en kloosters as ware toevlugsoorde vir die behoud van Christelike en etniese lewenswyses en waardes opgetree.
“Kerke en kloosters het as ware toevlugsoorde vir die behoud van Christelike en etniese lewenswyses en waardes opgetree.”
| |
Ten spyte van hul sterk nasionale karakters het die kerke ‘n hegte ortodokse, ekumeniese netwerk onder mekaar gevorm, met Konstantinopel en Alexandrië as die belangrike intellektuele spilpunte.
Na die ontstaan van die onafhanklike nasiestate in die twintigste eeu, het die Ortodokse nasionale kerke dikwels met die politiek verweef geraak. In 2022 blyk dit dat die 60 jaar van kommunisme nie veel daaraan verander het nie. Dit geld ook vir Rusland, waar die Kerk en die President gesamentlik na die welsyn van die mense omsien.
Vandag is daar veertien Ortodokse, meestal nasionale, kerke. Patriarg Bartolomeus van die huidige Turkse Konstantinopel word as die ere-patriarg beskou. Hy het geen formele gesag nie, maar morele gesag oor die ander kerke.
Oekraïne in die Russies-Ortodokse wêreld
Die bakermat van Russiese identiteit en godsdiens is nie in Moskou nie, maar in Kiëf. Die oorspronklike Russiese staat, Kiëf-Roes, was gevorm as 'n groot losse bondgenootskap van Oos-Slawiese en Finoegriese volke in die gebiede waar vandag Oekraïne, Wes-Rusland en Wit-Rusland geleë is. Sedert die Russiese heerser Wladimir die Grote en die Russiese volk in 988 in Kiëf Christelik gedoop is, het die Russies-Ortodokse Kerk ‘n onafskeidbare eenheid met mense en grond gevorm. Selfs toe hierdie Russiese staat gedurende die Middeleeue uitgebrei het na wat nou die sentale en oostelike dele van Rusland is (later het die staat, en die Kerk, na Siberië en verder oostelik en suidelik uitgebrei).
In 1589 het Konstantinopel die Moskouse Patriargaat as ‘n onafhanklike kerk erken, wat daartoe gelei het dat baie mense glo dat Moskou die Derde Rome was, noudat Konstantinopel en Rome verlore was. Die Russiese goddelik aangestelde tsare het oor Kiëf, Minsk en Moskou en verder noord, suid en oos geheers. Die inwoners van hierdie lande het hulself tot in die twintigste eeu as Russies beskou: ook die Oekraïners. Selfs toe Rusland en die Oekraïne vir eeue geskei was deur dinastieë en buitelandse oorheersing, het Oekraïeners en Russe hulself etnies as Russies (roesski) geïdentifiseer. Boonop praat Russe en Oekraïeners twee onderling verstaanbare tale, waarvan die woordeskat tans 62% eenders is.
Hierdie antieke etno-godsdienstige eenheid tussen Kiëf en Moskou verklaar Wladimir Poetin se huidige onwilligheid om die Oekraïne uit die Russiese invloedsfeer aan die Weste oor te gee.
“Hierdie antieke etno-godsdienstige eenheid tussen Kiëf en Moskou verklaar Wladimir Poetin se huidige onwilligheid om die Oekraïne uit die Russiese invloedsfeer aan die Weste oor te gee.”
| |
Alhoewel hy Oekraïne se onafhanklikheid erken, sien hy die Oekraïne as Russies, terwyl Oekraïense regerings onder die invloed van die Weste al hoe meer staatsnasionalisties (en dus anti-Russies) geword het.
Poetin, en die Moskouse Patriarg Kirill, het dus beide ‘n geostrategiese en godsdienstig-etniese rede om die Oekraïne Russies te hou. Indien die Weste daarin sou slaag om die Oekraïne van die Russiese invloedsfeer te skei, sou Rusland ’n deel van sy identiteit verloor: kerklik sowel as etnies en polities.
