|
BoereSport 2004
Op besoek by die Afrikaanse Boere-Gemeenskap in Argentinië
|
|
Jerónimo Ignacio Pino Coviello is 'n Argentyn wat uit
belangstelling vir Afrikaans dié taal bemeester
het.
|
|
|
Die hartseer begindae van die
Boerekolonies
Aan die begin van die 20ste eeu (in die jare 1899-1905,
toe die Engelse Empire die Boere bitter onderdruk), kom die
Boeregemeenskap aan op Comodoro Rivavadia, op soek na vryheid (klik
hier vir meer
geskiedkundige en aktuele inligting). Comodoro Rivadavia is deesdae 'n
taamlike groot dorp aan die Atlantiese kus van Patagonia, Provincia
Chubut (Argentina). Toentertyd was dit 'n klein dorpie. Daar
moes die Boeresetlaars nog geruime tyd in tente bly. Dit was voordat die
Argentynse regering vir elke gesin verskillende stukke grond gegee het
(veral in die omgewing van die dorp Sarmiento), waarop die Boere hul huise
kon bou. Daardie huise was met klippe of barro (dit is slik of
modder - MRB) gebou. Hierdie gesinne het mekaar eerder as vriende beskou;
hulle het eintlik een groot 'familie' gevorm. Met 'n hartseer hart moes
hulle toe afskeid van mekaar neem, want elke gesin moes hom in sy eie nuwe
tuiste vestig, op verskillende ver weg plekke. In daardie dae was die
groot 'familie' geskeur, en kon hulle nie geweet het wanneer hulle mekaar
weer sou ontmoet nie. Maar ná 3 jare besluit hulle om ´n reuse-saamtrek te
organiseer, en so het die Boeresport uiteindelik begin! Daar het hulle
gekampeer, spele gedoen, aan sports deelgeneem; net soos hulle Argentynse
afstammelinge deesdae.
Die tradisie van
BoereSports word gehandhaaf
Dié eerste saamtrek was op Solano Baai gehou, maar net
een persoon van daardie mense wat beloof het om weer by sy mense aan te
sluit, kon ongelukkig nie die okkasie belewe nie, omdat hy oorlede was.
Egter, die vreugde wat hulle gevoel het was so intens; daar was mos vir
die eerste keer die moontlikheid om hul herinneringe en lewensstories te
deel met dié mense met wie hierdie avontuur op soek na die vryheid begin
het. |
Dis ekke, op pad Sierra Chaira
toe, in ´n 4x4 Land Rover met die Van der Merwes. Kyk die landskap; dit
lyk soos ´n woestyn, nè? Welkom in die Sentraal-Patagoniese gebied in
Argentinië!! (Foto: J.I. Pino Coviello)
|
|
Hulle was so
entoesiasties dat hulle dit 8 dae lank gevier het. Hulle het die
Suid-Afrikaanse danse baie geniet, asook die tradisionele geregte, terwyl
hulle verskeie sportkompetisies gedoen het.
Volgens tradisie steek
die jong meisies 'n kleurige lint aan die wenners van die kompetisie vas.
Daar was een geval waar die aanwesiges geskok was omdat 'n meisie van die
dorp 'n lint van haar onderklere afgetrek het en dit aan die wenner
vasgesteek het. Van daardie dae af het die BoereSports uitgegroei tot die
Boere-nasate se vernaamste sosiale bymekaarkomplek.
|
Op pad Staalberg toe
(Foto: J.I. Pino Coviello)
Tradisioneel begin dié fees jaarliks op die derde Vrydag
van Februarie. Van die toetse is tiro al blanco ('n tipe
skietwedstryd met teikens), perdereisies, en ook wedrenne met drie bene,
perdeysters, carretillas (kruiwaens - MRB), lepel-en-eier, ens.
Almal neem deel daaraan, van babatjies tot ouer mense; vrouens sowel as
mans. Op die end van die fees kry die wenners ´n prys.
Hier speel die Boere die bekende wedren met drie bene;
kyk hoe die mense met een van hul bene aan mekaar vasgebind is! (Foto: J.I. Pino Coviello)
Dertig jare lank was Pedro van Wyk die man wat vir die
buffet gesorg het op hierdie ontmoetings. Dié werk was betaal, so hy het
´n persentasie van die inkomste vir sy verdienste ontvang en die oorskiet
van daardie geld was bestem vir die koste wat hulle nog moes delg. Daarna
was die 'bolichero', soos die man agter die buffet genoem word, se taak
oorgedra aan Andrés Botha, wat nou al ses jare die gaste van drankies en
kos voorsien. |
Die regte plek vir die
regte fees
Deur die jare heen die het die ontmoetings op
verskillende plekke plaasgevind, soos op 'Bruc Oan' in Laguna 3
Botellas, 'Bella Vista' op Sierra Chaira 800 meter verwyder van
'Kosie' se huis en uiteindelik, sedert 55 jaar, kom die nedersetters
bymekaar op Sierra Chaira, op die familie Viviers se land.
