Die kruistogte was ‘n reeks ooswaartse, godsdienstige veldtogte wat onderneem was deur Wes-Europeërs. Hulle beskawing het hom in 'n jeugdige, selfversekerde fase van die lewe in Christus bevind. Hulle wou in die Ooste van die ware geloof getuig en die invloed van die (Westerse) Christendom vergroot. Tans het die Weste weinig godsdienstig te bied, maar sy bekeringsdrang het gebly. Weereens dring die Weste sy eie denkwyse – tans die liberalisme – in 'n kruistog op aan die Oos-Europeërs. In die Weste is die liberalisme egter besig om die samelewings en uiteindelik homself, te ondermyn. Terselfdertyd het die gebrek aan liberalisme die sosiale weefsels in Oos-Europa intak gelaat. Wat beteken dit vir die Weste?
Geestelike kruistogte van Wes na Oos
In die twaalfde en dertiende eeu het die noordelike kruistogte plaasgevind. Noordwes-Germaanse ridders het na Noordoos-Europa getrek om daar heidense Slawiese, Baltiese en Fin-Oegriese volkere, dikwels onder dwang, te kersten.
Die reeks suidoostelike kruistogte van die elfde, twaalfde en dertiende eeu is heelwat bekender. Hulle was aanvanklik gereel om gehoor te gee aan die opdrag van die opgestane Jesus Christus om die Christelike geloof aan die wêreld te bring (Matt 28:16-20), en om besette Christelike (Oosters-Ortodokse) gebiede van Turkse Moslemoorheersing te bevry. Vol geesdrif het ridders, geestelikes en boere – dikwels bevry van lyfeienskap – via die Balkan na die verowerde gebiede in Klein-Asië, Palestina en veral Jerusalem gegaan.
Die vierde kruistog (1203-1204) het in ‘n katastrofe geëindig. Die oorsake was vroeëre, langdurige mentaliteits- en kultuurverskille tussen Oos en Wes, die Skeuring van 1054 (toe die Oosters-Ortodokse Kerk hom van Rome afgeskei het) en ongelukkige botsings tussen Katolieke en Ortodokses in drie vroeër kruistogte. Die kruisvaarders het die Balkan geplunder, daar geveg, massaslagtings onder Ortodokse Christene aangerig, hul kerke ontheilig en ‘n Katolieke “Latynse Ryk” gestig. Hulle kon nie Palestina bereik nie, maar in 1204 verower en plunder hulle Konstantinopel, die trotse hoofstad van die Oosters-Ortodokse Bisantynse Ryk. Vir die Weste was die ‘ketterse’ Konstantinopel immers ‘n legitieme teiken.
Ortodokse Christene het latere Katolieke pogings om die Moslems te verdryf (1439-53) afgewys. Hulle het maar liewer die Turkse heerskappy as ‘n ‘genadige bevryding van Latynse oorheersing’ aanvaar. Opeenvolgende kruistogte (1212, 1217-21, 1229, 1239 en 1343) het die kloof tussen die Ooste en die Weste verder verdiep. Konstantinopel sou nooit weer herstel van 1204 nie, waarna die Ryk eeuelank onder Moslemheerskappy sou sug.
Sowel die noordoostelike as die suidoostelike kruistogte was nie net pogings tot uitbreiding van geestelike mag nie, maar ook van wêreldse mag. In die kielsog van die militêre onderwerping van weerspannige volkere het die Weste in die Ooste immers handelsposte gestig en land in besit geneem.
Aan die Westerse bevolking was die Christelike opdrag voorgestel as die ideële legitimering vir hierdie magsuitbreiding.
Huidige ideologiese kruistog van Wes na Oos
Vandag het die Weste die opdrag van Christus ingeruil vir ‘n sekulêre opdrag: die verspreiding van die neoliberalisme. Hierdie Westerse lewensbeskouing het in Europa die hoogtepunt van sy mag bereik binne die uitbreiding van die oorspronklik Wes-Europese samewerkingsverband van die Europese Gemeenskap (EG); die voorloper van die Europese Unie (EU).
