Na Tuisblad / Naar Hoofdbladzijde  

 

 



Terug naar artikel Bezoek aan Zuid-Afrika in 2007

 

Beeld

Beeld-forum: 'Afrikanerwees is weer in die mode'
Aug 15 2007 06:07:12:343PM  - (SA)  

Jaap Steyn

Identiteit is weer ’n vraagstuk in baie lande.

“Europa in sy geheel bevind hom in ’n identiteits- en geloofs­krisis,” het ’n Nederlandse taalaktivis, mnr. Marcel Bas, op die Orania-beweging se konferensie oor identiteitspolitiek gesê.

Orals loop klein groepe die gevaar om te verdwyn in ’n groter nasie. Instellings vir behoud van identiteit kom onder druk.

In ’n Monitor-program hieroor het Cobus Bester ’n Stellenbosse professor aangehaal wat sê een van die bevrydendste aspekte van die Nuwe Suid-Afrika is dat mens jou Afrikanerskap kan aflê.

Die teenoorgestelde gebeur egter. Dit blyk uit die H.F. Verwoerd-gedenklesing deur prof. Piet Strauss, moderator van die NG sinode, die aand voor die konferensie.

Hy wys op “verrassende” bevindings in meningsopnames onder Afrikaanse jong mense. Dit is hul “openlike identifisering” met die Afrikaner. Daar is “ ’n nuwe golf Afrikanergeesdrif”. “Afrikanerwees is weer ‘in’. Dit is by baie jong Afrikaners nie ’n debatspunt nie, maar ’n gegewe.”

Dié soort geesdrif is ’n voorwaarde vir welslae in identiteitspolitiek. Minstens drie maniere is op die konferensie geopper vir die verdediging van Afrikaneridentiteit teen vyandige maghebbers.

Die eerste is die voortsetting van die taal- en kultuuraktivisme. Aksies soos hofsake oor skooltaalbeleid, petisies en optogte moet voortgaan. Die lesing van die Vlaamse parlementslid mnr. Johan Deckmyn impliseer aktivisme.

Marcel Bas maak melding van nog ’n soort aktivisme. In Nederland het die meeste politici, selfs van die heel linkse Socialistische Partij, besluit om ’n nasionale museum te bou en ’n nuwe nasionale geskiedenis te laat skryf “om ons jong mense trots en bewus te maak van hul nasionale identiteit”.

Die voorsitter van die FAK, prof. Danie Goosen, het ’n tweede wyse van verdediging genoem: Afrikaners behoort dit te oorweeg om “die beperkte maar geensins negeerbare moontlikhede” te ontgin wat art. 185 van die Grondwet skep, en hulleself in ’n federale raad van verteenwoordigers te beliggaam.

“Indien Afrikaners werklik daarin slaag om ’n raad tot stand te bring wat demokraties begrond en inklusief van aard is, kan dit hulle in staat stel om op gekoördineerde wyse strategiese inspraak in dinge soos veiligheid, die onderwys, die universiteitwese, die arbeidswese en internasionale betrekkinge te verwerf.”

Dit is dus ’n Afrikanerraad naas die aangekondigde Afrikaanse taalbelangeraad; art. 185 gaan immers oor die bevordering van die regte van taal-, godsdiens- én kultuurgemeenskappe.

Die derde soort verdediging is ’n uitvloeisel van die aard van die eenheidstaat. Die Britse sosiolinguis Peter Trudgill skryf dat ’n eenheidstaat die bestaan van verskillende taalidentiteite as onwenslik of gevaarlik beskou. Minderhede soek dikwels na alternatiewe.

Goosen het voorgestel dat Afrikaners instellings skep wat hulle “in staat” stel (’n woordspeling van Carel Boshoff IV) om op sinvoller wyse vir hulleself in te tree as tans. Daarmee “kan Afrikaners kompenseer vir die relatiewe verlies aan staatlike beliggaming waaronder hulle tans gebuk gaan”.

Dis versigtig gestel, maar hy sal ook aan Orania gedink het.

Sy kollega, mnr. Johann Rossouw, uitvoerende hoof van die FAK, het gesê: “As Orania daarin kan slaag om hom as ’n selfstandige klein gemeenskap, ’n stadstaat binne ’n groter staat, te midde van vele ander vorme van gemeenskapselfstandigheid te posisioneer, dan kan Orania dalk een van Suid-Afrika en die Afrikaners se moontlike toekomste beliggaam.”

Dis betekenisvol dat ’n hoofstroom-organisasie so tegemoetkomend staan teenoor die Orania-idee.

Drie bestanddele dus van ’n “resep” om ’n ruimte vir die Afrikaanse kultuur te behou en te skep: aktivisme, inspraak by die art. 185-kommissie en selfstandige gemeenskappe.

Robert E. Kaplan sê ’n effektiewe regering is een wat in staat is om verskillende kulture in vrede te laat saamleef en hul regte help beskerm. Anders verval hy in die kultuur van die massa en revolusie wat geen sin vir die geskiedenis het nie en bloot daarin slaag om deterministies die verlede in ’n erger graad te herhaal.

  • Prof. Jaap Steyn is ’n onafhanklike kommentator.
  •  

    Ontleen aan http://www.news24.com/Beeld/Opinie/Rubrieke/0,,3-2085-66_2165329,00.html



    Terug naar artikel Bezoek aan Zuid-Afrika in 2007