Onafhanklike Oekraïne
Die spanning wat tot die huidige Russies-Oekraïense oorlog in Februarie 2022 gelei het, het eintlik in 1991 begin, toe die Oekraïne onafhanklik geword het en van die Sowjetunie afgestig het. Rusland, as die reusagtige hartland van die Sowjetunie, het oorgebly. Reeds in 1920 en 1992 het sekere kerke van die Russies-Ortodokse Patriargaat van Moskou afgestig en hulself uiteindelik in 2018 die ‘Oekraïens-Ortodokse Kerk van Kiëf’ herdoop. Dit het tot 2019 steeds bekend gestaan as ‘n nie-erkende skeurkerk, totdat patriarg Bartolomeus van Konstantinopel die kerk daardie jaar selfbeskikking toegeken het. Die Patriarg van Alexandrië het ook die Kerk erken. Tot die woede van die Moskouse Patriargaat, maar tot groot instemming van die Amerikaanse ambassadeur in Oekraïne.
Die meeste Ortodokse Kerke erken egter nie hierdie niekanonieke Kerk van Kiëf nie, maar die meerderheid Ortodokse Oekraïners voel tuis by dié Kerk. Dus bestaan daar nou twee Oekraïens-Ortodokse Kerke. Die voormalige skeurkerk fokus nadruklik op die Weste en wil Oosterse tradisies hersien wat hulle gemeen het met die Russe. Kerke en kloosters word deur hierdie nuwe Kerk gekonfiskeer en baie priesters en monnike kry die keuse: óf jy gaan saam met die nuwe Kerk, óf jy soek ‘n ander heenkome. Dit is ‘n groot dilemma vir baie priesters en biskoppe, want die Tiende en Elfde Apostoliese Reëls verbied gebede met skeuringe en ketters.
Die ‘Euromaidan’-staatsgreep en sy nasleep
“In 2014 het die Verenigde State ‘n staatsgreep in Kiëf befonds, wat die pro-Russiese president met ‘n pro-Amerikaanse, anti-Russiese president vervang het.
”
| |
In 2014 het die Verenigde State ‘n staatsgreep in Kiëf befonds, wat die pro-Russiese president met ‘n pro-Amerikaanse, anti-Russiese president vervang het.
Die Amerikaners probeer immers jarelank om die Oekraïne in ‘n pro-Westerse staat te verander. Die pro-Amerikaanse presidente, Porosjenko en Zelenski, het gevolglik taalregte vir nie-Oekraïenssprekende bevolkingsgroepe stelselmatig afgeskaf. Die hoofdoel hiervan was om Oekraïens ten koste van Russies te bevorder, en dus om die Russiese taal te onderdruk. Die gevolg is dat die Russiese taal vandag op allerlei plekke en in skole afgeskaf is. Soldate en verregse milisies het boonop vanaf 2014 pro-Russiese administrasies en individue begin intimideer en sommige doodgemaak, soos in Odessa in 2014.
In reaksie op die staatsgreep en aanvalle op Russe, en om te keer dat die NAVO met sy agressiewe uitbreidingsbeleid te na aan Rusland kom, het Rusland die hoofsaaklik Russies-bewoonde skiereiland Krim geannekseer. Daarna, in reaksie op die anti-Russiese onderdrukking, het die hoofsaaklik etnies Russiese inwoners van die oostelike Donbas-streek probeer om ewe-eens by Rusland aan te sluit.
Gevolglik het die Oekraïense weermag en aangeslote verregse milisies in die Donbas 3000 burgerlikes, hoofsaaklik etniese Russe, die afgelope agt jaar doodgemaak. Altesaam is ongeveer 14.000 mense dood in hierdie, in die Weste onderbeligte, stryd.