Vanaf die middel van die 20ste eeu tot 1989 het die oostelike EU-lidstate en Rusland deel uitgemaak van die intimiderende Warskouverdrag – hierdie Russies-oorheerste magsblok was die geopolitieke verwerkliking van die liberalisme se enigste oorgeblewe konkurrent: Die Kommunisme. Die meeste Oos-Europese lande wou na 1989 deel uitmaak van die Westerse liberaal-demokratiese, welvarende samelewings, en het dus by die EG/EU aangesluit. Vir die herstel van hul nasionale onafhanklikheid en beskerming teen Russiese geopolitiek het hulle by die Westerse NAVO aangesluit.
Die Orthodokse Christus die Verlosserkatedraal in Moskou
| |
EU-aansluiting het vereis dat kandidaatlidstate die neoliberale waardes – indertyd voorgestel as ‘die demokratiese waardes’ – sou onderskryf. Die EU-uitbreiding na lande soos Roemenië, Bulgarye, Pole, Slowakye en Hongarye het sodoende skielik die Wes-Europese liberale waardes – van bo af – tot “Europese waardes” verhef. Die neoliberale oorwinning van die, grootliks Angelsaksiese, Westerse wêreld was voltooi.
Volgens die vroeg-twintigste-eeuse geopolitikus Halford Mackinder is Rusland (‘n tellurokrasie) die Angel-Saksiese wêreld (‘n talassokrasie) se oudste natuurlike konkurrent in die stryd om die beheer oor Eurasië. Die Weste het Rusland as ‘n vennoot gedoog solank die Weste kon beskik oor die Russiese mark en hulpbronne, en solank Rusland van sy geopolitieke belange afgesien het. Dit het gewerk, solank president Boris Jeltsin se rampsalige beleid Rusland swak gehou het. Hy het die land in oorhaas van ‘n geleide ekonomie in neoliberale kapitalisme gestort en die Russe tot die bedelstaf gebring. Hulle het moreel verval en ryk oligarge het die land en sy hulpbronne aan die Weste uitverkoop. Intussen kon, in weerwil van die afsprake [1], die ‘defensiewe’ ooswaartse NAVO-uitbreiding tot by Rusland se staatsgrense voortgaan. ‘Wêreldwye veiligheid’ het sinoniem geword met die veiligheid van die Weste en ‘n groot kloof tussen Rusland en die EU het ontstaan.
Onder president Poetin het Rusland ‘n ander koers ingeslaan; die oligarge was verban en uitwasse van die neoliberalisme was openlik afgekeur. In die 21ste eeu het hierdie tendens hom voortgesit: danksy ‘n kombinasie van antiliberalisme, nasionalisme en herleefde Oosters-Ortodokse Christendom herwin Rusland tans sy politieke en morele bestendigheid en versterk hy sy besonderse posisie t.o.v. die Westerse wêreldorde.
Die Russiese president Wladimir Poetin
| |
Daarnaas konstateer die EU-VSA-koalisie dat ook die ander Oos-Europese volkere nog nie liberaal genoeg dink nie: in wese is hulle ook nasionalisties en konserwatief-Christelik. Die Westerse leiers wou in Oos-Europa (insluitende Rusland) ‘n groot onontgonne land sien, ontvanklik vir ‘n nuwe, neoliberale veldtog. Net soos by die middeleeuse kruistogte is hierdie veldtog sowel ideologies as geopolities (ekonomies) gedrewe. Die inset is die vestiging van ‘n nuwe neoliberale samelewing in Oos-Europa en Rusland met as doel – dit keer telkens terug in neoliberale projekte – verdere globalisering.
Multinasionale maatskappye en oligarge is dikwels aanjaers van globalisering. Globalisering lei immers tot die vereenvoudiging van geldtransaksies, afskaffing van kommissies oor internasionale geldtransaksies en die totstandkoming van ‘n groot massa verbruikers en goedkoop arbeidskragte. As volkere (byvoorbeeld via popkultuur) heropgevoed kan word om ‘n massa met standaardbehoeftes te word, dan kan multinasionale maatskappye eenvoudiger beheer oor die wêreldmark kry. Hulle beheer dan immers die produksie van gestandaardiseerde middele waarvan die massa’s afhanklik gemaak is. Plaaslike ‘kompartimentalisering’ van kapitaal, produksie, mag en gesag staan in die pad van hierdie proses omdat dit die indiwidu weerstand verskaf en die afsetmark kompliseer. Dit sou derhalwe ideaal wees as die plaaslike kollektiewe soos die gesin, die clan, die boeregemeenskap, die volksgemeenskap, die geloofsgemeenskap en uiteindelik die nasiestaat uitgehol of opgehef sou kon word.