|
Hierdie gemerkte hoefysters gooi hulle op ´n klein stuk
grond. Jy moet hulle so naby as moontlik aan 'n stok mik, en as jy die
hoefyster om die stok gegooi het, sal jy baie punte wen! (Foto: J.I. Pino Coviello) |
|
Hierdie land was
uitgekies omdat dit sentraal geleë is en omdat dit genoeg plek het om
perde- en hardloopkompetisies te doen. Die plek bestaan uit 'n vlakte van
800 meters groot. Die nedersetters is dikwels 'n hele jaar lank besig om
hulle diere af te rig en gereed te maak om die beste resultate te kry,
alhoewel hulle maar ´n klein prys vir al die moeite ontvang. Daar is mos
nooit genoeg geld nie. Gedurende die eerste jare van die Sport was
alkoholiese dranke verbode, en dobbelspele was ook ongewens.
|
Hier is ek besig om met my
teenstander perdeyster te speel (Foto: J.I. Pino Coviello)
|
Die BoereSports-skuur. Hulle hys drie vlae: (vlnr) die
Argentynse een, die nuwe Suid-Afrikaanse vlag en die ou Suid-Afrikaanse
vlag. Van dié laaste vlag word hier gesê dat hulle voorouers dit
saamgebring het (hierdie bewering berus egter op n geskiedkundige
onwaarheid omdat dié vlag eers in 1927 amptelik vasgestel, en op 31 Mei
1928 in gebruik gemeen was, terwyl Argentinië se Boere uit 1899-1905 stam
- MRB). (Foto: J.I. Pino Coviello)
|
|
Hierdie fees was altyd uitsluitlik 'n fees vir die
Suid-Afrikaanse families. 'n Rukkie later oorweeg die Boere egter dat
hulle hierdie fees moes oopstel vir almal. Dus die bymekaarkomplek was weer
eens verander, en hulle het dit naby Comodoro Rivadavia (die stedeliker
Boeredorp aan die kus) en ook na Sarmiento (die Boere-plattelandsdorp)
geskuif, sodat meer mense daaraan kon deelneem.
Maar party
nedersetters was bang dat die fees sodoende te populêr sou word en dat die
Suid-Afrikaanse tradisies verlore sou raak. Dit is die rede waarom hulle
uiteindelik besluit het om die Sports op Sierra Chaira te hou, ten spyte
daarvan dat dit ´n onherbergsame plek is met min water (daar is nie bome
daar nie, en die son skyn baie sterk).
|
Baie jare gelede, voordat hulle 'n skuur gebou het, was
daar 'n sterk storm, en terwyl die mense langs 'n baie diep sloot lê en
slaap om 'n bietjie skuiling teen die slegte weer te kry, besef hulle dat
hulle in die water dryf, omdat die sloot vol water was. Aanvanklik was
hulle so bly daaroor en op die eerste stadium het hulle het gedans op die
sopnat grond. Maar jare later messel meneer Gerardo de Lange uit 20.000
stene ´n groot, ronde muur met ´n dansvloer wat hulle teen die weer moes
beskerm. In die jaar 1973 het hulle in Rada Tilly die eerste skuur gekoop;
hulle het dit gedemonteer en Sierra Chaira toe gebring, en dit opnuut op
daardie plek gemonteer. Van dié oomblik af dans die Boere binne-in die
skuur. Die buffet is ook daar. 'n Mens kan daar koeldrank kry, asook
alkoholiese dranke en lekkers en soetgoed vir die kinders, terwyl die
mense rondom die skuur kampeer.
'n Nuwe uitdaging vir
die tradisie
Maar toe besluit die lede van 1990 se kommissie om op te
hou met hierdie tradisionele fees. Baie mense was nie so bly om hierdie
nuus te hoor nie. Daar was dan ook geen fees in 1990 nie. In die jaar 1991
dreig dieselfde om te gebeur, waarop ´n groep van nasate en vriende van
die Boeredorp Sarmiento af besluit om weer die Boeresport te organiseer,
ondanks die slegte ekonomiese toestand in daardie dae.
|
Perdereisies; die 800-meter spoedtoets. (Foto: J.I. Pino Coviello)
|
|
Die nuwe idees was
uitgewerk en georganiseer deur Roberto Cleland, Rebecka Dickanson de
Frances, Andrés Blackie, Juan Lubbe en Carlos Henning jr, met die hulp van
die SA Klub se vriende. Hulle het die uitdaging aanvaar om die fees te
reël met die bedoeling om hierdie geweldige tradisie te behou en te
bewaar. Dus, gedurende die dae 15, 16, en 17 Februarie 1991 word die
Sports weer op Sierra Chaira gevier, waaraan ´n aansienlike aantal persone
deelneem. Dit gaan so voort tot hede. |
Op daardie oomblik het hulle die vergadering gehou, met
die bedoeling om die Suid-Afrikaanse Klub se kommissie te vernuwe, maar
hierdie keer met ´n geskiedkundige feit vir die Suid-Afrikaanse
gemeenskap; vrouens het ook 'n beslissende stem in die vergaderings gekry
en hulle vorm ook ´n deel van die nuwe kommissie! |
'n Ander spel: jy moet oor ´n tou spring,
en die volgende keer wat jy spring is die tou hoër. (Foto: J.I. Pino Coviello) |
|
Hierdie nuwe Boeresport sou nie moontlik gewees het
sonder die hulp van Sarmiento se winkels nie - hulle het die pryse vir die
kompetisies gratis gegee. 'n Groot hulp was ook die mense wat met hul
motors die grondpad, wat Sarmiento met Sierra Chaira (146 km.) verbind,
gereed te maak. Van daardie jaar af word daar nie meer vir die buffetdiens
betaal nie, en met dié verdienste het hulle begin om die pryse te
koop. Almal was weer herenig om vasberade saam te werk met een
doel: om dit nie toe te laat dat dié fees ooit sal uitsterf nie!