Om die verlore kudde terug te bring
Alhoewel die Russies-Oekraïense konflik sedert 2014 vanuit geopolitieke terme geïnterpreteer is, het president Poetin ook die behoud van die Russies-Ortodokse kudde in gedagte. Sy erkenning in Februarie van die geteisterde Donbas-streek as 'n onafhanklike land kan onder meer gesien word as ‘n manier om ‘n verlore deel van daardie kudde terug te bring. Die NAVO en sy bondgenote verteenwoordig die liberale, ateïstiese Weste, wat probeer om Oekraïne te verwester. Rusland voel dat hy hierdie proses by Oekraïne en dus by Rusland se grense moet probeer stuit.*
Die patriarg Kirill, van Moskou, ondersteun Poetin in sy pogings om Oekraïners terug te bring in die Russiese invloedsfeer.
“Die patriarg Kirill, van Moskou, ondersteun Poetin in sy pogings om Oekraïners terug te bring in die Russiese invloedsfeer.
”
| |
Hy sal derhalwe nie die inval en die ‘spesiale operasie’ in die Oekraïne veroordeel nie. Tot almal se verbasing het die patriarg van die pro-Russiese Oekraïens-Ortodokse Kerk (van die Kerk van die Moskou-patriargaat) egter wel die inval verwerp. Die patriarg van die voormalige skeurkerk het die inval uiteraard ook verwerp. Meer Oekraïense priesters wat onder die Moskou-patriargaat val, verwerp die inval.
Die skeuring het ook gevolge in Afrika. Meer as 100 priesters in Afrika wil nie aandadig wees aan die oortreding van die kanons en bogenoemde twee Apostoliese Reëls nie.
Priesters van agt Afrika-lande het sedertdien tot die Russies-Ortodokse Kerk bekeer en sodoende die ou Kerk van Alexandrië verlaat. Die Russies-Ortodokse Kerk help graag hiermee en is tans besig om Ortodokse Afrika-kerke te konfiskeer. Met hierdie bekerings sal die aantal Russies-Ortodokse Christene minder vinnig krimp as die Oekraïne vir Rusland verlore sal gaan.
Religieuse en etniese agtergrond
Die Russies-Oekraïense konflik is kompleks van aard, maar dit het diep, godsdienstige wortels. Hierdie godsdienstige aspek word dikwels misgekyk in besprekings in die Weste. Die Weste, en veral die NAVO en die Verenigde State, verkies om die Oekraïne te sien as een, eensgesinde nasiestaat wat integraal deel kan word van die Westerse wêreld.
Maar dit is ‘n onrealistiese en selfs gevaarlike siening. Die Oekraïne is ‘n jong nasiestaat met vele betwiste staatsgrense. Selfs die Oekraïense identiteit, wat kragdadig deur die Oekraïense regering bevorder word, word nog lank nie deur alle Oekraïense burgers onderskryf nie. Alhoewel die meeste mense daar Oosters-Ortodoks is, bestaan die land hoofsaaklik uit twee dele: ’n Russiese deel en ’n Oekraïense deel – ’n pro-Russiese deel en ’n pro-Westerse deel, ’n Russies-Ortodokse bevolking en ’n Oekraïens-Ortodokse bevolking. ’n Mens moet hierdie identiteitskwessies herken ten einde die stryd te verstaan wat tans soveel dood en vernietiging in Oos-Europa veroorsaak.
Voetnoot
*Die moontlikheid op hierdie oomblik (Maart 2022) dat Rusland verder in Oekraïne sou kon gaan opruk, moet egter primêr verstaan word as Poetin se poging om die Oekraïne onbruikbaar vir die NAVO te maak. Hy wil die land op sy knieë bring sodat Oekraïne neutrale status sal aanvaar en homself sal demilitariseer. Voordat Amerika en die NAVO Rusland op sy knieë sal dwing. Om nasionale veiligheidsredes het Poetin reeds vanaf 2008 enige Oekraïense NAVO-toetreding kategories uitgesluit.
'n Effens korter weergawe van hierdie artikel het verskyn in die tydskrif Perspektief (nr 12, maart 2022), van die Vryheidstigting.
By Die Roepstem gepubliseer op 30 Maart 2022.
|
|
|