Die liberalisme is die polities-ideologiese wegbereider van hierdie proses. Die Weste het dan ook ‘n nuwe kruistog begin om die oostelike EU-burgers en die Russe her op te voed met die liberale hoofbeginsels: indiwidualisme as maat van alle dinge; vooruitgangsgeloof (dit gaan ál beter en vroeër was dit slegter as vandag); geloof in die Weste (Euro-Amerikaanse samelewings is die standaard vir menselikheid); sekularisme (religie mag geen invloed uitoefen op die maatskappy nie); loskoppeling van huwelik, seks en voortplanting (bv kinders kan netsowel buite gesinne grootgemaak word); prokapitalisme (vryemarkkapitalisme is die beste en ander ekonomiese stelsels moet hervorm of afgeskaf word); demokrasie, wat meer mag vir minderhede (immigrante, LGBT-gemeenskappe, ensovoorts) inhou.
“Die Weste het ‘n nuwe kruistog begin om die oostelike EU-burgers en die Russe her op te voed met die liberale hoofbeginsels.”
| |
Westerse regerings en multimiljardêrs pomp groot somme geld in talle NGO’s wat hierdie heropvoeding moet realiseer, soos die Amerikaanse neoliberale Freedom House, die National Endowment for Democracy [2], die CIA-organisasie Radio Free Europe, organisasies van George Soros en die Elie Wiesel Instituut. Meer spesifiek probeer hulle om hul teikengroep se geeste ryp te maak vir die ‘ope samelewing’ (d.i. toleransie, inklusiwiteit en immigrasie), multikulturalisme, problematisering van etniese volksoorlewerings en verskeidenheid.
Een van die intensiefste veldtogte (vir die aanvaarding van verskeidenheid) beoog ‘n herdefiniëring van die huwelik, die gesin en die geslagte. ‘n LGBT-organisasie soos Accept România ontvang honderdduisende dollars/euro’s van geldskieters soos die Europese Kommissie, die Europese Raad, die Phare Programme van die EU, die European Foundation for Youth, die Open Society Institute New York, die Open Society Institute Budapest, die Soros Foundation Romania, die Soros Foundation Moldova, die Planet Romeo Foundation, die Nederlandse ‘Trut Fonds’, die Nederlandse Ambassade, UNICEF, ensovoorts (heropvoeding is blykbaar van groot belang in ‘n land waar 99,8% van die bevolking godsdienstig is [3], dus met sterk familiewaardes).
Westerse ambassades in die oostelike EU is ook aktief betrokke by die implementering van die LGBT-agenda in hul gasheerlande. Byvoorbeeld, in Roemenië het die huidige Nederlandse ambassadrise verskeie kere gepleit vir die wettiging van die homohuwelik. Vroeër was sy ambassadeur in die konserwatief-Christelike land Kroasië, waar sy met dreiging van EU-sanksies die LGBT-agenda deurgevoer gekry het. Terselfdertyd het die Amerikaanse ambassadeur in Roemenië opgeroep tot ruimhartige ontvangs – en integrasie – van migrante vanuit Moslemlande.
Aan die Westerse bevolking word die neoliberale opdrag voorgestel as die ideële legitimering vir hierdie magsuitbreiding.
Nihilistiese inploffing
Die Westerse beskawing is magtig en as sulks probeer hy om andere te oorheers. Hy is egter liberaal, en dit is problematies, want as ‘n verskynsel van die moderniteit dra liberalisme die kiem van nihilisme. Dit beteken eers dat alles wat vir die mens samehang en betekenis vertoon (die kollektief, die verband tussen die transendente en die immanente, singewing, rolverdeling en tradisie) in die moderniteit uitmekaar getrek word. Vervolgens, so stel Danie Goosen in sy boek Die Nihilisme (2007), resulteer hierdie disintegrasie in ‘n postmoderne situasie waarin die geskeide, betekenisvolle onderdele nie meer dualisties teenoor mekaar staan nie, maar oor mekaar se grense skuif en implodeer. Dit is volgens Goosen die algehele ‘wêreldverlies’ waarmee die postmoderne Westerse mens van vandag te kampe het. Indien 'n beskawing sy samehang verloor, sal hy self inplof. Die Westerse ewe-eens.