|
Deesdae het die BoereSport behoue gebly danksy die wense van ´n
groep Boere-nedersetters se afstammelinge, wat - verenig in die
Suid-Afrikaanse Klub - hulle kulturele erfenis en tradisies deur die tyd
heen wil behou. Vir drie dae bly hulle in tente, net soos in daardie ou
dae toe hulle voorouers na hierdie onbewoonde Patagonië aangekom het.
Hulle maak soos hul ouers, oupas, oumas of oupa-grootjies en
ouma-grootjies: elke gesin is besig om sy eie kos te kook in die buitelug
en hulle deel die vreugde om weer mekaar te ontmoet. Hulle kies ook steeds
die Koningin (net soos 'n "Miss") van die Sport. Hierdie tradisie
noem hulle gewoonlik 'Sport'. Die fees is geskik vir die hele gesin, daar is nie
baie alkohol nie, en dis dus ´n heilsame ontmoeting.
Een aand was daar ´n sokkiejol met Afrikaanse
boeremusiek en ook egte Argentynse musiek. Ons het daar 'Sarie
Marais' en 'Tannie met die rooi rokkie' gesing, met baie ander
liedjies. (Foto: J.I. Pino Coviello)
Hulle moet ´n masjien saambring om water te delwe want
daar is niks water daar nie. Hulle doen rêrig ´n groot inspanning om
hierdie Sport te vier en bewaar want dit kos baie geld, maar hulle wil hul
kultuur bewaar. Hulle moes selfs die pad saam met die burgemeester van
Sarmiento klaarmaak. 'n Mens moet darem beter met ´n 4x4 soontoe gaan.
Meneer Daniel Botha, ´n
Afrikaanstalige Argentiniër, met sy egte braaivleis! Dis baie lekker
kos, daai! (Foto: J.I. Pino Coviello)
Vriende van die Boere, kom
kuier!
Ek was daar vanjaar (Februarie 2004). Daar het ek met die
Boere gesels - party van hulle praat mooi Afrikaans - en van dié lekker
samensyn het ek foto's geneem. Alle foto's op hierdie webbladsy het ek
toentertyd gemaak. Op die dansaande sing hulle liedjies soos "Tannie met
die rooi rokkie", "Sarie Marais" en ander ou boeremusiektreffers. Maar
hierdie fees is nie vir net enigiemand geskik nie. Net die mense wat nou
rêrig beplan om ´n Suid-Afrikaanse Boerefees te gaan vier sal dit geniet,
want Sierra Chaira lê in die gramadoelas, in die middel van die
Patagoniese woestyn. Tydens hierdie 'BoereSport 2004' was die weer baie
warm. Bedags was dit deurentyds 37ºC sodat die mense vir mekaar in
Afrikaans sê: "Die son brand!!", maar in die winter, word die Sierra
Chaira met sneeu bedek, en daal die temperatuur tot onder die vriespunt.
"Sierra Chaira" beteken in Afrikaans "Staalberg". Die naam kom van ´n Boer
wat op daardie plek ystererts gevind het.
Ons het almal in tente
gebly (Foto: J.I. Pino Coviello)
Die Boere daar is baie vriendelik en almal wat regtig
belangstel, is baie welkom om daar te wees!! Dit is een van die talle
voorbeelde van immigrantekolonies in Argentinië wat 'n groot verryking vir
ons land beteken. Tot siens by die Boere in Patagonië!
Welkom by die Boere in Argentinië /
Argentina! (Foto: J.I. Pino Coviello)
Die Roepstem, Voorschoten, Nederland: Kopiereg 2004
Geskryf deur Jerónimo Ignacio Pino Coviello, in
Argentinië.
Redigeer deur Marcel Bas.
Vir meer inligting
oor die geskiedenis, totstandkoming, samestelling en hede van hierdie
merkwaardige Boeregemeenskap, kuier gerus by ons ander webbladsy 'Die trotse
honderdjarige gemeenskap van Afrikaners in Argentinië (1902-2002)'.
(Klik asb. op hierdie blou reël)
Hierdie verslag is geskryf in Februarie 2004 en gepubliseer
op Saterdag 10 April
2004.
|
|
|