Volgens die Russiese filosoof Aleksandr Dugin (of Alexander Doegin – Александр Дугин) gedra die liberalisme hom in hierdie proses dan ook as ‘n negatiewe filosofie vir die mens omdat dit altyd na vryheid van iets streef, en nie na vryheid vir iets nie. Dit roep mense hoofsaaklik op tot bestryding van wat as onvry beskou word. Een van die grondleggers van liberalisme, John Stuart Mill, was duidelik daaroor: liberalisme soek nie vryheid nie, maar bevryding. Bevryding van kollektiewe en alles wat die individu transendeer.
Maar op die ou end, nadat alle ‘onvrye’ verbande afgeskaf is, bly daar net die indiwidu oor totdat ook die indiwidu self uitmekaar getrek moet word om van sy eie ‘onvryheid’ verlos te word. Sulke vryheid word ondraaglik omdat dit tot ’n persoonlike inploffing lei: ‘n leë, ‘sub-indiwiduele’ toestand bly oor.
Volgens Dugin was liberalisme ontwerp vir ‘n spesifieke groepe mense (handelaars) in spesifieke dele van die wêreld (die Weste), maar het dit nou ‘n program vir die hele wêreld geword. Nadat fascisme en kommunisme – sy enigste vyande – verdwyn het, het liberalisme vanaf 1991 ge-ontideologiseerd geraak. Liberalisme het die realiteit virtueel gemaak, hom met die realiteit vermeng en was nie langer ‘n politieke ideologie nie. Vanweë sy eie sukses is dit nou heeltemal op sy eie, en begin dit inplof. Teneinde ‘n inhoud te vind, teiken die liberalisme nou die laaste nieliberale – dus nie-indiwidualistiese – verskynsels: seksisme, politieke inkorrekheid, geslagsongelykheid, die nasiestaat, die Kerk, ensovoorts. Vir sy voortbestaan as ‘n ideologie het liberalisme, as ‘n negatiewe ideologie, ‘n nuwe vyand nodig. Dit rig hom derhalwe nou buiten die EU via NGO’s, die massamedia en NAVO, op die grootste bolwerk van illiberalisme: Rusland.
“Liberalisme skep probleme wat nieliberale oplossings verg.”
| |
Ons sien dat die liberalisme sy bestaansrede weereens binne die konteks van ’n ideële kruistog gevind het. Maar vir hoe lank nog? Liberalisme skep namelik probleme wat nieliberale oplossings verg. Een van die probleme is die Moslemgeloof. Met sy 18,5 miljoen Islamitiese migrante in Wes-Europa het Islam die vorm aangeneem van ‘n nuwe, kommerwekkende, geestelike kruistog. In teenstelling met die liberale lesse probeer Islamiete om binne Wes-Europa mag te verwerf deur hulle op etnosentriese, kollektivistiese, religieuse en uitsluitende wyses te organiseer. Terselfdertyd is Wes-Europeërs veronderstel om hulleself nie-etnies, indiwidualisties, sekulêr en insluitend te gedra. Die liberalisme sou met behulp van Islam die Westerse beskawing in duie kon laat stort. Indien inheemse Wes-Europeërs egter nog voornemens is om hul samelewing en kultuur te behou, dan is hulle genoop om hulleself ook as ‘n kollektief – meer etnosentries en dus nie-liberaal – op te stel sodat hulle hul kultuur legitiem kan bevorder as die verkieslike kultuur.
Thomas Cole se "Vernietiging van die Ryk", deel van die 5-stuk skilderyreeks "Die verloop van die Ryk".
| |
Liberalisme skaf homself af as ‘n politieke ideologie omdat dit sy eie lewensonderhoud verbruik terwyl hy sy ‘wêreld’ afskaf. Onder sy eie invloed raak die preliberale oorblyfsels waarop dit as ‘objektiewe’ alternatief vir ‘subjektiewe’ kollektivisme kon groei, verbrokkel. Die sukses, en nie die mislukking van die liberalisme nie, is verantwoordelik vir die huidige situasie in die Weste wat gekenmerk word deur finansiële, demografiese, morele, spirituele en maatskaplike krisisse en gevolglik vertwyfeling, onbehae en woede onder indiwidue. Dit is denkbaar dat die liberale demokrasie weens sy eie sukses sal ingeruil word vir, eufemisties gestel, minder ‘insluitende’ en/of minder ‘objektief’ geleide politieke stelsels. Die opkoms van die populisme en nasionalisme in die Weste kan ‘n voorbode hiervan wees.
Weerstand vanuit die Weste
Die Westerse samelewinge word alreeds minder liberaal. Volgens die Amerikaanse teoloog Steve Turley streef sekulêre globalisme na hulle detradisionalisering en denasionalisering. Die laaste tyd het voortduring van globalistiese beleid egter juis gelei tot retradisionalisering en renasionalisering. Geloof en nasionalisme kry in die Weste gesamentlik ‘n hupstoot, want onder druk van immigrasie, sentralisering en liberale ‘wêreldverlies’ gryp mense terug na hul eie etniese gemeenskap, religie, nasionale simbole en vertroude gebruike. Mense soek weer eenheid en verbondenheid. Hulle stem vir Trump, PVV en Front National omdat hulle sekerheid soek wat die liberalisme nie kan bied nie.
Mense kies vir die terugkeer van grense en die nasiestaat as ‘n vreedsame oplossing vir die riskante gevolge van liberale denasionalisasie en massa-immigrasie. Hulle draai teen die EU en teen die oorlogsugtige anti-Russiese houding van liberale politici. Versoening met Rusland sal die EU verder uitmekaar laat val omdat die Russiese vyandbeeld gebruik was om dié tanende liberale magsblok ‘n bestaansrede te gee en sy interne eenheid te herstel. Die demokratiese nasiestaat se aantrekkingskrag is steeds voldoende om ‘n nasionalistiese ommekeer in Europa tot stand te bring. En in die renasionaliserings- en retradisionaliseringsproses begin die EU-bevolking geestelike ooreenkomste met die Russe vertoon. Hiermee sou die ideologiese kruistogte na die Ooste slegs ‘n deel van die verlede kon word.
Weerstand vanuit die Ooste
Oos-Europese lande soos Hongarye, Kroasië, Bulgarye, Pole, Slowakye en Serwië het nasionalistiese regerings wat hulle ál meer verset teen die EU-liberalisme. Oos-Europeërs besef dat die EU nie juis demokrasie en welvaart wil bring nie, maar dat dit sy mag oor hulle wil vergroot en dat dit selfs Moslems na hul Christelike lande bring. Die Hongaarse president Orbán se onlangse uitsprake is baie EU-krities en nasionalisties. Hulle is gerig teen EU-sentralisering, Moslemimmigrasie en die Westerse moraal, en hulle roep op tot die behoud van die Christelike identiteit van sy land. Orbán teiken die liberale kruistog van die Weste, wat dekadent is.
Hierdie reaksies was te verwagte. Volgens die historikus en politieke wetenskaplike, Hugh Seton-Watson, het Europa ou en jong nasiestate. Wes-Europese nasiestate is oud: Nederland, Frankryk, Spanje, Groot-Brittannje. Hulle was reeds eeuelank onafhanklik, liberaal en nie meer nasionalisties nie. Die nasiestate in die oostelike EU is jonk: hulle het ontstaan tussen 1848 en 1992 en is nasionalisties. Met hul lang onafhankelikheidstryd nog vars in die geheue sal hulle probeer om hul soewereiniteit te behou. Westerse nasiestate het ‘n fase van burgerlike staatsnasionalisme gehad, terwyl Oos-Europese nasiestate meestal ontstaan het uit romantiese volksnasionalisme.
“Westerse nasiestate het ‘n fase van burgerlike staatsnasionalisme gehad, terwyl Oos-Europese nasiestate meestal ontstaan het uit romantiese volksnasionalisme.”
| |
Hul mense het afstand geneem van die Westerse rasionalisme en krag gevind in die Kerk en die kloosters wat in tye van oorheersing (die Islamitiese Ottomaanse Ryk, die Katolieke Habsburgse Ryk, Die Kommunisme) ‘n reservoir vir spirituele ondersteuning en kulturele identiteit was. Verder het hulle die eie etniese groep en die boerelewe geloof. In die Balkan het nasionalistiese bewindhebbers die Slawiese Christelike boerekommune – die zadruga – se inheemse aangebore regsstelsels en demokrasie as model vir die staat bevorder. Hierdie nasionalisme was geïnspireer deur wat die historikus Keith Hitchins autochthonism noem, terwyl Westerse nasionalisme eerder liberaal, universalisties en ekspansief was.
In Rusland het die liberalisme nóg problematieser en marginaler gebly. Dit het in die negentiende eeu beperk gebly tot die aristokrasie en die hoogste klasse. Aristokrate het in ‘n luilekkerland gebly, hulle had lyfeienes, maar ook ‘n ‘groot gewete’. Om ‘n liberaal te wees was ‘n manier om beter oor hulself te voel. Die karakter Stepan Verkhovenski, in Dostojevski se roman Demone (The Possessed in Engels), is ‘n voorbeeld van so’n goedbedoelende, verwesterde aristokraat wat nie besef watter duiwelse kragte hy in sy oogappels ontketen deur hul slegs die vryheid van iets (dus bevryding en nie vryheid nie) te bied.
Die destyds vanuit die Weste in Rusland ingevoerde trits Vryheid, Gelykheid, Broederskap van die Franse Rewolusie was dan ook anders opgevat as in Wes-Europa. Vryheid was vir die Russies-Ortodokse mens vryheid vir iets; om te soek, om ‘n beter mens te word deur om in navolging van Christus te lewe en eenheid met God te bewerkstellig (theosis). Volgens Dugin is vryheid van te negatief vir die Rus. Dit is te afgrondelik, te leeg. Vryheid… Waarvoor? Slegs ‘n slaaf wil vry van iets wees. Gelykheid was al vanselfsprekend: onder God is almal gelyk. Maar elkeen ken sy eie rol, funksie en plek, soos man en vrou dit ken. Broederskap was opgevat als sobornost’: ‘n broederkapsgevoel wat (Russies-)Orthodokse Christene, as die liggaam van Christus, met mekaar het en waarbinne hulle saamwerk ten koste van indiwidualisme. Sobornost’ was die basis vir die mir: die Russiese variant van die bogenoemde Slawiese Christelike kommune van lyfeienes. Daar het hulle ‘n redelike mate van autarkie, besit en volksdemokrasie geniet. Eweas in die Balkan het die liberale ontbinding van hierdie boeregemeenskappe tot nuwe slawerny gelei: mense het lenings met woekerrente aangegaan, skulde gekry, was gedwing om die plot te verkoop en die geld het in die hande beland van enkele magtige, deur die staat beskermde instellings wat hierdeur nog meer mag oor die land sou verkry en mekaar bevoordeel het.
Die daaropvolgende kommunisme het die Russe nog verder van die liberalisme weggehou deur antiliberalisme, antikapitalisme en anti-indiwidualisme te preek. In teorie was die Sowjetunie internasionalisties, maar die politiek en die propaganda was duidelik nasionalisties.
Die liberale beleid van Jeltsin het die Russe weereens laat kennismaak met die liberalisme – en hulle daarvan genees. Tans vereenswelwig die Russe liberalizm met verval, armoede, prostitusie, sedeloosheid, bandeloosheid, oligarge, vernedering en diep nigilizm. Onder Poetin het Rusland sy eiewaarde teruggekry en is die Kerk maatgevend vir die land se nasionale moraal.
In die Weste loop kerke leeg. Hulle word boekwinkels of grand café’s: in Rusland is sedert 1991 20.000 kerke geopen en/of gebou. Dit is 3 per dag. Die kontras tussen die Weste en Rusland lê as globalisme versus nasionalisme, materialisme versus Christendom, die liberale orde versus tradisie, en VSA-oorheersing versus multipolariteit en ware verskeidenheid bloot.
Honderdduisende arbeidsmigrante van die oostelike EU, wat van die Weste terugkeer na hul vaderlande, is ook pynlik bewus van die beperkings en dekadensie van die welvarende Weste.
Hul eie lande wys soms op ‘n teenoorgestelde tendens: sedert 1989 was daar in Roemenië elke dag ‘n nuwe kerk gebou. Op die oomblik word daar vir 18 erkende denominasies 1578 kerke gebou.
“Inwoners van die Oostelike EU word ál meer bewus van die seëninge van geloof, gemeenskap en gesin ten spyte van die gebrek aan materiële welvaart.”
| |
In die Weste sien hulle kilheid, selfsugtigheid, los familiebande, uitmekaarvallende gesinne, Islamisering, kleiner wordende verskille tussen man en vrou, gebrek aan spiritualiteit, volksvertellings en etniese besef asook die volkome kommersialisasie van Kersfees, Pase – en van die lewe. Dit is vir hulle ongemaklik. Hierdeur word inwoners van die Oostelike EU ál meer bewus van die seëninge van geloof, gemeenskap en gesin ten spyte van die gebrek aan materiële welvaart.
Daar is dus 'n eeue oue kloof tussen die materialistiese Weste en die spirituele Ooste. Dit openbaar hom in verbrokkeling versus eenheid, onderling radikaal afwykende staatkundige en sielkundige ontstaansgeskiedenisse en gevolglik beskawingsverskille wat, by verdere opdringing van die Westerse liberalisme, die Oos-Europeërs sal inspireer tot meer weerstand.
Postliberale aftog
Net soos gedurende die middeleeue is die einddoel van die Westerse kruistog enkele magtige instellings se gesentraliseerde vergaring van wêreldse mag. As ons verby die liberalisme kyk, sien ons in die Ooste nie “preliberale” volkere nie, maar mense wat na eeue se vreemde oorheersing en vertikaal opgedronge ideologieë bymekaar gebly het. Ondanks alles, maar danksy hulle eeue oue geloof en tradisies het hulle hul wêreld en eenheid behou. Van oudsher af het hulle aardse magte, wat vir hulle sê wat om te dink of te doen, geïgnoreer.
Die liberale kruistog dien geen volkere nie, maar ‘n oligargie. Onbeheerbare en onbeheersde liberalisme het die Weste moreel, spiritueel en kultureel verswak. Die bevolking kom in opstand en maatskaplike instellings verloor geloofwaardigheid. As die kruisvaarders self hul lewenskrag aan die liberalisme verloor, is dit verstandig om dit teen ander samelewings se lewenskrag te ontplooi?
Pleks daarvan kan die Weste leer van hierdie samelewings; nie deur idees aan hulle op te dring nie, maar deur hul idees ter harte te neem. Hulle beskik nog oor veel volhoubare sosiale en kulturele weefsel: beproefde ‘sosiale kapitaal’ van groot nut vir ‘n toekoms waarin krisisse mekaar opvolg en saamval. Nou het die liberalisme die oostelike lande nog nodig om te kan oorleef, maar hierdie lande het nie die liberalisme nodig nie... en die Weste ook nie.
Voetnote
[1] Op 10 Februarie 1990 het die Duitse minister van Buitelandse Sake, Genscher, namens NAVO aan sy Sovjet-kollega Sjevardnadze toegesê dat NAVO hom nie ooswaarts sal uitbrei nie.
[2] Rusland het intussen die National Endowment for Democracy verbied.
[3] 86,5% van die Roemene is Oosters-Ortodoks, 4,6% Katoliek, 5,1% Protestants, 0,2% sonder religie. In ‘n liberale land soos Nederland is 67,8% sonder religie.
Hierdie artikel het verskyn in vol. 3, 2017, van die Suid-Afrikaanse tydskrif Rede. Rede is 'n blad vir Afrikaners en word uitgegee deur Epog; die uitgewery en navorsingsentrum van die Orania Beweging in Orania.
Op Die Roepstem geplaas op 23 Mei 2017.
|